Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Jan Taks se beursie leër as 2 jaar gelede

Die regering het heelwat meer belasting ingevorder as wat in Junie en Oktober verlede jaar verwag is, maar dit is steeds 7,8% minder as wat in die vorige boekjaar ingesamel is.

En dit is steeds byna 3% minder as wat in 2018-’19 ingesamel is, wys die voorlopige syfers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vir belastinginvordering in die 12 maande tot einde Maart.

Die staat se belastinginkomste was die afgelope jaar sowat 7,8% laer. Foto: iStock

Die SAID het R1 541,1 miljard se belasting ingevorder in die jaar tot einde Maart, maar met terugbetalings van R290,9 miljard bring dit die netto invordering op R1 250,2 miljard te staan, wat darem R137,6 miljard meer is as die R1 112,5 miljard wat nog met die mediumtermynbegroting in Oktober verwag is.

Die laer belastinginkomste weerspieël die ekonomiese inkrimping in 2020 weens die Covid-19-pandemie, asook die administratiewe uitdagings wat dit vir die SAID meegebring het, het Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, Donderdag gesê.

Só is belasting ingevorder
  • Persoonlike inkomstebelasting: R488,6 miljard is ingevorder, wat 39,1% van totale belastings verteenwoordig en net R4,2 miljard of 0,9% meer is as die hersiende beraming in Februarie se begroting.
  • Belasting op toegevoegde waarde (BTW): R330,7 miljard is ingevorder, wat 26,5% van alle belasting verteenwoordig, en dit is R2,5 miljard of 0,6% meer as wat in Februarie verwag is.
  • Maatskappybelasting: R204,7 miljard is ingesamel, wat 16,4% van totale belasting verteenwoordig. Dit was R12,5 miljard of 6,5% meer as wat in Februarie verwag is.
  • Brandstofheffing: R75,2 miljard is ingevorder. Dit is net 0,03% meer as wat in Februarie verwag is, maar R4,9 miljard of 6,1% minder as die vorige jaar weens minder brandstofverkope deur plaaslike raffinaderye. Dit bedra 6% van totale belastinginvordering.

Hoekom is dit beter as verwag?

Wat gehelp het dat belastinginvordering beter was as verwag, is veral die internasionale ekonomie wat effens beter herstel het as wat voorheen voorsien is – veral danksy die gevestigde ekonomieë wat nie so erg as verwag gekrimp het nie, tesame met ’n veerkragtiger herstel in China.

Die beter as verwagte herstel in plaaslike ekonomiese bedrywighede nadat die inperkings verslap is, het ook bygedra tot beter as verwagte belastinginvordering. Die SAID kon in die laaste kwartaal van 2020 meer maatskappybelasting invorder danksy beter internasionale kommoditeitspryse wat die mynmaatskappye laat blom het.

Dié tendense is reeds gesien toe die SAID vroeër vanjaar sy belastingsyfers vir die nege maande tot einde Desember bekend gemaak het, wat toe ook die nasionale tesourie gehelp het om af te skaal op sy aanvanklike mikpunt om in Februarie se begroting belasting te verhoog. In plaas daarvan het die tesourie besluit om eerder belastingverligting te bied in die vorm van belastingkerwe wat vir ’n slag weer met inflasie aangepas is.

Kieswetter wys egter op lopendebetaalstelsel-belasting – die persoonlike belasting wat werkgewers outomaties namens hul werkers van hul salarisse aftrek en aan die SAID oorbetaal – wat steeds traag gebly het weens minder mense wat bonusse ontvang het, asook indiensneming en salarisverhogings wat ’n knou gekry het.

Terwyl die voorlopige invordering tot einde Maart 2,9% minder is as wat in 2018-’19 ingevorder is, het die SAID steeds ’n stywe teiken gekry om te jaag vir die nuwe boekjaar tot einde Maart 2022. Hy moet mik vir R1 365,1 miljard se invorderings – wat 9,2% of R114,9 miljard meer is as wat hy pas ingevorder het.

Kieswetter verduidelik die aannames vir dié teiken is ’n verwagte nominale BBP-groei van 8,8% vir vanjaar, en ’n belasting-tot-BBP-verhouding van 25,5%.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.