Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Grond: Fokus bly op hulp aan kleinboere
landbou

Tito Mboweni, minister van finansies, het nie grondhervorming agterweë gelaat in sy eerste begrotingsrede nie.

Hy het in sy toespraak in die Nasionale Vergadering verwys na “robuuste debatvoering” oor grond in Suid-Afrika en gesê privatesektorbeleggings in landbou deur opkomende boere word ondersteun.

R1,8 miljard is in die begroting toegeken aan 262 grondhervormingsprojekte oor die volgende drie jaar.

R3,7 miljard is ook opsy gesit om opkomende boere by te staan wat plase wil koop.

Die Landbank sal kleinskaalse boere ondersteun en vennootskappe met ander finansiële instellings vorm. Die teiken is om R3 miljard in die volgende fiskale jaar beskikbaar te stel.

Mboweni, self ’n deeltydse boer, het gesê dit is tyd vir Suid-Afrika om van voor af te begin plant en “die saad van hernuwing en groei” te saai.

Luidens die 2019-begrotingsraamwerk beplan die departement van landbou, bosbou en visserye om R1,9 miljard beskikbaar te stel deur die Ilima/Letsema- toelae om op mediumtermyn jaarliks 145 000 bestaans- en kleinskaalse boere te ondersteun.

Planne is ook onderweg om teen 2030 – soos in die Nasionale Ontwikkelingsplan aangedui word – te verseker dat een miljoen hektaar grond gebruik word om gewasse te produseer en om topgehalte-teelvee aan geteikende kleinskaalse en bestaansboere te verskaf.

Die departement beplan ook om in die 2019-’20-boekjaar ’n register van boere en landelike statistieke teen ’n geprojekteerde koste van R51 miljoen af te handel. Dié projek word aangepak in samewerking met Statistieke Suid-Afrika en is daarop gemik om die akkuraatheid van landelike statistieke, waaronder besonderhede oor kleinskaalse boere oor Suid-Afrika heen, te verbeter.

Akwakultuur sal na verwagting ook aansienlik tot voedselproduksie bydra, met produksie in die sektor wat na verwagting van 4 000 ton vis in die 2018-’19-boekjaar tot 20 000 ton per jaar op mediumtermyn sal toeneem.

Ten einde die beste waarde uit Suid-Afrika se kus- en binnelandse akwakultuur te kry, is ’n geprojekteerde R137,9 miljoen vir akwakultuur begroot.

Sowat 150 gegradueerde veeartse sal na verwagting jaarliks op mediumtermyn as deel van hul verpligte gemeenskapsdiens in landelike gebiede ontplooi word om dieregesondheid te verbeter.

R456 miljoen is oor dieselfde tydperk aan ’n departementele program toegeken vir die ontplooiing van nuut gekwalifiseerde veeartse en ander veeartse wat vir die eerste keer by die Raad op Veeartsenykunde registreer.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Begroting 2019  |  Landbou  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.