Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting 2018
‘Kom ons maak taks (weer) vervelig’

Die 2018-belastingseisoen was nog net drie dae oud toe Mark Kingon, waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), die afgelope week ’n WhatsApp-boodskap ontvang van ’n voormalige SAID-werknemer wat só lui: “Wat het gebeur by die SAID?”

Mark Kingon, waarnemende kommissaris van die SA Inkomstediens. Foto: Deon Raath

Die frons op sy gesig het gelukkig vinnig in ’n glimlag verander soos hy verder gelees het: “Ek het my opgawe ingedien en al die ondersteunende dokumente aangeheg. Toe kry ek ’n SMS van die SAID wat ontvangs erken.”

Kingon lees die boodskap hardop voor tydens ’n onderhoud met Rapport. Hy is duidelik ingenome. Dit wys die nuwe stelsel om beter met belastingbetalers oor hul opgawes te kommunikeer, werk, sê hy.

Die SMS-stelsel is vanjaar ingestel om stap vir stap in die proses doeltreffend met belastingbetalers te kommunikeer .

“Dit is ’n indrukwekkende instrument wat grootliks deur ’n interne span ontwerp is. Dit kan ’n SMS of e-pos of albei wees en kan na die belastingbetaler en -praktisyn gaan, of na een van die twee.

“Om so ’n boodskap van ’n voormalige werknemer te kry . . . Ek is baie in my noppies, want dit is die soort diens wat die SAID moet lewer,” sê Kingon.

Dinge moet werk. Die fokus van die huidige belastingseisoen is juis om dit so maklik moontlik vir belastingbetalers te maak om hul opgawes in te dien en hul belastingverpligtinge na te kom.

Daarom was Kingon een van die eerste mense wat Maandag met die opening van die belastingseisoen sy eFiling-dokumente nagegaan het om te sien of die bykomende inligting oor byvoorbeeld uittreeannuïteite wat nou outomaties daar moet verskyn, wel ingevul is.

Kingon glimlag weer – dit wás alles daar.

Die gemiste teiken

’n Groot taak lê voor met ’n inkomsteteiken van R1 345 miljard. Die SAID onder die geskorste kommissaris, Tom Moyane, was die laaste paar jaar weens verskeie beweerde ongerymdhede in die nuus en hy het sy teiken vir die vorige seisoen met R50 miljard gemis.

Mark Kingon, waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, loof werknemers van die belastingdiens vir hul toewyding. Foto: Deon Raath

Kingon erken ’n lae moreel onder werknemers is ’n ernstige kwessie. ’n Mens moet bewus wees van hoe moeilik dit vir personeel is in ’n omgewing waar jou baas konstant in die spervuur is, sê hy met verwysing na Moyane.

Sedert Kingon in Maart as waarnemende kommissaris aangestel is, het hy ’n punt daarvan gemaak om gesprekke met die personeel te hê. Hy het SAID-kantore en -takkantore besoek om te hoor wat die mense op die grond sê en doen moeite om almal in die hoofkantoor te leer ken.

“Werknemers van die SAID is toegewyd. Hulle wag net op marsbevele en wil leierskap met integriteit sien. My motto is eenvoudig: Doen wat reg is. Ek sê dit baie, en my personeel sê dit nou al self as hulle my net sien aankom.”

Prakties beteken dit om binne die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies en alle belastingwette te bly. As jy twyfel, vra, sê hy.

Slapelose nagte

Met die aanvang van die belastingseisoen die afgelope week het Kingon gesê die insamelingsteiken gee hom slapelose nagte.

Dit is hoog en die ekonomiese inkrimping in die eerste kwartaal maak dit reeds moeilik.

Maar dan vra hy homself of Jan Taks al die moontlike doen om te verseker dat almal wat moet betaal wel as belastingbetalers geregistreer is, dat hulle betaal wat hulle moet en dat opgawes akkuraat is. Dis ook dié uitdagings wat hom vir ’n oomblik laat weifel het toe hy vroeër vanjaar die oproep gekry het om waar te neem.

“Maar ek is my lewe lank in die staatsdiens en ek is bereid om te dien. Sowat 35 jaar gelede het ek in ’n kontantkantoor van die inkomstediens begin om geld te tel.”

Met sy aanstelling was hy groephoof: verhoudingebestuur in die eenheid vir maatskappy- en individuele belasting (BAIT).

Wenk: Maak dit maklik

As jy oor die insamelingsteiken praat, kan jy nie net oor personeelmoreel praat nie. Daar is ook die moreel van belastingbetalers en fasette daarvan wat insameling beïnvloed.

’n Groot taak lê voor met ’n inkomsteteiken van R1 345 miljard, sê Mark Kingon, waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: Deon Raath

Kingon sê die ekonomie speel ’n rol, en mense se houding teenoor nakoming word geraak deur hul indruk van die SAID en staatsbesteding. Die diens wat Jan Taks lewer, het ook ’n invloed: As jy dit maklik maak vir belastingbetalers, sal nakoming verbeter.

Dié belastingseisoen wil hy sien dat mense wat nie nodig het om opgawes in te dien nie, dit nie doen nie. Diegene wat minder as R350 000 per jaar verdien, net een inkomste het en geen aftrekkings het soos bykomende mediese uitgawes nie, hoef nie ’n opgawe in te dien nie.

Die laaste twee belastingjare het meer as 1,5 miljoen mense onnodig opgawes ingedien.

Uitstaande skuld aan die SAID beloop sowat R140 miljard. Kin­gon sê heelwat daarvan is in dispuut, wat beteken die belastingpligtiges het uitstel om te betaal, maar dan is daar ook mense wat bloot nie betaal nie.

Die belastinggaarder moet homself afvra wat doeltreffender gedoen kan word teen sulke mense, wat optrede teen die skuldiges insluit.

Die waarnemende kommissaris gee toe belastingbetalers is bekommerd oor korrupsie, maar sê daar is ’n magdom goeie goed wat in Suid-Afrika gebeur.

As die SAID die inkomste kan insamel wat die regering nodig het, belastingbetalers hul plig nakom en die proses werk, sal belasting weer vervelig wees – “soos dit hoort”, sê Kingon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.