Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
LP’s bekommerd oor rampfonds net vir Covid gaan

Die nasionale rampfonds word amper geheel en al vir die Covid-19-pandemie ingespan en LP’s is bekommerd oor die land se weerbaarheid as enige ander rampe nou sou tref.

So lyk 'n plaas in Boesmanland wat steeds onder die droogte gebuk gaan. Franchwa Batt het dié lugfoto van sy plaas geneem. Foto: Franchwa Batt

Die Nasionale Vergadering se staande komitee oor toedelings en die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor toedelings het Woensdagaand ’n gesamentlike sitting gehou oor die aanvullende begroting wat Tito Mboweni, minister van finansies, op 24 Junie ter tafel gelê het.

Bo en behalwe talle vrae oor hoe die begroting geld rondskuif, was LP’s erg bekommerd oor die rampfonds noudat soveel miljarde rande aan die stryd teen Covid-19 bestee word. Die nasionale ramptoestand is al sedert 15 Maart in werking.

LP’s reken dit is wensdenkery om aan te neem dat Covid-19 die enigste ramp sal wees wat vanjaar op die nasie toesak.

Willie Aucamp van die DA het as voorbeeld genoem dat daar klaar niks meer geld vir droogtehulp oor is nie. Die tesourie het R138 miljoen aan die rampfonds as voorsiening vir droogtes vanjaar toegedeel.

Volgens Aucamp is dit belaglik laag.

“Daar is R640 miljoen se aansoeke net vanuit die Noord-Kaap!” sê Aucamp.

Dele van dié provinsie gaan gebuk onder die ergste droogte nog. ’n Nasionale ramptoestand vir droogte is ook op 4 Maart verklaar.

Aucamp sê dit kan doodeenvoudig nie hanteer word met die min geld wat in die rampfonds vir droogtes oorbly nie.

Reinette Liebenberg, ook van die DA, stem saam.

“Droogteverligting is ontstellend laag in die nuwe begroting,” sê sy.

Aucamp sê dis maklik om te vergeet waarvandaan die land se kos kom, maar om van boere te vergeet is doodeenvoudig nie ’n opsie nie.

“Voedselsekerheid is nie ’n grap nie – en veral nie in ’n nasionale krisis nie. Ons moet saamstaan met ons boere en ons plaaswerkers.”

Steven Kenyon van die tesourie sê die toedeling aan die rampfonds vir droogteverligting is in konsultasie met die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, asook die departement van landbou en landelike ontwikkeling gedoen. Die druk op die staatskas is mooi aan die geraakte partye verduidelik en die finale syfer is so onderhandel.

Kenyon sê Gauteng en die Vrystaat het nog nie hul aansoeke vir droogteverligting ingedien nie, maar dis omdat hulle verstaan dat die rampfonds so uiters beperk is. Dié twee provinsies het eerder gekies om vanuit hul eie begroting vir boere verligting te bied.

Vir Aucamp is dit egter onaanvaarbaar – die droogte sleep voort en talle boere gaan soveel as moontlik verligting benodig. Hy waarsku dat voedselsekerheid in die gedrang gaan kom.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Staat Van Inperking  |  Ramptoestand  |  Droogte  |  Koronavirus  |  Boere  |  Vlak 3  |  Noodbegroting  |  Begrotingsrede  |  Voedselsekerheid  |  Landbou  |  Aanvullende Begroting  |  Inperking  |  Covid-19  |  Droogtehulp  |  Rampe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.