Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
‘G’n tyd vir paniek, maar staat doen te min’

Dis nie nou die tyd om paniek te saai en bestaande paniek te vererger nie, maar eerder ’n tyd vir sterk en versorgende leierskap van regeringskant af, volgens die parlementêre begrotingskantoor (PBO).

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die PBO het Dinsdag ’n gesamentlike vergadering van die parlement se staande en gekose komitees oor finansies toegespreek oor die aangepaste fiskale raamwerk wat Tito Mboweni, minister van finansies, verlede week in sy aanvullende begroting aangekondig het.

Hongersnood, werkloosheid, dalende belegging en ander sosio-ekonomiese verliese sal toeneem en daar is nog baie onsekerheid onder mense, het amptenare van die PBO gesê.

Maar die regering kan dien as anker in dié moeilike en onseker tye, en die besluite wat hy nou neem, sal belangrik wees om herstel moontlik te maak. “Ons sal moet aanvaar dat die begrotingstekort en die skuld-tot-BBP-verhouding sal toeneem en ’n hele paar jaar hoog sal bly,” het amptenare gewaarsku.

Die PBO het uitgewys hoe die tesourie geld uit die begroting hertoegewys het om die nuwe begroting te finansier. Dit sluit in:

  • R54,4 miljard van nasionale departemente se basiese besteding wat opgeskort is;
  • R20 miljard van provinsies se toelaes wat herprioritiseer is;
  • R13,8 miljard van provinsies se voorwaardelike toelaes wat opgeskort is; en
  • R12,6 miljard van plaaslike regerings se voorwaardelike toelaes wat opgeskort is.

Aan die ander kant is die volgende ekstra bedrae toegeken:

  • R40,8 miljard vir ses maande se steun aan kwesbare huishoudings;
  • R21,5 miljard vir gesondheid;
  • R20 miljard vir munisipaliteite;
  • R13,6 miljard vir ander dienste;
  • R12,5 miljard vir onderwys;
  • R6 miljard vir steun aan informele ondernemings en werkskepping;
  • R5,9 miljard vir steun aan openbare entiteite; en
  • R1,7 miljard vir ander Covid-19-ingrypings.

Die departemente wat op ’n netto grondslag meer geld gekry het as in Februarie se begroting is samewerkende regering, tesourie, gesondheid, maatskaplike ontwikkeling, verdediging en die polisie. Dié van wie geld weggevat is, is basiese onderwys, hoër onderwys en opleiding, landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, menslike nedersettings, handel, nywerheid en mededinging, en vervoer.

Dr. Nelia Orlandi van die PBO meen egter die fiskale stimulus skiet ver tekort om die ekonomiese skok van Covid-19 te absorbeer.

Nie alles in die fiskale pakket van R500 miljard is nuwe besteding of staatsbesteding nie, en die netto bydrae van die staat is maar R71 miljard of 1,4% van die BBP.

Boonop het die PBO uitgewys hoe swak die regering se ingryping tot dusver was wat die pandemie betref:

Gesondheid: ’n Enorme agterstand in toetsing, en ’n bed-kapasiteit van net 3 000 beddens in waakeenhede lyk te min.

Munisipale toekennings: Net R5 miljard van die R20 miljard is al bestee, en landelike en arm, stedelike buurte kry straks nie voldoende dienste nie.

Maatskaplike en basiese inkomstetoelaes: Dit het byna ses weke geduur voordat die toelaes betaal is. Teen 18 Junie is net 1,2 miljoen uit 6,2 miljoen aansoekers betaal, en daar word geraam byna 2 miljoen huishoudings kan onder die broodlyn beland omdat die kindersteuntoelae nie per kind betaal is nie, maar aan elke versorger.

Steun uit die Werkloosheidsversekeringsfonds van R40 miljard: Teen 19 Junie is net 355 267 uit 2,4 miljoen werkgewers betaal. Teen 19 Junie is R24 miljard aan 3,7 miljoen werkers betaal, maar dit beteken 60% van die geld is al bestee, tog het minder as 25% van werkers daaruit voordeel getrek.

Belastingverligting van R70 miljard: Kleiner ondernemings sukkel om daarvoor aansoek te doen, en volgens ’n peiling van Statistieke Suid-Afrika in April het net 4,25% van sake-eienaars die verskeie belasting-uitstelprogramme gebruik.

Waarborgskema vir sakelenings van R200 miljard: Die vertraging van drie weke vandat die plan aangekondig is en dit in werking getree het, het beteken ondernemings moes ander planne maak, wat ingesluit het om werkers af te lê. Tot dusver maak baie min ondernemings hiervan gebruik.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Noodbegroting  |  Begrotingsrede  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.