Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Hoër taks vir entstof nog net ’n ‘opsie’ – tesourie

Niemand het nog gesê belasting op toegevoegde waarde (BTW), persoonlike inkomstebelasting of maatskappybelasting gaan verhoog word om die Covid-19-entstof te bekostig nie.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie. Foto: Getty Images

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die nasionale tesourie, het Woensdagmiddag aan joernaliste van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) belowe dat al wat gesê is, is dat hoër belastings een van die opsies is.

Die mins pynlike opsie moet gekies word, het hy gesê. Ander opsies is om meer geld te leen, wat gewoonlik gebeur, of om die bestaande begroting te herprioritiseer. Mogajane waarsku egter dat herprioritisering al sedert 2012 gebeur en dat baie staatsprogramme al tot op die been gesny is. Daar is dus nie veel meer om te sny nie.

Mogajane het bevestig dat alles op koers is om die 2021-begroting teen 24 Februarie aan die parlement voor te lê.

Die art. 16-klousule (wat handel oor noodverkrygings) van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) kan ook wel benut word om vir die entstof te betaal.

Volgens hom het pres. Cyril Ramaphosa al herhaaldelik gesê die geld sal wel vir die aankoop van die entstowwe gevind word.

Oor gerugte van R2,5 miljard tot R8 miljard wat reeds vir entstowwe begroot is, het Mogajane gesê hy weet nie waar die media aan dié syfers kom nie.

Dit kan tot R24 miljard kos om 40 miljoen mense in Suid-Afrika teen die pandemie in te ent.

Die inenting sal nie noodwendig in een jaar gedoen word nie, so die geld sal nie alles in een jaar bestee hoef te word nie.

Hy het toegegee dat die aankoop van Covid-19-entstowwe ’n ideale voorbeeld is van iets wat vir noodaankope kwalifiseer, waar van die normale verkrygingsprosedures afgewyk mag word.

Volgens Mogajane onderhandel die tesourie en die departement van gesondheid regstreeks met die verskaffers. “Daar is geen middelman nie. Ons wil nie oor tien jaar ’n tweede Zondo-kommissie hê wat by ons spook nie,” het hy gesê oor vrese dat korrupsie by die aankoop van entstowwe kan insluip.

Dr. Mampho Modise, adjunkdirekteur-generaal van openbare finansies in die tesourie, het verduidelik die tesourie en die departement van gesondheid praat sedert verlede jaar voortdurend oor hoe om geld vir die stryd teen Covid-19 en vir entstowwe te vind.

In Desember is ’n toekenningsbrief aan die departement van gesondheid uitgereik, wat bepaal dat die departement vir die lopende boekjaar nog geld binne sy bestaande begroting kan herprioritiseer, maar vir die volgende boekjaar sal ekstra geld van die tesourie af moet kom.

Volgens Modise kan dit R20 miljard kos om genoeg entstof aan te koop.

Dondo tel self die foon op

Die tesourie het wel al ingegryp om aankope van die Covid-19-entstowwe te versnel, het Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, Woensdagmiddag gesê.

Hy het die tesourie se rol verdedig en ’n voorbeeld genoem van streng voorwaardes wat die farmaseutiese reus Johnson & Johnson gestel het, waar hy persoonlik die foon opgetel en ingegryp het om te vra dat die voorwaardes verslap word.

Hy het beklemtoon dat die onderhandelings nog aan die gang is en dat hy nie meer besonderhede bekend kan maak nie.

Volgens Mogajane word die wanpersepsie geskep dat dit die tesourie se skuld is dat Suid-Afrika voete gesleep het om die Covid-19-entstowwe aan te koop.

Hy het gesê die tesourie gryp aktief in om die onderhandelings te laat vorder.

Dit is in reaksie op kritiek deur joernaliste op ’n vergadering tussen die tesourie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum dat 65 lande in die wêreld reeds met hul inentingsveldtogte begin het.

Hy verwag dat ’n kombinasie van opsies uiteindelik sal help om die koop van entstowwe te finansier, byvoorbeeld om lenings effens te verhoog, om effens meer belasting in te vorder, van die geld te gebruik wat wel in die tesourie se bankrekening is, en om nog verder te probeer om bestaande begrotings te herprioritiseer.

Noodverkryging

Estelle Setan, hoofdirekteur van strategiese aankope in die tesourie, sê die huidige reëls vir noodverkryging is nie noodwendig van toepassing op die aankoop van Covid-19-entstowwe nie.

Die dringendheid daarvoor maak wel ’n mededingende bodproses onprakties.

Van die versoeke van die departement van gesondheid vir die afwyking van normale verkrygingsreëls sluit in om regstreeks te onderhandel met entstofvervaardigers, wie se entstowwe reeds internasionaal goedgekeur is. Dit het ingesluit Pfizer, die Serum-instituut van Indië en Johnson & Johnson. Dié versoek is vir ses maande toegestaan.

’n Versoek wat op 7 Januarie ontvang is, was om van die reëls vir die logistiek en verspreiding van die entstowwe af te wyk. Die entstowwe moet byvoorbeeld in sommige gevalle teen temperature van so laag as  -70 °C bewaar en versprei word.

Die departement het vier maatskappye, waaronder DSV en United Pharmaceutical Distributors, aanbeveel om die entstowwe te bewaar en te versprei. Die departement mag vir ses maande geslote onderhandelings met dié maatskappye voer.

Nog ’n afwykingsversoek was vir deelname aan die Afrika-unie se entstofprogram, waarvan ’n konsepweergawe eers vandeesweek ontvang is.

Volgens Setan sal die gesentraliseerde hantering van die aankope van entstowwe help om korrupsie te voorkom.

Eskom

Oor vrae wat Eskom se skuldkrisis betref, het Tshepiso Moahloli, hoof van bate-en-lastebestuur in die tesourie, gesê Eskom is die een wat oor skuldherstrukturering moet praat.

Die AstraZeneca/Oxford-entstof is volgens ’n jongste studie 70% doeltreffend teen die koronavirus. Foto: AP

Onderhandelings oor ekstra staatslenings word nog gevoer, en meer besonderhede daaroor sal in die begroting bekend gemaak word, het Moahloli gesê.

Duncan Pieterse, hoof van ekonomiese beleid in die tesourie, het in antwoord op vrae gesê die aanduidings is dat die informele sektor van die ekonomie vinniger gaan terugspring en herstel as die formele ekonomie in reaksie op die pandemie.

Edgar Sishi, waarnemende hoof van die tesourie se begrotingskantoor, sê die tesourie het in Junie se aanvullende begroting meer as R6 miljard opsy gesit om klein en informele ondernemings te help.

Ismail Momoniat, hoof van belastingbeleid in die tesourie, sê die tesourie sal volgende week bekend maak hoe belastinginvordering tot en met Desember presteer het. Hy wou nie syfers gee nie, maar dit lyk volgens hom asof dit wel beter as met die mediumtermynbegroting in Oktober verlede jaar lyk.

Meer oor:  Dondo Mogajane  |  Begroting2021  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting  |  Tesourie  |  Btw  |  Inkomstebelasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.