Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Só is staking in staatsdiens afgeweer

’n Staking in die staatsdiens is afgeweer nadat ’n meerderheid vakbonde ingestem het tot die staat se aanbod van ’n verhoging van 1,5% vir die jaar.

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie. Foto: Rosetta Msimango

Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, sê Dinsdag in ’n verklaring dit was die moeilikste onderhandelinge tot nog toe.

Hy moes tot elke prys ’n staking afweer te midde van die staat van inperking, asook die Covid-19-pandemie self. Daarby moes hy Tito Mboweni, minister van finansies, se begroting laat klop met ’n baie klein verhoging aan amptenare wat verlede jaar ook nie ’n salarisverhoging in 2020 gehad het nie.

Mboweni het reeds in Februarie se begrotingsrede gesê die salarisverhogings van die staatsdiens is die sleutel tot die ganse begroting.

Mchunu sê die nodige meerderheid vakbonde het Maandag amptelik ingestem tot die aanbod van 1,5% en ’n kontantbetaling van tussen R1 200 en R1 600 per maand tot en met 31 Maart 2022.

Die vakbonde wat ingestem het, is die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadtu), die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van Suid-Afrika (Naptosa), die vakbond vir gesondheids- en ander dienspersoneel van Suid-Afrika (Hospersa) en die Demokratiese Verpleegorganisasie van Suid-Afrika (Denosa).

Die kern van die sukses van dié aanbod was egter die toegewing van die staat om die kontantbetaling “onbepaald” te laat voortduur as ’n nuwe ooreenkoms oor die volgende boekjaar se salarisverhogings nie volgende jaar bereik kan word nie.

Kenners het al op verskeie geleenthede uitgewys dat die staat met vuur speel deur die kontantbetaling aan te bied omdat dit so moeilik sal wees om te staak.

Maar Mchunu is verheug. Sy werk is vir eers klaar.

“Jul opofferings tydens hierdie onderhandelinge het nie ongesiens verbygegaan nie: Laat ure, min slaap en verhoogde werkladings is maar net iets wat julle moes verduur,” sê Mchunu.

“Dankie vir jul leierskap, dankie dat julle onderhandel het met die belange van staatsamptenare en die mense van die land in gedagte. In ons voorbereiding vir die pad vorentoe moet ons as patriotiese burgers vergader en nie as teenstanders nie.”

Meer oor:  Staatsamptenare  |  Salarisse  |  Begroting2021  |  Begrotingsrede  |  Begroting  |  Tesourie  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.