Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Jan Taks kyk hoe hy rykes kan belas

Dis wéér ryker belastingbetalers wat die spit sal afbyt vir die bykomende R40 miljard wat die regering oor die volgende vier jaar wil insamel om sy boeke beter te laat lyk.

Die tesourie oorweeg voorstelle van die Davis-belastingkomitee soos die lewensvatbaarheid van ’n welvaartbelasting en hoe dit verband hou met eiendomsbelasting en boedelbelasting. Foto: iStock

En in Suid-Afrika kan jy hiervoor help opdok as jy munisipale eiendomsbelasting betaal, bates verkoop waarop jy kapitaalwinsbelasting betaal, ’n eiendom koop en oordragkoste betaal, dividende verdien wat belasbaar is, of ’n erflating kry, sê belastingkenners.

Edgar Sishi, waarnemende hoof van die tesourie se begrotingskantoor, het Vrydag op ’n parlementêre vergadering gesê die tesourie oorweeg voorstelle van die Davis-belastingkomitee soos die lewensvatbaarheid van ’n welvaartbelasting en hoe dit verband hou met eiendomsbelasting en boedelbelasting, berig BusinessTech.co.za.

’n Begrotingstekort van R709 miljard word in die huidige boekjaar verwag.

Kyle Mandy, hoof van belastingbeleid by PwC Suid-Afrika, sê hoewel Tito Mboweni, minister van finansies, in sy aanvullende begrotingsrede gesê het ’n bykomende R5 miljard in belastinginkomste word vir 2021-’22 verwag (en groter bedrae in die daaropvolgende drie jaar), kan dié vooruitsigte in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in Oktober hersien word.

Sishi het juis daarna aangedui belastingverhogings van R20 miljard kan in die volgende twee jaar kom.

Mandy sê waar welvaartbelasting gehef word op persoonlike kapitaal of welvaart, is ’n solidariteitsbelasting dikwels ’n eenmalige heffing op belasbare inkomste bo ’n sekere drempel, maar dis progressief, wat beteken individue met ’n hoër inkomste en groot maatskappye dra ’n groter deel van die las.

Hy sê hoewel daar ’n paar opsies is, kan geen belastingverhogings ingestel word sonder om die impak daarvan op die ekonomie in ag te neem nie.

Mandy en Jean du Toit, tegniese hoof van belastingkwessies by Tax Consulting SA, meen die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) moet veel eerder fokus op doeltreffender belastinginsameling as hoër belasting.

Luidens die aanvullende begrotingsdokument sal die SAID in die toekoms al hoe meer fokus op onder meer areas van belastingvermyding, sindikate wat bedrieglike BTW-terugbetalings eis en data van derde partye soos die aktekantoor om belastingbetalers op te spoor wat hul belastingplig versuim.

Mandy sê die Davis-komitee ondersoek tans die redes vir die belastinggaping (die verskil tussen totale belasting betaalbaar en dit wat betyds betaal word) wat op minstens R200 miljard geskat word.

Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdagmiddag. Foto: GCIS

Vroeër vanjaar het Edward Kieswetter, SAID-kommissaris, gesê danksy ’n fokus op beter belastingnakoming het Jan Taks in die afgelope belastingjaar ’n bykomende R75 miljard ingesamel.

Du Toit sê die maklikste manier om die bykomende R5 miljard in 2021-’22 in te samel is om belastingkerwe nie met inflasie aan te pas nie. Die sogenaamde blokkruiping beteken mense wat inflasieverwante verhogings kry, val in ’n belastingblok met ’n hoër belastingkoers en betaal dus meer belasting.

In die 2019-begroting is geraam dié stap sou ’n bykomende R12 miljard vir die staatskas beteken.

Volgens Mandy sal die tesourie waarskynlik fokus op belastingverhogings wat min ekonomiese ontwrigting of skade sal veroorsaak, soos hoër belasting om gedragsveranderinge of gesonder gedrag aan te spoor (bv. omgewingsbelastings en belasting wat gesonder leefwyses aanspoor).

Hoër belasting op welvaart, soos verhoogde boedel- en skenkingsbelasting, is ook moontlik, maar bring min in vir die staatskoffers, sê hy.

Volgens Du Toit het verhoogde boedelbelasting in die 2018-begroting ’n geraamde bykomende R150 miljoen inkomste vir die staat beteken.

Mandy sê die probleem met boedel- en skenkingsbelasting is nie soseer die toepaslike koers nie, maar die administrasie en afdwing daarvan.

In die 2020-begroting het dit saam ’n geraamde R3 miljard beloop. As die SAID-nakoming kan verbeter en doeltreffende teenvermydingsmaatreëls instel, kan dit tot 1% van totale inkomste-insameling styg, wat in ooreenstemming is met ander lande.

Die onlangse debat oor ’n belasting op erflatings spruit volgens Mandy uit die hoë vlakke van ongelykheid in Suid-Afrika. Só ’n belasting is in wese dieselfde as boedelbelasting (albei is belasting op die oordrag van welvaart by afsterwe), maar boedelbelasting word betaal deur die oorledene se boedel, terwyl ’n erflatingbelasting deur die erfgenaam betaal word.

Du Toit sê ’n solidariteitsbelasting – wat vir ’n spesifieke doel ingesamel word soos vir die vereniging van Oos- en Wes-Duitsland in die 1990’s – sal nie noodwendig net op superrykes fokus nie, maar hulle sal die grootste deel betaal.

Hoewel so ’n heffing van 5,5% op hoë-inkomsteverdieners onlangs suksesvol in Mauritius ingestel is, is dié land se belastingkoerse veel laer as Suid-Afrika s’n en daar is in die algemeen minder belastings.

In die huidige ekonomiese omstandighede met belastingbetalers onder druk is ’n solidariteitsbelasting hopelik ’n laaste uitweg, sê Du Toit.

Mandy sê dit kan inkomste van ’n moontlike R30 miljard vir die staat beteken. Dit is egter onseker hoe groot die land se belastingbasis in die toekoms sal wees weens Covid-19-verwante werksverlies en laer inkomste, daarom is dit net ramings.

Hoewel ’n BTW-verhoging ’n ongewilde politieke besluit is en nie verwag word nie, is hoër indirekte belasting (soos BTW) waarskynliker as regstreekse belasting wat negatief is vir ekonomiese groei en belastingmoreel, sê kenners.

Du Toit sê toe die BTW-koers in 2018 tot 15% verhoog is, het dit ’n geraamde R23 miljard inkomste vir die staat beteken. Swak ekonomiese aktiwiteit knou egter BTW-inkomste.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.