Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting 2018
Kelder hoër BTW jou kans op laer rentekoers?

Beduiwel die hoër BTW-koers skuldbelaaide verbruikers se kans op laer rentekoerse in Maart? Tweederdes van die 12 ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, reken nié so nie.

Dié vraag kan tereg gevra word nadat Malusi Gigaba, minister van finansies, Woensdag in sy begrotingsrede aangekondig het belasting op toegevoegde waarde verhoog van 14% tot 15%.

Die verhoging beteken die meeste goedere en dienste word duurder, wat inflasie teoreties gesproke sal opdruk. En die vooruitsig van hoër inflasie beteken teoreties ook dat die Reserwebank nie sommer die rentekoers sal verlaag nie.

Maar dinge is nie vir alle ekonome heeltemal só eenvoudig nie.

50% van die ekonome verwag die invloed van die BTW-verhoging op inflasie sal gering wees en nog 42% reken dit sal deur ander faktore teengewerk word, soos die sterker rand, wat die prys van brandstof en alle ingevoerde goedere in toom kan hou.

Net een ekonoom reken die BTW-verhoging gaan ’n skerp styging in die inflasiekoers veroorsaak. Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sê nadat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Woensdag (vóór die begrotingsrede) bekend gemaak het Januarie se inflasiekoers was net 4,4% – die laagste in drie jaar – het Investec sy verwagting vir die volle 2018 verlaag, ook tot 4,4%.

“Die invloed van die BTW-styging, die styging in ad valorem-belasting, die styging in brandstofheffings, die suikerbelasting en die gewone stygings in sogenaamde sondebelastings wat alles ook in die begroting aangekondig is, het ons voorspelling vir die inflasiekoers vir 2018 tot 4,9% laat styg.”

Die gesamentlike invloed van die belastingverhogings is dus 0,5 van ’n persentasiepunt, maar Bishop reken dit kan later selfs 0,6 van ’n persentasiepunt blyk te wees. “Baie sal egter van randkrag afhang.”

Hoe dit Reserwebank beïnvloed

Bishop is een van slegs vier ekonome (33%) wat reken die Reserwebank sal in Maart eers wag met ’n rentekoersverlaging om die invloed van die nuwe BTW-koers op inflasie te monitor.

Tot voor die begrotingsrede het talle ekonome begin voorspel dat die rentekoers danksy die sterker rand in Maart, en eindelik selfs drie keer in 2018, verlaag gaan word.

Indien Moody’s besluit om Suid-Afrika se investerings-gradering te behou, sal dit ruimte laat om die rentekoers teen einde Maart te verlaag.
Thea Fourie

Thea Fourie, senior ekonoom vir Afrika suid van die Sahara vir IHS Markit, is onder die 67% van ekonome wat nié dink die BTW-verhoging sal die Reserwebank se besluit beïnvloed nie. Sy sê dis die uitslag van Moody’s Investors Service se graderingsbesluit wat bepalend gaan wees vir die rentekoersbesluit.

“Indien Moody’s besluit om Suid-Afrika se investeringsgradering te behou, sal dit ruimte laat om die rentekoers teen einde Maart te verlaag.”

Prof. Carel van Aardt van die Buro vir Marknavorsing aan Unisa gee toe dit maak sin om te reken pryse – dus inflasie – gaan weens die BTW-verhoging styg, “maar onthou dit gaan verbruikersvraag negatief raak en daarom moontlik eerder inflasie sal verlaag as verhoog via die transmissie-meganisme.”

Hy reken baie verbruikers sal bloot die verhoging absorbeer.

Die verhoging van BTW van 14% tot 15% beteken vir elke R100 wat jy bestee, sal jy R1 meer belasting betaal – dus R15 pleks van R14.

Van Aardt sê hy is bekommerder oor die “direkte, indirekte en geïnduseerde uitwerking van die verhogings in brandstofheffings op inflasie”.

Emile du Plessis, ekonoom van Finometrica, “verwag dat die hoër pryse op die winkelrakke veral kleinhandelverkope kan raak.”

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, beaam dat die BTW-styging ’n “marginale teenwind in die ekonomie” kan skep.

Koos Coetzee, ekonoom van die Melkprodusente-organisasie, beklemtoon die nulkoers op onder meer vars groente en vrugte, mieliemeel, droë bone en ander produkte sal help om die invloed van die BTW-verhoging op inflasie te beperk. Hy reken ook ’n verhoging in persoonlike-inkomstebelasting sou ’n baie nadeliger uitwerking gehad het.

Richard Downing, ekonoom van Econdow, sê die BTW-verhoging versprei die belastingbasis en skep ’n groter balans tussen indirekte en direkte belastings, wat nodig is om ekonomiese groei te ondersteun.

Johan Willemse, landbou-ekonoom van Agrimarkconsultants, lig ’n voordeel van BTW uit waaraan min mense dalk dink: “Selfs smokkelgeld word bestee en dan dra dit BTW – andersins is daar geen belasting op (onwettige) inkomste.”

SSA en die Reserwebank het nog nie op navrae gereageer oor hoe hulle die invloed van die BTW-verhoging op inflasie en monetêre beleid sien nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Malusi Gigaba  |  Inkomste  |  Ekonome  |  Begrotingsrede  |  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Begroting 2018  |  Btw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.