Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting 2018
Jan Taks mélk jou as jy ryk is

Sowat 110 000 individue in Suid-Afrika sal in die 2018-’19- finansiële jaar meer as 26% van die regering se totale inkomste uit persoonlike inkomstebelasting betaal.

Dié mense, wie se inkomste R1,5 miljoen of meer per jaar is, sal in die 2018-’19-boekjaar ’n geraamde R134,6 miljard se belasting betaal, al maak hulle net 1,5% van die geregistreerde individuele belastingpligtiges uit.

Dié syfers is vervat in die begrotingsoorsig wat saam met die nasionale begroting op 21 Februarie in die parlement ter tafel gelê is.

Die tesourie verwag om in 2018-’19 R505 miljard uit persoonlike inkomstebelasting in te samel.

Persentasiegewys kom die tweede grootste bydrae van 16,7% van die totaal van sowat 575 000 individue met ’n jaarlikse inkomste van tussen R500 000 en R750 000.

Dié belastingbetalers sal ’n geraamde R84,5 miljard se persoonlike inkomstebelasting betaal.

Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: Deon Raath

Die sowat 934 000 individuele belastingpligtiges wat tussen R350 000 en R500 000 per jaar verdien, dra 14,4% tot die regering se inkomste uit persoonlike inkomstebelasting by.

Hulle maak 12,5% van die individuele belastingpligtiges uit.

Dawie Roodt, ekonoom van die Effi­cient Group, het by ’n onlangse byeenkoms van die Vryemarkstigting in Johannesburg gesê minder as 2 miljoen individuele belastingbetalers betaal 81% van die totale persoonlike inkomstebelasting.

Sowat 38% van die regering se inkomste kom uit persoonlike inkomstebelasting, en 26% uit belasting op toegevoegde waarde (BTW), terwyl sowat 19% van maatskappybelasting kom.

Volgens Roodt is die marginale belastingkoers van 45% op individue wat meer as R1,5 miljoen per jaar verdien van die hoogste in die wêreld.

Enkele lande met ’n hoër koers is Japan, Frank­ryk en Oostenryk.

“Teoreties gesproke moet ontluikende ekonomieë soos Suid-Afrika laer direkte belasting en hoër indirekte belasting (soos BTW) hef, maar ons tree soos ’n ryk land op,” sê hy.

Panama Papers

Die SAID het reeds meer as R3 miljard uitgewys wat hom toekom ingevolge die Spesiale Vrywillige Openbaarmakingsprogram (SVDP) waaronder belastingbetalers wat nie hul volle belastingverpligting nagekom het nie, hul buitelandse bates en inkomste aan die belastinggaarder kon openbaar ten einde boetes vry te spring.

Altesame 195 ultrarykes het in die vensterperiode van 1 Oktober 2016 tot 31 Augustus 2017 onder die SVDP buitelandse bates verklaar, sê die SAID in ’n verklaring wat Donderdag uitgereik is.

Die belastinggaarder het ooreenkomste vir sowat R3,3 miljard se belasting gesluit.

Meer as R2,7 miljard is reeds betaal en nog R580 miljoen behoort einde Maart betaal te wees. Van die ooreenkomste volg op inligting uit die “Panama Papers”.

Belastingbetalers wat die SVDP-spertyd verpas het, kan steeds deur die normale openbaarmakingsprogram hul belastingsake in orde kry.

Die BTW-koers is vir die eerste keer sedert 1993 met 1 persentasiepunt tot 15% verhoog en sal ’n geraamde R22 miljard vir die staatskoffers beteken.

Dit is nie in alle kringe goed ontvang nie.

Volgens die begrotingsoorsig het Suid-Afrika se persoonlike inkomstebelastinglas stelselmatig gestyg van 8,3% van BBP in 2010-’11 tot 9,8% in 2017-’18.

Nog ’n verhoging in persoonlike inkomstebelasting in die huidige begroting sou erger gevolge vir groei en belegging hê as ’n hoër BTW-koers, volgens die oorsig.

Roodt sê terwyl ’n land soos Amerika maatskappybelasting van 35% tot 21% verlaag, is die koers in Suid-Afrika op 28% steeds taamlik hoog.

In Suid-Afrika betaal 234 maatskappye 46% van die totale maatskappybelasting.

Hou in gedagte dat min ondernemings eintlik self die belasting betaal: Hulle gee dit deur na die verbruiker, betaal hul werknemers minder of betaal laer dividende aan aandeelhouers, sê Roodt.

Intussen sê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) hy is verbind daartoe om die inkomsteteiken van R1 217 mil­jard wat in die nasionale begroting aangekondig is, teen die spertyd van 29 Maart te haal.

Luidens ’n verklaring het die belastinggaarder reeds op 22 Februarie die R1 000 miljard-kerf in belastinginkomste vir die jaar verbygesteek.

Tom Moyane, SAID-kommissaris, het in die verklaring gesê hulle fokus om enige “inkomste-lekkasies” te keer, en die SAID-personeel werk hard om die teiken te haal ondanks die moeilike ekonomiese klimaat.

Ismail Momoniat, ’n adjunk-direkteur-generaal in die departement van finansies, het onlangs op ’n mediakonferensie gesê die feit dat die SAID sy insamelingsteiken met ’n geskatte R48 miljard gaan mis, is nie net weens die swak ekonomie nie, maar ook weens administratiewe en korporatiewe kwessies by die belastinggaarder, het Fin24 berig.

“Dit is waarom ’n kommissie van ondersoek kom.”

Pres. Cyril Ramaphosa het die ondersoek aangekondig op versoek van die minister van finansies.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.