Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Hoër salarisse vir staat ‘is fiskale hoogverraad’

R668 miljard – dit is wat die regering nou gaan bestee aan die salarisse van staatsamptenare – en dit is geen oorwinning nie, meen kenners.

geld, rand, ekonomie,
Die staat se salarisrekening styg skerp, al kry amptenare verhogings van net 1,5%.

Die staat het Dinsdag bekend gemaak hy en die vakbonde vir staatsamptenare het ’n ooreenkoms bereik vir salarisverhogings vir die 2021-’22-boekjaar van 1,5% en ’n kontantbetaling van tussen R1 200 en R1 600 per maand tot en met 31 Maart 2022.

Al is die verhoging aansienlik minder as die tot 15% wat sekere vakbonde geëis het, beloop die kontantbetalings R18 miljard op sy eie, en dit kan dalk onbepaald voortduur volgens die ooreenkoms wat met die vakbonde aangegaan is.

Volgens dr. Leon Schreiber van die DA is dié kontantbetalings niks minder as omkoopgeld nie.

En die ANC het met dié buitensporige toegewing eintlik “fiskale hoogverraad” gepleeg.

“Die ANC, gelei deur Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, het duidelik bewus van die gevolge van dalende steun vir die party in die nasleep van die onlangse plundering en anargie, fiskale hoogverraad teen die inwoners van Suid-Afrika gepleeg deur kontant-omkoopgeld van R18 miljard aan te bied om die steun van vakbonde in die openbare sektor voor die komende munisipale verkiesing te probeer verseker,” sê Schreiber in ’n verklaring.

Die minstens R668 miljard wat die regering vanjaar aan staatsdienssalarisse gaan bestee, is ’n nuwe rekord vir die land.

“Ons weet almal dat die ANC baie staatmaak op sy bondgenote in Cosatu en met sy steun reeds swakker was die party ooglopend bereid om alles te doen om die radikale vakbonde te paai. Dit is vanselfsprekend dat die ANC die kontantbetaling van R18 miljard aangebied het om die steun van vakbonde te koop in die aanloop tot die munisipale verkiesing.

“Die enigste manier waarop hierdie politieke omkopery meer voor die hand liggend kan wees, is as die ANC die geld in ongemerkte aktetasse aan hul vakbondkaders oorhandig het.”

Die land gaan na verwagting vanjaar slegs R1,34 duisend miljard in belasting invorder.

Dit beteken dat amper die helfte van alle belastinginkomste nou net aan die salarisse van staatsamptenare gaan. Uit elke R1 wat deur belasting ingevorder word, word 48c aan die salarisse van staatsamptenare bestee.

“Die salarisverhogings is ook niks minder as verraderlik in die huidige omgewing van ekonomiese ineenstorting nie. Dit terwyl private ondernemings in die gasvryheids- en die drankbedryf deur die inperkings gekasty is en daarna geknou is deur die plundering en anargie.”

Jacques Moolman, president van die Kaapse Kamer vir Koophandel en Nywerheid (CCCI), sê ook daar is min om oor fees te vier as daar na die nuwe salarisooreenkoms gekyk word.

Volgens hom het die aanvanklike 1%-verhoging sonder ’n kontantbetaling sin gemaak.

“Sommige beskou die loonooreenkoms tussen die regering en vakbonde as ’n triomf. Cosatu het sy affiliasies op die skouer geklop oor die aanvaarding van die ooreenkoms, ongetwyfeld met die oog daarop dat hy ’n deel sal kry van die bietjie wat in die sak van die werkers sal beland ná die gewone aftrekkings.

“Maar dit is lof vir wat neerkom op afpersing van die staatskoffers.”

Moolman sê die ooreenkoms neem nie die swak toestand van die ekonomie en die staatskas in ag nie.

“Waarom moet staatsamptenare se swak prestasie beloon word?”

Volgens die CCCI het die staatsdiens se salarisrekening in die afgelope tien jaar met 40% gestyg.

In teenstelling daarmee het mense in die private sektor – wat wel welvaart skep vir die landsekonomie – nié so ’n verhoging gekry nie.

Die DA sê die salarisverhogings is niks minder nie as politieke omkoopgeld waarvoor die belastingbetaler moet opdok sodat die ANC aan bewind kan bly.

Meer oor:  Staatsamptenare  |  Salarisse  |  Begroting2021  |  Begrotingsrede  |  Begroting  |  Tesourie  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.