Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Enorme salarisrekening ‘Muthambi se skuld’
Faith Muthambi.

Die skuld vir die staatsdiens se salarisrekening wat te skerp styg, het Tito Mboweni, minister van finansies, vierkant op die skouers van Faith Muthambi, vorige minister van staatsdiens en administrasie, geplaas.

Mboweni het Donderdag in sy voorlegging oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk aan ’n gesamentlike vergadering van parlementêre finansies-komitees herhaal dat Muthambi buite haar mandaat opgetree het toe sy vroeër ooreenkomste oor salarisverhogings met vakbonde in die staatsdiens goedgekeur het.

“Of Faith Muthambi daarvan hou of nie, sy is deel van dié probleem,” sê Mboweni.

Muthambi het Donderdag egter in ’n verklaring ontken sy is die skuldige en dat die loonooreenkoms met staatsdienswerkers in 2018 gesluit is ná haar termyn as minister.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van finansies, sê daar is nog heelwat besparings wat behaal kan word in die staatsdiens waar vermorsing plaasvind. Nuwe riglyne vir verkrygings gaan opgestel word en al teen 1 Desember in werking gestel word, sê hy.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het gevra hoekom die regering nou lenings aan Eskom wil gee en of dit nie bloot kreatiewe rekeningkunde is nie.

Steve Swart van die ACDP en Wouter Wessels van die VF Plus wou weet of die tesourie met die kredietgraderingsagentskap Moody’s geskakel het rakende sy graderingsbesluit wat Vrydag verwag word.

Swart sê in 2015 het die regering al ’n lening van R60 miljard aan Eskom in ekwiteit omgeskakel. Hy vra of dieselfde nie weer gaan gebeur met die nuwe sogenaamde lenings aan Eskom nie.

Floyd Shivambu van die EFF het uitdruklik gesê die inwoners van Gauteng gaan nié e-tol betaal nie, maak nie saak wat die regering besluit nie. Dit is ’n vorm van protes.

Shivambu dink ook Soweto se skuld aan Eskom behoort bloot afgeskryf te word, want dit sal nooit ingevorder kan word nie.

Yunus Carrim, voorsitter van die komitee oor finansies in die Nasionale Raad van Provinsies, het verwys na die tesourie se swak vooruitskattings vir die ekonomie. Jaar ná jaar word dieselfde vrae gevra oor teikens wat misgeloop word en die onwettige vloei van geld uit die land.

“Ons vra al vier jaar lank vir ’n interministeriële taakspan oor onwettige geldvloei. Waar is dit?”

Op vrae oor die staat se hoë skuldvlakke sê Mboweni skuld is ’n baie slegte ding en dit sal toekomstige geslagte seermaak as dit nie bestuur en verminder word nie. Al manier om dit te hanteer is om besteding te sny en inkomste te verhoog deur die ekonomie te laat groei.

‘Ons sal bates verkoop’

Voorbeelde van waar daar nog gesny kan word, is diplomatieke dienste oorsee. Die departement van korrektiewe dienste het groot plase wat nie produktief benut word nie en daar is talle niekernbates in die hande van die staat wat verkoop kan word. Daar is so baie daarvan dat daar ’n gevaar is dat dit kan verdwyn, sê Mboweni.

Daar is geen logika om SA Express met SA Airlink te laat meeding wanneer die SAL ’n belang in SA Airlink besit nie.

“Ons glo SA Express kan gesluit word of by SA Airlink gevoeg word.”

’n Hele spaar-enjin het weggeraak by SAL Tegnies, het Mboweni by die SAL se uitvoerende hoof verneem, het hy Donderdag vertel.

“Hoe gebeur so iets? Dit is ’n groot ding. Dis soos iets uit die rolprente!”

Skuif Pretoria toe

Videokonferensies kan help om vlugkoste vir staatsamptenare tussen Pretoria en Kaapstad te sny, maar die parlement en die regering moet saamstem om een hoofstad te hê, en dit maak sin dat dit Pretoria is, het Mboweni geantwoord op ’n vraag oor hoekom videogeriewe nie ingerig word nie.

Maar daar word al sedert 1994 hieroor gepraat en Mboweni verwag dié probleem sal nie gou opgelos word nie.

Moody’s

“Die kredietgraderingsagentskappe is ons vriende én ons pynigers. Fitch is baie vies vir ons en dat ons nie genoeg doen nie. Moody’s besluit môre. Die tesourieamptenare is gedurig in kontak met hulle.”

E-tol

Die Gautengse snelwegverbeteringsprojek is daarop gemik om die paaie in Gauteng te verbeter en om verkeersknope te verlig. Die belegging daarin moet egter ’n opbrengs toon, sê Mboweni oor die histerie rakende e-tol.

Die kultuur van betaling moet terugkeer na huishoudings en gemeenskappe.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Faith Muthambi  |  Staatsdiens  |  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Skuld  |  Salarisse  |  Staatsbesteding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.