Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting 2018
Jan Taks vorder flinker in, maar haal nie teiken

Die ekonomie is dalk traag, maar die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vorder flukser belasting in as tevore.

Hoër BTW het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gehelp om sy belastinginvordering skerp te verhoog in die tweede kwartaal van die jaar.

Jan Taks het in die tweede kwartaal – tot einde Junie – R302,2 miljard ingesamel. Dis 9,7% hoër as die ooreenstemmende kwartaal in 2017.

Dit word grootliks toegeskryf aan hoër BTW-insamelings nadat die verhoogde BTW-koers van 15% op 1 April vanjaar van krag geword het.

Die laaste keer wat die SAID die belastinginkomste met 9,7% of meer verhoog het op ’n jaargrondslag, was in die 2013-’14-belastingjaar toe belastinginkomste met 10,6% gestyg het. Sedertdien het die SAID se vermoë om die belastinginkomsteteiken te haal, stelselmatig afgeneem.

Tom Moyane, die geskorste SAID-kommissaris, het toe oorgeneem. Moyane word nou deur ’n tugverhoor in die gesig gestaar nadat pres. Cyril Ramaphosa hom in Maart geskors het.

Die goeie kwartaal wat Jan Taks gehad het, is ook te danke aan brandstofheffings wat teen R17,9 miljard 9,2% hoër was as die vorige jaar. Die petrolheffing is in April met 22 sent per liter verhoog.

In ander kategorieë is die SAID egter agter:

  • Persoonlike inkomstebelasting (R112,1 miljard) is net 7,8% hoër as die vorige jaar terwyl die teiken ’n verhoging van 9,7% is.
  • Korporatiewe belasting (R55,9 miljard) is net 4% hoër terwyl die teiken 8,2% is.
  • Ook belastings op internasionale handelstransaksies (R9,8 miljard) was net 4,8% meer in plaas van 8,2%.

Die algehele goeie kwartaalvertoning is egter nie genoeg om die fiskus se geldsake te laat klop nie. Dis steeds minder as die vereiste 10,6% groei vir die 2019-belastingjaar om sy teiken vir die volle jaar te haal soos uiteengesit in die begrotingsrede in Februarie. Die SAID moet R1 345 miljard vir die jaar insamel.

Kyle Mandy, tegniese hoof van nasionale belasting by PwC Suid-Afrika, sê die kwartaalsyfer wys die SAID is effens agter met sy inkomste om die 2018-’19-belastingteiken te haal. Gegewe die syfers vir die eerste drie maande van die belastingjaar, kan die SAID sy teiken met tussen R6 miljard en R10 miljard mis.

Vir die 2017-’18-belastingjaar het die SAID se insameling ook R48 miljard tekort geskiet gemeet aan die aanvanklike teiken. “Daar is tyd om in te haal, maar die risiko is daar dat die vooruitskatting erger kan word,” sê Mandy.

Dennis Dykes, hoofekonoom van die Nedbank-groep, sê die belastinginvorderingskoerse weerspieël ’n pap plaaslike ekonomie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.