Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Fitch maan ook oor afgradering

Fitch Ratings is, soos Moody’s, skepties oor die regering se voorneme om binne vier jaar die staat se skuldvlakke te stabiliseer.

Fitch Ratings is ook nou negatief oor Suid-Afrika se finansiële toekoms.

Fitch sê “dis onwaarskynlik” dat dit bereik gaan word.

Die graderingsagentskap dreig met ’n verdere afgradering as die regering nie vorendag kom met ’n duideliker plan om staatskuld te stabiliseer nie.

Jan Friederich, senior direkteur vir die Midde-Ooste en Afrika, sê in ’n verklaring dit weerspieël sy siening oor die “volgehou uitdagings wat die land ervaar om uitgawes te verminder, groei te bevorder en die staat se finansies te beskerm teen sukkelende staatsondernemings asook die impak van die koronavirus-pandemie”.

Friederich sê Woensdag se “noodbegroting” het die vooruitskatting oor die begrotingstekort meer as verdubbel, van 6,8% wat in Februarie voorspel is tot 15,7% van die bruto binnelandse produk (BBP) in die huidige boekjaar.

“Die belangrikste oorsaak is ’n skerp daling in belastinginkomste as gevolg van die ekonomiese probleme wat uit die nasionale inperking voortspruit en ’n mate van belastingverligting.”

Die regering begroot vir ’n inkomste wat R300 miljard, 6% van die BBP, laer is as wat voorheen verwag is.

“Ons beskou die regering se vooruitskatting van die leningskuld wat tot 81,8% van BBP gaan styg tot einde Maart 2021 as realisties.

“Maar ons glo die verwagting dat die skuld einde Maart 2024 op 87,4% ’n draaipunt gaan bereik, is optimisties.

LEES OOK: Moody’s het nie hoop vir ‘seekoei se bek’

“Dit sal vereis dat wesenlike fiskale konsolidasie moet plaasvind om ’n primêre begrotingsurplus in daardie jaar te bereik, wat Suid-Afrika se eerste sedert 2008 gaan wees.”

Die regering beoog om besteding met R230 miljard in die boekjare tot einde Maart 2022 en 2023 te sny en dan addisionele besnoeiing in werking te stel, en dat dit aangevul sal word met klein verhogings in belasting. Die detail sal in Oktober met die mediumtermynbegroting uitgereik word.

Volgens hom lyk die vooruitskattings oor inkomste in die huidige boekjaar konserwatief en dit is moontlik dat dit hoër kan wees. “Maar Fitch glo die beplande besnoeiing aan uitgawes is ambisieus, onder meer omdat dit die ekonomiese herstel wesenlik gaan verswak.

“Maatskaplike en politieke faktore, waaronder buitengewoon hoë ongelykheid, sterk vakbonde en diep verdeeldheid in die ANC, bied beduidende hindernisse vir die besnoeiing van uitgawes.”

Hy verwys daarna dat die regering steeds nie ’n ooreenkoms kon bereik met die vakbonde van die openbare sektor oor besparing aan die salarisrekening wat in Februarie se begroting ingesluit is nie.

’n Omvattende aanpassing aan die groot salarisrekening van die staat sal dalk nie moontlik wees tot die huidige driejaarooreenkoms in April 2021 verval nie, en onderhandelinge gaan moeilik wees, meen hy.

“Die belangrike hervormings by Eskom om die ekonomie te ondersteun en die las op die staatskas te verminder en betreklike klein maatreëls om BBP-groei te versnel, het wesenlike politieke teenkanting gekry.”

Hy meen die probleme om die Suid-Afrikaanse Lugdiens te herstruktureer, is wel klein vanuit ’n makro-ekonomiese oogpunt, maar dit toon hoe moeilik dit is om druk op die begroting op te los wat deur sukkelende staatsondernemings veroorsaak word.

Friederich sê Fitch het Suid-Afrika op 3 April juis afgegradeer weens die gebrek aan ’n duidelike plan om staatskuld te stabiliseer, asook weens die verwagte impak van die pandemie op die staat se finansies en ekonomiese groei.

Die vooruitsig op die gradering is negatief.

“’n Voortgesette styging in staatskuld in verhouding tot die BBP en versuim om ’n duidelike en geloofwaardige roete te formuleer ná die stabilisering van dié verhouding kan tot ’n negatiewe graderingsaksie lei,” maan hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.