Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Groen, oranje en rooi ligte van Tito se begroting

’n Toespraak is net warm lug – die werklike invloed of sukses van die land se begroting hang af of dit in die praktyk uitgevoer kan word. Noudat die stof ná die begrotingsrede van Tito Mboweni, minister van finansies, gaan lê het, kan ’n mens na die sterk punte en swak punte daarvan kyk. En natuurlik ook na al die gevaarligte wat die begrotingsbus tot stilstand kan dwing.

    

4 GROEN LIGTE – kan SA laat petrol gee

1. Belastingverligting

Almal juig oor belastingkerwe, rabatte en drempels wat met meer as inflasie aangepas is. Dit is ekstra kontant in verbruikers se sakke wat hulle kan bestee, spaar en belê, of gebruik om hul eie skuldlas te verlig, alles tot voordeel van die breë ekonomie.

2. Maatskappybelasting

Belastingkenners van die ouditgroep Mazars kla al jare dat Suid-Afrika se maatskappybelasting te hoog relatief tot sy internasionale mededingers vir investering is. So die nuus dat dit van 2022 af tot 27% verlaag word, gaan die sakesektor beslis help.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Netwerk24

David French, Mazars se direkteur vir belastingkonsultasie, sê dit was ’n kreatiewe skuif en sal Suid-Afrika beslis meer mededingend maak vir internasionale maatskappye wat dit oorweeg om hier te belê.

Maar French waarsku die effektiewe koers gaan nie noodwendig daal as die tesourie slaag met ander veranderings nie. Die tesourie wil daarmee saam maatskappye beperk op sekere rente-aftrekkings en die gebruik van geraamde verliese om hul belastingaanspreeklikheid te verklein. Die verlaging tot 27% sal dus op ’n inkomste-neutrale manier gedoen word, wat volgens French dus beteken die verlaging beteken nie regtig iets nie.

As simboliese gebaar is dit egter ’n positiewe stap.

3. Pandemie-hulp

Die R19,3 miljard wat oor drie jaar beskikbaar gestel word vir die Covid-19-inentingsveldtog is ’n groot gerusstelling, meen kenners. Dit gaan op kort termyn onregstreeks ’n groot bydrae lewer om die ekonomie weer aan die groei te kry. Hoe minder die pandemie werkers en ekonomiese aktiwiteit ontwrig, hoe beter.

4. Geld vir die SAID

Die R3 miljard wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kry om sy vermoë te verbeter om belasting in te vorder, is ’n goeie belegging. Dis waarskynlik nie ’n slegte plan om op die bestaande belastingbasis te fokus terwyl probeer word om die ekonomie te laat herleef nie, sê Andrew Wellsted, belastinghoof van die regsfirma CMS.

Hy verwys na die spesiale eenheid wat gestig gaan word om op superrykes en hul ingewikkelde finansiële strukture te fokus. Die SAID moet net nie in die proses sulke mense so afskrik dat hulle eerder padgee nie, maan hy.

       

3 ORANJE LIGTE – kan land laat rem trap

1. Rente op skuld, en skuld, en skuld

Die R269,7 miljard wat aan rente op skuld bestee word, is selfs in ’n pandemie-jaar steeds meer as die hele gesondheidsbegroting van R248,8 miljard. Dit is opsigself uiters kommerwekkend.

Die nuwe laer vooruitgeskatte trajek van die skuld-tot-BBP-verhouding is welkom, maar dr. Iraj Abedian, hoofekonoom van Pan-African Research, meen dit is buite die regering se beheer – die verhouding word eintlik maar deur ekonomiese groei bepaal.

As die ekonomie nie groei soos verwag nie, gaan die skuldverhouding nie verbeter nie.

2. Beleidshervorming

Vae, algemene verwysings is na die nodige beleidshervorming gemaak, maar besonderhede en tydraamwerke daaroor ontbreek, het baie kritici gesê. Die begrotingsrede het nie hierin veel verskil van die veralgemeende verwysing na die nodige hervormings in die staatsrede van ’n paar weke gelede nie.

En al maak Mboweni al die “regte” geluide oor die nodige hervorming, het hy die steun van sy mede-kabinetslede en veral die vakbonde nodig om dit te laat realiseer – steun wat tot dusver nie opgedaag het nie.

3. Sondebelasting

Weens die verwoestende uitwerking van die regering se verbod op die wettige tabak- en drankbedrywe se produkte tydens die inperking is hulle reeds op hul knieë. Die skerp aksynsverhogings is dus soos nog ’n klap in hul gesig – soos blyk uit die verontwaardiging uit alle oorde van dié twee bedrywe.

Selfs ekonome skerts en vra of dit dan nou rokers en drinkers se verantwoordelikheid geword het om die staatskas uit sy geldknyp te rook en drink.

Die toerismebedryf, wat ook baie kwaai deur die inperking geknou is, ly ook onder die hoër aksyns op drank. Die tesourie kon hier dalk minder skerp gewees het om die bedrywe kans te gee om weer op hul voete te kom.

