Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Ekspat-taks boemerang – baie emigreer

Die ekspat-belasting het op die regering geboemerang selfs nog voordat dit in werking gestel is.

Suid-Afrikaners emigreer eerder as om plaaslik belasting te betaal op geld wat oorsee verdien word, sê kenners. Foto: Unsplash

Jonty Leon en Jean du Toit, advokate van Tax Consulting SA, sê dit was die laaste strooi wat honderde mense wat oorsee werk, oorreed het om finaal te emigreer.

Sharon Machutchon, ’n belastingkonsultant by Mazars, beaam daar was ’n “vlaag” mense wat in die buiteland werk wat wou emigreer voor 1 Maart.

Die belasting – wat op 1 Maart van krag word – beteken dat Suid-Afrikaners voortaan inkomstebelasting moet betaal teen die koers wat hulle plaaslik sou betaal het.

Indien hulle in ’n land werk waar buitelanders geen belasting betaal nie of teen ’n laer koers as plaaslik, word hul salaris hier aangeslaan vir die verskil tussen wat oorsee betaal word en wat hulle plaaslik sou betaal.

Aanvanklik sou die eerste R1 miljoen per jaar vrygestel wees, maar dit is in Woensdag se begrotingsrede tot R1,25 miljoen verhoog.

“Op elke punt, van die voorstel van die wysiging tot die promulgering daarvan as wet, en daarna by verskeie slypskole met die tesourie, het belanghebbendes met die regering gepleit en in geen onsekere terme nie gewaarsku dat die inwerkingstelling daarvan tot ’n versnelde opskorting van belasting-verblyfstatus sal lei.”

Leon en Du Toit sê die regering se houding dat mense dan maar moet emigreer, is “kortsigtig en het teruggekom om by die regering te spook”.

Hulle sê die verhoging van die vrystelling tot R1,25 miljoen is “natuurlik welkom, maar ’n bietjie laat”. Dis ’n “desperate poging” om mense van plan te laat verander oor emigrasie.

“Die verhoging sal ongelukkig net ’n klein groepie Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, help. Vir die res is dit net ’n wortel wat voor hulle geswaai word om hulle binne die Suid-Afrikaanse belastingnet te hou.”

Mense wat in die buiteland werk, het in voorleggings gesê die groot probleem is byvoordele soos verblyf, waarvan die waarde baie gou die vrystelling opslurp. Dit beteken dat mense se hele salaris belas sal word. Daar is ook verwys na hoë lewenskoste in baie lande wat nié deur die voorgestelde belasting in ag geneem is nie.

Leon en Du Toit sê dis uit die begrotingsrede duidelik dat die regering “die verlies aan inkomste, en potensiële toekomstige verlies aan inkomste”, van mense wat emigreer aan sy bas voel.

Dis dan ook waarom sekere formaliteite oor valutabeheer verwyder gaan word. Dit sal op 1 Maart 2021 van krag word. Volgens die begrotingsoorsig is die bedoeling om mense wat oorsee werk, meer buigsaamheid te gee om geld heen en weer oor te dra, “mits die geld legitiem verdien is en die individu in goeie stand met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is”.

Leon en Du Toit sê omdat geen besonderhede verskaf word nie, is daar nou 12 maande van onsekerheid daaroor.

Machutchon verwelkom die voorgestelde verslapping van valutabeheer “en ons sien daarna uit dat meer besonderhede oor die veranderinge gepubliseer word”.“Suid-Afrikaners wat groot bedrae geld landuit wil vat, moet seker maak hul belastingsake is in orde voordat hulle met die proses begin.”

‘Finansiële emigrasie’ ’n mite

Die begrotingsoorsig waarsku egter ook dat mense wat geld oorsee skuif asof hulle emigreer, maar steeds in die land woon, vasgevat sal word.

Baie mense verwys daarna as “finansiële emigrasie”, maar bates mag slegs oorsee geneem word as mens self ook emigreer. Die begrotingsrede sê daar gaan weggedoen word met die begrip “emigrasie” en mense se belastingstatus sal bepaal word “deur te toets waar iemand gewoonlik woon en fisiek teenwoordig is.”

Die begrotingsrede waarsku dat mense nie meer geld oorsee kan “wegsteek” nie omdat al hoe meer belastingowerhede outomaties inligting oor individue se bankrekeninge en beleggings deel.

Teen 25 April 2019 het Suid-Afrika inligting met 105 lande gedeel, sê Machutchon. Dit sluit tipiese bestemmings vir oorsese bankrekeninge soos Mauritius en Panama in, asook die Verenigde Arabiese Emirate, waar baie Suid-Afrikaners werk en geen belasting betaal nie.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het Woensdag op die nuuskonferensie voor die begrotingsrede gesê data word al hoe meer ingespan om op te tel wanneer belastingbetalers nie alle inligting aan die SAID openbaar maak nie.

Leon en Du Toit waarsku dat mense eerlik moet wees: “Die eenvoudige waarheid bly dat belastingbetalers moet aanvaar enige bankrekening in hul naam sal uiteindelik aan die SAID bekend word.”

Behou bande

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy begrotingsrede gesê: “Ons wil alle Suid-Afrikaners oorsee aanmoedig om hul bande met die land te behou.”

Leon en Du Toit is skepties oor dié versoek omdat dit net ’n poging is om belastingbetalers te behou “terwyl die bestraffende ekspat-belasting steeds verdedig word”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.