Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
G’n verhoging in staatsdiens; staking dreig

Die druk neem toe op staatsdiensvakbonde om na die onderhandelingstafel terug te keer vir ’n skikking met die staat oor 2020 se salarisverhogings.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Jaco Marais

Hulle kan egter ook terugbaklei met ’n omvattende staking in die staatsdiens.

Dit kom nadat die arbeidsappèlhof ten gunste van die staat beslis het in die saak waarin staatsdiensvakbonde ’n dispuut verklaar het omdat die staat hom nie wil hou by die laaste jaar se verhogings as deel van ’n driejarige loonooreenkoms wat in 2018 gesluit is nie.

In die uitspraak, wat Reuters gesien het, het die arbeidsappèlhof bevind dit sal onwettig wees om die verhoging van minstens 4,4% vanjaar af te dwing omdat dit strydig is met die Grondwet en sekere staatsdiensregulasies.

Die staat het herhaaldelik vanjaar aangevoer vanjaar se verhogings vir staatsamptenare kan nie bekostig word nie en gaan meer as R30 miljard ekstra kos, terwyl die staatskas reeds onder erge druk is weens die swak ekonomie en die Covid-19-pandemie.

“Ons het kennis geneem van die uitspraak, en ek kan jou nou al sê die waarskynlike pad vorentoe vir ons is om in die vorm van ’n staking te reageer,” het Reuben Maleka, onderhandelaar vir die Vereniging vir Staatsamptenare, aan Reuters gesê.

Vakbonde onder Cosatu se vaandel wat onderwysers en gesondheidswerkers verteenwoordig, sê hulle bestudeer nog die uitspraak en sal later kommentaar lewer. Die nasionale tesourie het nie onmiddellik op e-posnavrae van Reuters gereageer nie.

Die staat het volgens sy advokate al in Februarie vanjaar met vakbonde begin skakel oor die moontlikheid dat hy nie vanjaar die laaste verhoging van die driejarige ooreenkoms sal kan bybring nie, maar vakbonde het nog heeltyd vasgeskop. Volgens vakbonde kan die staat hom nie nou uit ’n ooreenkoms wikkel wat deur die openbare sektor se bedingingsraad gesluit is nie.

Staatsadvokate het tydens die hofsitting van die arbeidsappèlhof vroeër die maand egter daarop gewys dat die verhoging slegs bekostig sou kon word as skerp kostebesnoeiings behaal kon word, maar vakbonde was nooit daarvoor te vinde nie.

Die staat het onlangs met ’n tussentydse skikkingsvoorstel gekom om staatsamptenare ’n vakansie op die aftrek van hul pensioenfondsbydraes te gee, en hulle dan met ’n kontantbonus te vergoed, maar dié voorstel is ook verwerp.

Adv. Tim Bruinders, namens die minister van staatsdiens en administrasie, het verduidelik die loonooreenkoms is goedgekeur op voorwaarde dat die bestedingsplafon van R110 miljard oor die drie jaar nie oorskry word nie.

Die staat het ook kort voor die hofsitting vroeg in Desember gevra of die saak nie tot Februarie uitgestel kan word nie sodat ’n skikking met die vakbonde onderhandel kan word.

Cosatu-geaffilieerde vakbonde sê hulle verwerp dit met minagting omdat hulle met niks minder as die oorspronklike ooreenkoms se verhogings tevrede sal wees nie.

Intussen moes duisende werkers in die private sektor vanjaar met salarisverlagings tevrede wees weens die impak van die regering se Covid-19-inperkings op die ekonomie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.