Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting 2018
Jan Taks trek sy sokkies op

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) mik daarna om in die 2018-’19-boekjaar R1 345 miljard aan belasting in te samel, sowat 10% meer as die afgelope boekjaar.

Volgens die voorlopige syfers het Jan Taks in die 2017-’18-boekjaar R1 216,6 miljard ingesamel, R700 miljoen of 0,06% minder as sy teiken, het Nhlanhla Nene, minister van finansies, in Pretoria aangekondig. Dit is wel groei van 6,3% (of R72,4 miljard) teenoor 2016-’17.

Die hoofbronne van inkomste was:

  • Persoonlike inkomstebelasting – R462,5 miljard (38%);
  • BTW – R297,8 miljard (24,5%);
  • Maatskappybelasting – R220,2 miljard (18,1%); en
  • Doeanebelasting – R49,4 miljard (4,1%).

Dr. Randall Carolissen, uitvoerende hoof van navorsing van die SAID, sê die tekort word toegeskryf aan BTW (wat R1,6 miljard onder die teikenbedrag was), dividend-terughoudingsbelasting (-R1,2 miljard), die brandstofheffing (-R300 miljoen), maatskappybelasting (-R300 miljoen) en persoonlike inkomstebelasting wat die teiken met R100 miljoen gemis het.

2018: Van links is Mark Kingon, waarnemende SAID-kommissaris, Nhlanhla Nene, minister van finansies, en Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies.

Die SAID het ’n bruto bedrag van R1 451 miljard ingesamel waaruit terugbetalings van R234,3 miljard gedoen is.

Nene sê inkomste-insameling word sterk beïnvloed deur die ekonomie, fiskale beleidskeuses, administratiewe doeltreffendheid en belastingmoraliteit, wat bepaal in watter mate mense hul belastingverpligtinge nakom. Ander sleutelfaktore is sake- en verbruikersvertroue en die geloofwaardigheid van die belastingowerheid.

Volgens die belastinggaarder was daar sedert die finansiële krisis in 2008 ’n agteruitgang in belastingnakoming, soos blyk uit die algehele toename in die uitstaande belastingopgawes vir alle soorte belasting.

Nene sê die SAID is egter meer bekommerd oor die toenemende neiging by sakeondernemings om belastings soos BTW en dit wat ingevolge die lopendebetaalstelsel (LBS) – “pay-as-you- earn” of PAYE – namens die SAID ingesamel word, terug te hou.

“Die SAID het uitreikstappe en afdwinging verbeter en oproepsentrums en sy kantoorpersoneel het meer as ’n miljoen oproepe na belastingbetalers gemaak.

“Ons veldtog om uitstaande opgawes in te kry, sal vanjaar versterk word om die probleem te bekamp.

“Die SAID werk ook met die departement van justisie saam om vervolging vir belastingoortredings te bespoedig.”

Carolissen sê die nakoming van LBS-indiening het van 83,9% in 2008-’09 tot 69% in 2017-’18 gedaal. Vir BTW-indiening het nakoming oor dieselfde tydperk van 79,1% tot 61,2% verswak.

LBS, die grootste bydraer tot inkomste, het in 2017-’18 met 8,6% gegroei teenoor die vorige jaar, maar dit is veel laer as die groei van meer as 12% wat al voorheen behaal is.

“Dit dui op die druk in die werkomgewing,” sê hy.

Volgens die SAID het sy inkomste vir die tydperk Desember 2017 tot Februarie 2018 op ’n maandgrondslag met tussen 9,5% en 15,5% gegroei, wat die gemiddelde jaargroei tot 7,3% opgestoot het.

Die sterk groei was danksy groter sakevertroue en dus beter winsvooruitsigte en ook hoër voorlopige belastingbetalings, hoë­r kommoditeitspryse, wat maatskappye se inkomste ’n hupstoot gegee het, en ’n sterker rand einde 2017 wat invoerders gehelp en handelsbelastings vir die SAID opgestoot het.

In Maart het sy inkomste egter op ’n maandgrondslag ingekrimp en die jaargroeikoers tot 6,3% afgedruk.

Volgens Nene was dividendbelasting R3,9 miljard minder as die vorige jaar, toe maatskappye in afwagting van ’n hoër belastingkoers op dividende besonder groot dividende verklaar het.

Weens die korter sakemaand in Maart het doeanekantore hul state ook twee dae vroeër as normaalweg afgesluit en só is R1,8 miljard se inkomste na die volgende boekjaar geskuif.

Mark Kingon, waarnemende SAID-kommissaris, sê die Inkomstediens se rol is kritiek en as die diens nie werk nie, werk die land nie.

Hy het die SAID en sy sowat 14 000 personeellede daartoe verbind om sy mandaat van belastinginsameling op ’n doeltreffende en professionele manier uit te voer.

