Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Jan Taks beloer jou kriptogeld

Suid-Afrikaanse belastingbetalers moet weet enige vet winste en opbrengste uit kriptogeldeenhede is in Jan Taks se visier.

Jou bitcoin kan belas word, selfs al verruil jy dit net vir ander kriptogeld. Foto: Getty Images

Kenners sê verskeie individue het reeds ouditversoeke van die belastinggaarder ontvang vir duidelikheid en ondersteunende dokumente oor hul beleggings in kriptobates.

Thomas Lobban, ’n regskenner op die gebied by Tax Consulting South Africa, sê volgens die interregeringswerkgroep oor finansiële tegnologie het kriptogeldeenhede in Suid-Afrika reeds in April 2020 ’n markkapitalisasie van sowat R6,5 miljard gehad.

Soos belangstelling in kripto vlam vat en dié bedrag by die dag groei, kan dit ’n belangrike bron van inkomste vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wees, sê hy.

Hoewel bitcoin baie wisselvallig in waarde is, het dit steeds die afgelope jaar met sowat 300% opgeskiet.

Hy waarsku te veel mense is onder die wanindruk dat hulle net belasting verskuldig sou wees as hulle die kriptobates verkoop.

Enige transaksie met kriptogeld het belastingimplikasies. Jy is nie net verplig om dit openbaar te maak as jy ’n kontant­bedrag van ’n handelsplatform onttrek nie. “Alle transaksies met kriptogeld vir kontant of vir ander kriptogeld moet aan die SAID verklaar word.”

Kriptogeldeenhede word vir belastingdoeleindes as ’n bate beskou, wat beteken dis belasbaar wanneer die kriptogeld verkoop of verruil word vir ’n ander bate (in ’n bateruiltransaksie), verduidelik hy.

“Wanneer ’n belastingbetaler kriptogeldeenhede bekom, moet die koste van die verkryging en instandhouding van die belegging in berekening gebring word. Dit sluit tariewe in. Wanneer jy van die kripto-eenhede ontslae raak, moet die waarde van die opbrengs minus die uitgawe in berekening gebring word.”

Dit kan in sekere gevalle taamlik ingewikkeld raak.

Lobban sê die reëls oor kriptogeldeenhede as ’n finansiële instrument is van so ’n aard dat professionele hulp in die meeste gevalle nodig is om die regte inligting aan die SAID te openbaar.

Die wins daaruit kan byvoorbeeld teen ’n belastingbetaler se marginale belastingkoers van tot 45% belas word, of onderhewig wees aan kapitaalwinsbelasting teen ’n maksimum effektiewe koers van 18%.

Of kriptogeldeenhede as kapitaal of inkomste beskou word, sal van geval tot geval verskil. In die meeste gevalle sal die SAID wins uit kriptogeld waarskynlik as inkomste beskou en die onus sal op die belastingbetaler wees om andersins te bewys.

Jonathan Ovadia, stigter en uitvoerende hoof van Ovex, ’n kriptoverhandelingsplatform vir toonbankverkope, sê die SAID is al meer aktief om wins uit kriptotransaksies te belas. Hy raai beleggers in kripto aan om professionele advies met hul belastingopgawes te kry, maar in die algemeen is dit nie te moeilik om die belastinglandskap te verstaan wanneer dit by kriptogeldeenhede kom nie.

Ovex bied ’n verhandelingsdiens waar kliënte geld na die buiteland stuur, kriptogeldeenhede koop en dit teen ’n wins in Suid-Afrika verkoop. Dié aktiwiteit word as inkomste belas, sê Ovadia.

Baie Suid-Afrikaners dink verkeerdelik wins uit kriptogeldeenhede het eers onlangs belasbaar geword.

Lobban sê hoewel die SAID waarskynlik op die huidige belastingjaar sal fokus, is daar nie ’n beperking oor hoe ver die belastinggaarder kan teruggaan in ’n oudit van ’n belastingbetaler wat vermoedelik nie sy of haar volle belastingplig nagekom het nie. Hy sê tot dusver was daar min tot geen regulasies oor kriptogeld en transaksies kon maklik weggesteek word.

Kenners meen die R3 miljard wat die SAID oor die volgende drie jaar van die tesourie gaan ontvang om sy tegnologie-infrastruktuur te moderniseer, sal help om hoërisiko-individue te identifiseer en dié soort transaksies op te spoor.

Die SAID het in die boekjaar tot einde Maart ’n netto bedrag van R1 250 miljard ingesamel. Dit is nadat terugbetalings van R291 miljard gedoen is.

Edward Kieswetter, SAID-kommissaris, het Donderdag met die bekendmaking van die voorlopige belastinginkomste gesê dit is R105,6 miljard (of 7,8%) minder as die vorige jaar, maar meer as die R1 212 miljard wat in die Februarie-begroting voorsien is. Die mikpunt is om in 2021-’22 R1 365 miljard in te samel, wat 9,2% meer is as wat nou ingesamel is.

Die grootste bronne van inkomste was persoonlike inkomstebelasting: R488,6 miljard (39,1% van totale belasting ingesamel); BTW: R330,7 miljard (26,5%); maatskappybelasting: R204,7 miljard (16,4%); en aksynsbelasting: R47,4 miljard (3,8%).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.