Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Jan Taks soek die régte soort spesialiste

Toe die Suid-Afrikaanse Inkomstediens 500 poste vir belastingspesialiste adverteer, het hy 88 000 aansoeke gekry – 15 000 daarvan uit eie geledere en 8 000 van gegradueerdes wat nie reeds vir hom werk nie.

Die SAID pleit vir afgetrede geoktrooieerde rekenmeesters of dié wat na aan aftrede is om vir ’n tyd te kom uithelp.

Jean du Toit, tegniese hoof van belasting by Tax Consulting SA, sê dis kommerwekkend. Die SAID het in 2020 net meer as 12 000 werknemers gehad. Baie van hulle het vir meer as een pos aansoek gedoen.

Die feit dat soveel van hulle na nuwe poste wil skuif, wys daar is waarskynlik kundige amptenare wat onderbenut of in die verkeerde poste is, of misgekyk word vir bevordering.

Du Toit sê belastingspesialiste in die land is beperk. “Belasting raak aan kommersiële bedrywighede wat jy moet verstaan en leer deur verskillende sake te hanteer.”

Daar is steeds voortreflike amptenare by die SAID, maar die meer as 2 000 kenners wat sedert 2014 bedank het, het vir seker ’n vakuum gelaat, sê hy.

LEES OOK: Brandarm maar hy ry ’n Ferrari

Dit word beskou as ’n belangrike rede waarom die SAID nie al die belasting kan invorder wat hom toekom nie en jaarliks ’n paar miljard vir die staatskas verbeur.

Hoewel baie beroepsmense met belasting werk, is baie daarvan die indien van belastingopgawes en nakoming. Du Toit raam sowat 5% van die mense wat in die belastingveld werk, is “belastingspesialiste”.

Die SAID het in ’n verklaring gesê heelwat aansoekers het M- en D-grade agter hul naam en 755 geoktrooieerde rekenmeesters het aansoek gedoen vir spesialisposte in inligtingstegnologie, databestuur, oudit en risiko en as spesialisondersoekers en ouditeurs.

Poste vir onder meer senior spesialiste in trusts, dataontleding en spesialiste in navorsing en produkontwikkeling oor maatskappybelasting is weer geadverteer omdat daar nie genoeg aansoeke ontvang is nie.

Saam met dié werwingsveldtog vra die SAID ook hulp van afgetrede geoktrooieerde rekenmeesters of dié wat na aan aftrede is om vir ’n tyd te kom uithelp.

Verlede maand het regter Dennis Davis, voorsitter van die Davis-belastingkomitee wat verskeie verslae oor die belastingstelsel saamgestel het en nou ’n konsultant vir die SAID is om van die aanbevelings te help uitvoer, gesê die SAID en die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) finaliseer ’n memorandum om afgetrede rekeningkundiges na die belastinggaarder te lok.

Meer onlangs het hy volgens Business Day by ’n geleentheid van PSG gesê as tussen 100 en 150 belasting- en forensiese kenners by die SAID kan aansluit, sal dit ’n groot hupstoot wees vir belastingnakoming.

Willi Coates, ’n senior bestuurder by Saica, het aan Rapport gesê die instituut is in gesprek met die SAID oor hoe Saica en sy lede kan help. Die SAID het nog nie spesifieke vereistes gegee oor die werkers waarna hy soek nie, sê Coates, maar Saica sal met sy lede gesels wanneer hy dit kry.

Du Toit sê as die SAID sy regsafdeling kan versterk om belastingbetalers op te skroef wat hul belastingplig versuim of ontduik, sal dit ’n groot verskil maak. Enigeen wat die gevolge sien van belastingontduiking sal twee keer dink voordat hulle die SAID probeer mislei, sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.