Hy het gesê die SAID sal daarop fokus om sy geloofwaardigheid te herstel.

“Maar ons kan net ons werk doen as daar belastingmoraliteit is, dus as belastingbetalers belasting betaal omdat dit die regte ding is om ons land te bou.”

Belastingbetalers wat hul verpligtinge nakom, is onontbeerlik in die maatskaplike verdrag om die land te bou en te laat groei, om te verseker mense se lewenspeil verbeter en hulpbronne word regverdig verdeel, het hy gesê.

  

Toe en nou

  

2017: Tom Moyane, toe nog SAID-kommissaris, en Malusi Gigaba, toe nog minister van finansies. Foto: Deon Raath

Die bekendmaking van die voorlopige belastinginkomste vir 2017-’18 in die afgelope week in Pretoria was ’n heel ander affêre as ’n jaar gelede.

Toe was Malusi Gigaba, vorige minister van finansies, en Tom Moyane, geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), agter die tafel.

Vanjaar, onder leiding van Nhlanhla Nene, minister van finansies, en Mark Kingon, waarnemende kommissaris, was die atmosfeer gemoedeliker en die trant van die aanbiedings geensins aanvallend nie.

Die SAID se fokus was daarop om Jan Taks se geloofwaardigheid te herstel.

Hier volg ’n paar vergelykings oor hoe dit gedoen is: 

  

2017 

  

Tom Moyane in sy amp as SAID-kommissaris, oor: 

  • Die SAID se geloofwaardigheid:

“Ek moet waarsku dat ons die begin opmerk van ’n ontstellende neiging dat vlakke van belastingnakoming agteruitgaan.

“Ons glo voortgesette negatiewe mediaberiggewing en opmerkings deur mense buite die SAID die afgelope 18 maande het ’n negatiewe uitwerking op belastingbetalers en belastingmoraliteit wat betref hul vertroue in die belastingstelsel.”

Hy het uit ’n mediaberig aangehaal: “Die grootste probleem wat ons vandag in Suid-Afrika het, is die wegkalwing van die SAID se integriteit.”

Moyane sê: “Ons vind dit problematies. Ons beskou die suggestie as ongegrond, onregverdig subjektief en van alle feite gestroop.”

  • Doeltreffende diens en prysenswaardige optrede:

“ ’n Belastingrevolusie is iets waarvoor ons versigtig moet wees, wanneer mense in menigte besluit om nie belasting te betaal nie. Dit kan deel wees van aanhitsing dat mense nie belasting moet betaal nie.

“Ondanks die konstante stortvloed van negatiwiteit teenoor ons organisasie deur sommige in die openbare domein, bly die SAID steeds baie suksesvol met die insameling van persoonlike inkomstebelasting.

“Alles is wel met persoonlike inkomstebelasting. Die enigste probleme is ekonomies van aard.”

  • Vaardighede:

“Die verlies aan kundigheid is bloot onwaar,” het Moyane op ’n vraag geantwoord.

“Ek is onseker oor jou bron dat 55 senior amptenare die SAID verlaat het sedert ek as kommissaris aangestel is.

“As ek my handpalm kan gebruik – een senior amptenaar het gegaan.

“Waarom begin ons nou die vermoë van die SAID-leierskap bevraagteken as hulle hul werk doen en dit regkry om te transformeer?”

  

2018 

 

Mark Kingon, waarnemende SAID-kommissaris, oor: 

  • Die SAID se geloofwaardigheid

“Ek voel nederig dat die rol (van waarnemende kommissaris) aan my toevertrou is en ek . . . wil voortgaan om ’n diens aan die land te lewer en by te dra waar ek kan.”

Die SAID, ondanks pyn in die onlangse verlede, bly ’n sterk organisasie, met sterk fondamente, gesonde stelsels en veerkragtige mense.

“Ons fokus in die onmiddellike toekoms is om geloofwaardigheid te herstel, veral ons verhouding met die belastingbetaler.” Dit strek van die spazawinkel-eienaar wat met BTW-verwante goedere werk, tot by superrykes met buitelandse bates.

  • Doeltreffende diens en prysenswaardige optrede: 

“Ons by die SAID wil ’n uitstekende, regverdige en professionele diens lewer aan elkeen wat ons kontak.

“As ons dit doen, sal mense ’n ander persepsie hê van hul belastingverpligting: ’n patriotiese een wat daaroor gaan om die regte ding te doen.

“Ons wil terugkeer na die basiese en eenvoudig doen wat reg is. Ek moet dit benadruk: Dit is waartoe ek my verbind, om die regte ding te doen.”

  • Vaardighede: 

Een van dié beginsels is om aandag te gee aan die vaardighede in die Inkomstediens sodat hy sy mandaat van belastinginsameling kan vervul en die uitdagings kan hanteer van onder meer oordragprysing en die erosie van belastingbasisse.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.