Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Is dit die einde van die pad vir Moody’s?

27 Maart of eers in November – dis óf die een óf die ander, maar die meeste ekonome reken Moody’s Investors Service gaan Suid-Afrika se staatskuld vanjaar afgradeer.

A monitor displays Moodys Corp. signage on the flo
Moody's is steeds stil oor wat hy van die begrotingsrede dink. Foto: Getty Images

Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede was “waarskynlik nie goed genoeg vir Moody’s nie”, sê Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual Investment Group.

Fitch Ratings het Donderdag gesê die agteruitgang van die staat se geldsake is kommerwekkend. Fitch is uiters skepties of die sentrale plan om dit om te keer, naamlik die R160 miljard waarmee die staat sy salarisrekening wil besnoei, deurgevoer sal kan word gegewe vakbonde se teenkanting.

Volgens Els is daar ’n “klein moontlikheid” dat Moody’s sal wag en kyk hoe onderhandelinge met vakbonde uitspeel.

Moody’s self het Donderdagaand laat gesê hy meen die onsekerheid oor die onderhandelinge wat die staat met vakbonde oor die salarisse van staatsamptenare moet voer, verhoog die gevaar dat die begrotingsvooruitsigte nie bereik kan word nie.

LEES OOK: Moody’s maan oor staatskuld as vergoeding nie daal

“Ondanks groot tekorte en geen skuldstabilisering nie, was die begroting beter as verwag, gegewe die klem op die vermindering van besnoeiing eerder as op belastingverhogings. Maar die groot begrotingstekort, skuldkoers, primêre begrotingstekort, gekombineer met die steeds swak ekonomiese groei en die risiko’s ten opsigte van die besparings aan salarisse, sal steeds lei tot ’n Moody’s-afgradering in Maart.”

Nog ’n risiko is dat enige besparing “opgevreet” sal word deur die stygende rente wat die staat op sy skuld moet betaal. Dit kan gemiddeld 12% oor die volgende drie jaar beloop, sê Els.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing van Intellidex, sê die aankondiging oor die besnoeiing van die salarisrekening is ’n berekende stap. “Teen einde Maart (wanneer Moody’s sy besluit aankondig) sal loononderhandelinge waarskynlik steeds voortduur en dit sal daarom baie moeilik wees om op daardie punt af te gradeer.”

Hy sê Moody’s sal genoop wees om tot November te wag om te kyk of die salarisrekening wel verlaag kon word.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, reken die begroting bevat genoeg faktore wat afgradering in Maart kan afweer, maar beslis nie genoeg om die vooruitsig vir die gradering na stabiel te verbeter nie. Die vooruitsig is tans negatief.

Bishop reken selfs daar is ’n moontlikheid dat Moody’s sy besluit tot 2021 kan uitstel “indien Suid-Afrika inkrementele pogings toon om sy geldsake te konsolideer”.

Sy is nie bekommerd dat Moody’s ’n krediethersiening sal aankondig nie. Dit is wanneer die gradeerder sy besluit met nagenoeg drie maande uitstel. Sy sê Moody’s het genoeg tyd om die begroting te bestudeer voor sy besluit op 27 Maart.

Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC Strategy, en dr. Christie Viljoen, ekonoom, het Woensdag gesê hoewel Moody’s “ ’n bietjie goeie nuus” in die begrotingsoorsig sal vind, het die meeste van die syfers wat die kredietgraderingsagentskap dophou, verswak.

Die begrotingsoorsig gee self toe dat die risiko van ’n afgradering toegeneem het. “Inderdaad, die pad vorentoe vir die land se soewereine graderings is allesbehalwe rooskleurig.”

Tito Mboweni, minister van finansies, het op ’n nuuskonferensie voor sy begrotingsrede in antwoord op ’n vraag oor Moody’s gesê hy hoop graderingsagentskappe kyk na hul fiskale standpunt en sien dat die tesourie vasbeslote is om skuldvlakke te verlaag – al verswak die skuldvlakke op mediumtermyn.

Hy het egter ook gesê hy verwag dat graderingsagentskappe die land ’n “bietjie van ’n klap” sal gee. “Ons sal dit absorbeer, want ons het onsself klaar geklap.

“Dit opper ’n belangrike punt: Ons móét ons sake in orde kry.”

Mboweni het die Afrikaanse woord “klap” gebruik. Sy frase was “bit of a klap”.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê as die begroting in sy geheel beskou word, bly dit ’n ope vraag of genoeg gedoen is om ’n afgradering af te weer. “Dit sal waarskynlik naelskraaps wees in die lig van die ekonomiese en fiskale dwarsstrome wat in die begroting weerspieël word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.