Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Jan Taks soek sy deel by dié flambojante kerke
kerke, belasting
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wil sy pond vleis van flambojante kerke insamel. Foto: Unsplash

Flambojante kerke in Suid-Afrika, wie se leiers dikwels hul rykdom openlik met luukse motors, peperduur huise en soms selfs private stralers vertoon, is nou vir belastingdoeleindes ook in die owerhede se visier.

Kort voordat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag sy begrotingsrede in die parlement gelewer het, het hy aan joernaliste gesê hy glo dié soort kerke moet toepaslik belas word.

Hy het gesê hy het onlangs getwiet oor “hierdie slang-etende kerke wat slange en gras aan mense voer en in die naam van God oor hulle stap”.

“Maar dan wys hulle hul rykdom in die vorm van groot motors waarvan die deure opwaarts opmaak. Hulle het ook private stralers, maar hulle betaal nie belasting nie.

“Hulle doen dit alles in die naam van God. Ek sê dat ons hulle moet belas.”

Volgens Mboweni verrys dié soort kerke oral.

“Gemeentelede lewer dan geldelike bydraes, maar die ouens (die pastore) betaal nie die toepaslike belasting daarop nie.”

Volgens Mboweni moet dié soort wetteloosheid in Suid-Afrika in sy spore gestuit word.

“Ons moet reg en orde herstel.

“Hierdie slang-etende kerke voldoen nie aan die belastingswette nie. Ander kerke doen dit wel.”

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het gesê kerke word geklassifiseer as openbare voordeelorganisasies wat gewoonlik van belasting gevrywaar word.

Volgens hom vind misbruik ten opsigte van belastingwetgewing egter plaas omdat werknemers van sulke kerke se salarisse byvoorbeeld nie belas word nie. Dit terwyl hulle veronderstel is om belasting te betaal.

Kieswetter het gesê dat die (SAID) egter vanjaar begin het met ondersoeke om te verseker dat dié soort kerke aan die belastingwetgewing voldoen.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Inkomstediens  |  Belasting  |  Begrotingsrede  |  Begroting2020  |  Kerk  |  Taks  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.