Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Eskom: ‘Tito moenie wegskram van moeilike keuses’

Dis tyd vir moeilike keuses om Eskom se las op die staatskas te verlig, sê die uitvoerende hoofde van Suid-Afrika se grootste maatskappye.

staatsondernemings

Die CEO Initiative sê Tito Mboweni, minister van finansies, moet die regering Woensdag in sy begrotingsrede ’n omvattende omkeerplan vir die kragverskaffer aankondig.

“Dis ’n tragedie dat Eskom die grootste risiko vir die nasionale fiskale posisie is, en inderdaad vir ons vermoë om beleggings te lok en die ekonomiese groei te behaal wat ons nodig het om ons fiskale en maatskaplik-ekonomiese uitdagings te takel.

“Om ’n toekoms te behaal waarin ons sowel ’n lewensvatbare as ’n bekostigbare energiemengsel vir die land het en ’n struktuur van staatsondernemings wat positief tot die groei en vooruitgang van ons land bydra, sal vereis dat die regering ongewilde keuses maak.

“Ons glo die regering weet wat hulle is, en ons doen ’n beroep op hulle om vasbeslote in die uitvoering van dié keuses te wees.”

Die CEO Inititiative sê ook Mboweni moet Woensdag oop kaarte speel oor die regering se fiskale posisie – insluitende oor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se vermoë om belasting in te vorder.

Daarby moet strenger maatreëls aangekondig word om die land se begrotingstekort te verminder, veral planne om die staat se salarisrekening te verminder en remme aan te slaan met die stygende staatswaarborge vir staatsondernemings, wat benewens Eskom die Suid-Afrikaanse Lugdiens insluit.

Die CEO Initiative sê vanjaar se begrotingsrede is ’n “belangrike geleentheid om geloofwaardige en tasbare maatreëls voor te lê” om Suid-Afrika in ’n meer beleggingsvriendelike, groeiende ekonomie te verander.

Die fokus moet egter wees op “uitvoering” eerder as op edele idees, sê die organisasie, wat ’n paar jaar gelede juis op die been gebring is om uitdagings soos werkloosheid en ekonomiese ontwikkeling in samewerking met die regering en vakbonde te takel.

Die organisasie sê hy ondersteun pres. Cyril Ramaphosa se “sigbare verbintenis” daartoe om die land se groeipotensiaal te ontsluit, asook die stryd om staatskaping uit te wis.

Beloftes om die land meer beleggingsvriendelik te maak, moet egter nou neerslag vind in die vermindering van versperrings vir sake doen – insluitende beleid, wetgewing, regulasies en rompslomp.

Ook op die CEO Inititative se wenslysie is inligting oor hoe die onderwysstelsel verbeter gaan word, veral vroeë kinderontwikkeling, en hoe dié verbeteringe gefinansier gaan word.

Die nasionale vervolgingsgesag het ook meer geld nodig sodat mense wat by staatskaping betrek word, “vinnig verantwoordbaar gehou word, aangesien dit ’n grondliggende element in die herbou van openbare vertroue is”.

Die CEO Initiative sê die begrotingsrede is baie belangrik om ’n afgradering deur Moody’s Investors Service te voorkom omdat dit die rand sal laat verswak en die hele ekonomie skade sal berokken.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.