Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
SAID samel tot R140 mjd. te min belasting in

’n Tekort van R50 miljard in belastinginvordering vir die lopende boekjaar, of in die ergste scenario selfs R140 miljard, word deur belastingkenners van die ouditgroep Mazars verwag.

Die invordering van persoonlike inkomstebelasting is 2% laer as ’n jaar gelede en dié van BTW 5% minder.

Graham Molyneux, belastingvennoot van Mazars, het op ’n voorlegging oor die komende mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) gewys op die verswakking in die staat se invordering van belasting oor die afgelope paar jaar. In Februarie se begroting was daar voorstelle om ’n ekstra R15 miljard in te samel deur opsies soos om nie belastingkerwe vir inflasie aan te pas nie. Dit alleen sou sowat R12 miljard inbring, is verwag.

Mike Teuchert, nasionale hoof van belasting by Mazars, wys op die afname in werklike belastinginvorderings in die afgelope boekjaar.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens moet vir die lopende boekjaar R1 422 miljard insamel, maar het tot dusver vanjaar nog net 37% daarvan ingesamel. Dit is reeds 3% minder as die insamelings van ’n jaar gelede.

Daar is dus skeptisisme oor of die SAID sy teikens gaan haal.

Intussen is die SAID se eie begroting dieselfde as vyf jaar gelede, wat beteken hy het nie genoeg geld om sy eie bedrywighede te finansier nie.

Die invordering van persoonlike inkomstebelasting is ook 2% laer as ’n jaar gelede en dié van BTW 5% minder. Daar is ook nog BTW-terugbetalings wat nog nie afgehandel is nie.

Teuchert verwag daar sal ’n tekort van R50 miljard in belastinginkomste wees. Molyneux meen die tekort kan selfs in die ergste scenario tot R140 miljard groei. Die twee opsies om die gaping te vul, is om besteding te sny of om meer skuld aan te gaan.

Teuchert wys daarop dat invordering van die sogenaamde sondebelasting (aksyns op drank en tabakprodukte) wel fluks groei.

Bernard Sacks, nog ’n belastingvennoot van Mazars, waarsku egter dat die stryd teen onwettige tabakhandel nog nie gewen word nie, wat ’n impak het op belastinginvordering.

Oor BTW meen Sacks die toename in BTW-terugbetalings kan ’n goeie teken wees, want dit kan dui op groei in uitvoer, aangesien uitvoerders hul BTW-betalings kan terugeis. Molineux sê daar is begroot vir R80 miljard se uitbetaling van BTW, terwyl R98 miljard uitbetaal is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.