Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Fitch hou omkeerplan by Eskom fyn dop
Melkbosstrand North of Cape Town South Africa Powe
Kredietgradeerders hou fyn dop wat by Eskom gebeur. Foto: Getty Images

Fitch Ratings het Donderdagaand laat gewaarsku dat Suid-Afrika dalk verder afgegradeer gaan word.

Fitch gradeer staatskuld reeds op rommelstatus, oftewel een vlak onder beleggingsgraad.

Die kredietgradeerder reken die pas aangekondigde staatsteun aan Eskom het net ’n “beperkte uitwerking” op die fiskale profiel. Die tesourie gaan oor die volgende tien jaar R230 miljard aan Eskom toewys – R23 miljard daarvan vanjaar, is Woensdag in die begrotingsoorsig aangekondig.

“Pogings om die uitwerking daarvan op die begrotingstekort teen te werk deur belasting (onregstreeks deur belastingkerwe onveranderd te hou) te verhoog en besteding aan salarisse te verminder – drie maande voor ’n parlementêre verkiesing – wys die regering se verbintenis tot fiskale volhoubaarheid,” sê Jan Friedrich, senior direkteur vir soewereine graderings by Fitch, in ’n verklaring.

Desondanks sê hy die geprojekteerde styging in staatskuld oor die volgende paar jaar “plaas afwaartse druk” op die land se kredietgradering.

“Die regering het beklemtoon die finansiële steun is op voorwaarde van herstrukturering, maar die broosheid van Eskom se opwekkingsvermoë, soos bewys deur onlangse kragonderbrekings, die sterk teenstand van vakbonde teen sleutelelemente van die herstruktureringsplan, en die land se afhanklikheid van Eskom vir kragopwekking beteken die regering sal Eskom waarskynlik ondersteun, selfs indien herstrukturering nie soos beplan voortgaan nie,” sê Friedrich.

Nietemin, as ’n omkeerplan nie in werking gestel word om die jaarlikse verliese by Eskom te stuit en die toekomstige styging van staatswaarborge te beperk nie, sal die afwaartse druk toeneem op die soewereine graderings.
Jan Friedrich

Fitch het ’n stabiele vooruitsig op staatskuld. Die gradering het reeds die risiko’s wat Eskom en ander staatsondernemings vir die staatskas skep, in ag geneem, sê Friedrich.

“Nietemin, as ’n omkeerplan nie in werking gestel word om die jaarlikse verliese by Eskom te stuit en die toekomstige styging van staatswaarborge te beperk nie, sal die afwaartse druk toeneem op die soewereine graderings.”

Friederich sê die styging in die bestedingsplafon met R14 miljard vir vanjaar, en dan nog R1 miljard elk in die twee jaar daarop, “is ’n beduidende bres van die bestedingsplafonne wat sedert hul bekendstelling in 2012 ’n belangrike anker vir fiskale beleid was”.

Hy is skepties of die staat sy salarisrekening genoeg sal kan snoei, ondanks die plan om vrywillige aftreepakkette aan ouer staatsamptenare te bied.

“In 2018 het vakbonde betreklik hoë stygings in die (driejarige) loonooreenkoms bereik, wat impliseer dat druk op besteding hoog sal bly.”

Hy spreek ook kommer uit oor die “magtige vakbonde en sterk maatskaplike druk”, wat die regering noop om sekere uitgawes te prioritiseer.

“Die evolusie van fiskale beleid in die aanloop tot die algemene verkiesing in Mei en daarna, sal ’n belangrike element van ons graderingsbesluit bly.

“Die graderings word deur sterk instellings, ’n gunstige staatskuldstruktuur, diep plaaslike kapitaalmarkte en ’n gesonde banksektor ondersteun.”

Meer oor:  Fitch  |  Eskom  |  Rommelstatus  |  Ekonomie  |  Kragvoorsiening  |  Staatskuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.