SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Begroting
Ekstra taks oorweeg om gat te vul
belasting

Die staat verwag om in die lopende boekjaar tot einde Maart R53 miljard minder inkomste in te samel as waarvoor begroot is en “bykomende belastingmaatreëls” word oorweeg.

Tito Mboweni, minister van finansies, sê dit is 4% minder as die begrote inkomste.

Dié bedrag is deur baie ekonome verwag, maar hulle het waarskynlik nie die reusebedrae waarmee die inkomste in die daaropvolgende twee boekjare aangepas is, sien kom nie.

Die teiken vir die daaropvolgende twee boekjare is met reusebedrae verlaag – onderskeidelik R84 miljard en R114,7 miljard.

Die inkomste-tekort gaan deels aangepak word deur staatsdepartemente se begrotings te besnoei en die groei in staatsbesteding in die 2023-boekjaar te verlangsaam.

“Dié stappe is egter op hul eie onvoldoende.”

Bykomende maatreëls is nodig, waaronder ekstra belasting en die staat se salarisrekening.

Hierdie bykomende maatreëls sal in die 2020-begrotingsrede aangekondig word, sê Mboweni.

Hy wou op ’n mediakonferensie oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) nie hieroor uitwei nie.

“Die wesenlike belastingverhogings oor die afgelope jare het net ’n matige bydrae gelewer om belastinginkomste te verhoog. Gegewe die omvang van wat nodig is, word bykomende belastingmaatreëls oorweeg,” sê die tesourie in kommentaar wat saam met die MTBR uitgedeel is.

Die redes vir die R52,5 miljard-tekort aan inkomste in die lopende boekjaar sluit in:

  • Werkverliese, laer loonverhogings en kleiner bonusse wat die invordering van die begrote persoonlike-inkomstebelasting benadeel het. Die begroting was vir R552,9 miljard en dit is nou met R25,3 miljard afwaarts aangepas.
  • Die swak winsgewendheid van maatskappye in moeilike handelstoestande het laer as verwagte invordering van maatskappybelasting tot gevolg gehad. Dit word van die begrote R229,6 miljard met R10,6 miljard afwaarts aangepas.
  • Swak besteding deur huishoudings wat die verwagte groter BTW-inkomste teengewerk het. Die R360,5 miljard waarvoor begroot is, word met R12,1 miljard afwaarts aangepas.

Daar is reeds in die boekjaar tot einde Maart vanjaar R57,3 miljard minder ingevorder as waarvoor daar in die Februarie 2018-begroting begroot is. Dié syfer is in die Februarie 2019-begroting aangepas, maar dit was steeds R14,5 miljard minder as waarvoor tóé begroot is.

Volgens Mboweni is die vooruitskatting vir inkomstegroei voortaan “versigtig”.

Die verwagte inkomste oor die volgende drie boekjare is soos volg aangepas (die bedrag wat in die Februarie 2019-begroting voorspel is, word in hakies gegee):

  • 2020: R1 370 miljoen (R1 422,2 miljard);
  • 2021: R1 460,9 miljard (R1 544,9 miljard); en
  • 2022: R1 555,7 miljard (R1 670,4 miljard).

In die derde boekjaar van die MTBR word verwag om R1 658,2 miljard se inkomste in te samel.

Die Suid-Afrikaanse inkomstediens kort meer geld.

Meer vir SAID

“Ekonomiese groei is nie al wat gaan help om die begroting te laat klop nie. Ons benodig ook ’n inkomstediens wat goed funksioneer en doeltreffend is.

“Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is besig om uit sy eie winterslaap te ontwaak.”

Volgens Mboweni gaan die SAID deur die herprioritisering van staatsbesteding ’n bykomende R1 miljard oor die komende twee jaar kry.

(Die Nasionale Vervolgingsgesag kry R1,3 miljard ekstra.)

“Hierdie verskuiwing van besteding sal help om korrupsie te bekamp en die invordering van belasting te verbeter.”

Hy het daarna verwys dat die kabinet goedkeuring gegee het dat die bevindinge van die Nugent-kommissie van ondersoek na die SAID in werking gestel word.

’n Wetsontwerp hieroor gaan vroeg volgende jaar ter tafel gelê word. ’n Besprekingsdokument sal ook deur nasionale tesourie uitgereik word met voorstelle om belastingadministrasie te verbeter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.