          

5 ROOI LIGTE – kan begroting laat briek trek

1. Staatsdienssalarisrekening

Verskeie ontleders wys op die gebrekkige besonderhede oor presies hoe die tesourie gaan hou by sy belofte om die salarisrekening in toom te hou.

Die groot snye aan talle departementele begrotings en provinsiale en munisipale toekennings kom uit salarisrekenings, maar elkeen van dié staatsafdelings moet nou self kyk hoe hulle by dié snye gaan uitkom.

Die staatsdiensvakbonde sal beslis nie gaan lê ná die onlangse hofuitspraak ten gunste van die tesourie nie, so die geloofwaardigheid van die hele begroting en hoe realisties die skuldvlakke en bestedingsyfers oor die volgende drie jaar gaan wees, hang baie af van hoe suksesvol die staat vanjaar loononderhandelings kan voer. Die onderhandelings self is boonop buite die tesourie se beheer, want dit word deur die departement van staatsdiens en administrasie gelei.

Daar is vrese dat die besnoeiings werklike dienslewering kan raak.

2. Eskom en ander staatsondernemings

Daar is verwag Mboweni sou oor vordering kon verslag doen met die opsies vir Eskom se enorme skuldlas – deur internasionale finansiers al as die grootste enkele risiko vir Suid-Afrika beskryf.

Maar niks is oor die moontlike planne gesê om R100 miljard van Eskom se skuld na ’n spesialedoelvoertuig binne die Openbare Beleggingskorporasie oor te dra nie.

Terwyl ’n werkende Eskom moet sorg dat die ekonomie weer aan’t groei kom, kan Suid-Afrika dit nie bekostig dat sy skuld die land saam oor die fiskale afgrond sleep nie.

Hoewel niks nuwe geld buiten die R7 miljard vir die Landbank aan ander staatsondernemings, insluitend die Suid-Afrikaanse Lugdiens, belowe is nie, is dit ’n ongeluk wat ’n plek soek om te gebeur.

3. Welsyntoelaes

In die verlede het ontleders gewaarsku oor die onvolhoubaarheid van die immer stygende bedrae aan welsynstoelaes, maar te midde van die pandemie, inperkings en ’n swak ekonomie het dié toelaes die afgelope jaar vir miljoene mense die verskil tussen ’n maaltyd per dag of nié beteken.

Om dit met minder as inflasie te verhoog is ’n minagting van die benarde situasie waarin arm Suid-Afrikaners hulle bevind.

As die tesourie hom ’n belastingrevolusie aan die ryker kant van die samelewing gespaar het, het hy hier dalk ’n vonk laat spat vir ’n kruitvat van protes aan die armer kant.

Ontleders het ook al daarop gewys dat welsynstoelaes nie geld is wat verlore is vir die tesourie nie – dit is kontant wat bestee word in die werklike ekonomie en wat só weer in die vorm van belasting op toegevoegde waarde (BTW) en ander belasting terugkeer.

4. Belastingteikens

Al is byna R100 miljard meer belasting ingevorder in die afgelope jaar as wat teen Oktober verwag is, is die verwagte inkomste steeds R213 miljard minder as wat in Februarie 2020 verwag is – die grootste belastingtekort nóg. Boonop lyk die tesourie se teikens vir invordering in die volgende paar jaar effens optimisties, en is dit gegrond op baie aannames oor ekonomiese groei wat nie noodwendig gaan realiseer nie.

5. Nulbegroting

In verlede jaar se begrotings het Mboweni baie te sê gehad oor sy geliefde konsep van ’n nulbegroting – waar elke bestedingsitem van voor af bepaal en gemotiveer moet word.

Woensdag is gesê net die tesourie self en die departement van openbare ondernemings gaan dit vanaf 2022 toets.

Volgens die ontleder Peter Attard Montalto van Intellidex is die begrotingsproses dus steeds hoogs ondoeltreffend. Daar word net bolangs aan bestedings gesny of geld word weggevat waar dit nie voorheen uitgegee is nie – dus geen optimale proses nie maar ’n polities kwesbare een.

Kwinkslae uit Mboweni se toespraak

Oor ’n belastingrevolusie:

Met sy aankondiging oor belastingverligting het Mboweni na Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gekyk en gesê “Genl. Groenewald, ’n belastingrevolusie is nie nodig nie!” 

Oor diensleweringsprotes:

Die vernietiging van infrastruktuur maak nie sin nie en moet ophou, het Mboweni gesê. “Ons bou vandag ’n polisiekantoor en môre breek mense dit af. Dit maak geen sin nie.” ’n Nuwe soort mentaliteit van “batebestuur” is nodig waar gemeenskappe eienaarskap aanvaar van die infrastruktuur wat hulle nodig het, en dit versorg en oppas, het hy gesê.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Skuld  |  Regulasie 28  |  Begroting2021  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Staatsdienslone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.