Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Maar Tito, waar is die plan? vra ekonome

Van daadwerklike planne oor hoe die land se ekonomie gered gaan word, was daar in Woensdag se spesiale aanpassingsbegroting nie veel te bespeur nie.

Tito Mboweni, minister van finansiesFoto: Elvira Wood

Dit was die algemene reaksie van ekonome wat Netwerk24 ná afloop van Tito Mboweni, minister van finansies, se aanpassingsbegrotingsrede gekontak het.

Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum, sê dit het haar veral opgeval dat daar nie regtig enige besonderhede gegee is oor hóé die regering beplan om die land se enorme skuldprobleem op te los nie.

Mboweni sê Suid-Afrika se bruto staatskuld gaan vanjaar tot digby R4 000 miljard styg. Dit gaan 81,8% van die bruto binnelandse produk (BBP) beloop. In Februarie was die voorspelling R3 560 miljard of 65,6% van die BBP.

“Met die mark wat bykans glad nie op Mboweni se toespraak gereageer het nie, is dit duidelik dat daar meer inligting gesoek word oor hóé dié probleem opgelos gaan word,” sê Packirisamy.

Al hierdie begrotings wat jaar ná jaar voorgelê word . . . dit gaan alles oor implementering. Waar is die plan dáárvoor?
Jeff Schultz van BNP Paribas

Jeff Schultz, ekonoom van BNP Paribas, stem saam. “Al hierdie begrotings wat jaar ná jaar voorgelê word . . . dit gaan alles oor implementering. Waar is die plan dáárvoor?”

Schultz sê dit is ook duidelik dat Suid-Afrikaners nog ’n ruk gaan moet wag vir meer besonderhede oor wat die staat se planne is.

Hoewel die minister wel genoem het dat sommige kwessies in Oktober aandag sal kry wanneer die mediumtermynbegrotingsraamwerk aan die parlement voorgelê word, dink Schultz Suid-Afrikaners gaan eerder tot Februarie vir dié inligting moet wag.

Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu, sê dié vakverbond is “uiters teleurgesteld” oor die “oninspirerende en bedeesde” rede.

“Dit is nie ’n begroting wat geskik is vir ’n land wat in ’n diepe resessie is nie, met ’n uitgebreide werkloosheidsyfer van 40% en met miljoene meer werkers wat afleggings in die gesig staar nie,” sê hy in ’n verklaring.

“Ons het gehoop op ’n verbeeldingryke begroting wat ooreenstem met die behoeftes van die land en ons ontwikkelingsdoelwitte, maar ons het ’n begroting gekry wat slegs sal dien om die huidige ekonomiese stagnasie te versterk.”

Niks nuuts

Lullu Krugel, hoofekonoom by PwC, sê nie een van die planne wat Mboweni bespreek het, is nuut nie. “Dit laat sterk vrae ontstaan oor die staat se vermoë om die ekonomie uit sy resessie te lig, en op sy beurt die vermoë om die fiskale tekort te verminder en openbare skuld te stabiliseer.”

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, waarsku dat sonder duidelike planne oor hoe die land sy skuldprobleem gaan oplos, is daar ’n groot kans dat kredietgraderingsagentskappe die land se skuld binnekort nóg verder tot rommel gaan afgradeer.

Dit is nie moontlik om voortdurend geld te leen om van skuld ontslae te raak nie. Daar kan ook nie onbepaald geleen word om skuldbetalings te kan maak en lopende uitgawes te finansier nie.
Annabel Bishop van Investec

Sy sê met Suid-Afrika se skuldlas wat na verwagting in 2023-’24 tot 87,4% van die BBP gaan styg, gaan dit nóg moeiliker vir die land wees om sy skuld in die toekoms te betaal.

“Dit is nie moontlik om voortdurend geld te leen om van skuld ontslae te raak nie. Daar kan ook nie onbepaald geleen word om skuldbetalings te kan maak en lopende uitgawes te finansier nie,” waarsku sy.

Verdere afgradering dreig

“Skuldrentebetalings moet gemaak word om wanbetaling te voorkom. Moody’s Investors Service se vooruitsig vir Suid-Afrika is reeds negatief. Die agentskap sal die land waarskynlik ná die begroting afgradeer.”

Sy sê hoewel Moody’s dit eers moontlik in November kan doen, kan hy wel besluit om dit vroeër te doen.

Volgens haar is die goeie nuus wel dat die verwagting is dat die 87,4% van die BBP waarskynlik die piek van die kurwe gaan wees, en nie selfs meer as 100% soos wat in die afgelope tyd bespiegel is nie.

Packirisamy stem saam dat daar ’n groot moontlikheid is dat verdere afgraderings gaan kom. “Die goeie nuus is dat Suid-Afrika reeds sy beleggingstatus verloor het. Die markte se reaksie behoort nie heftig te wees nie, selfs al word ons verder afgegradeer.”

Te oordeel na die mark se reaksie toe Moody’s die land in Maart wél tot rommel afgegradeer het, is dit duidelik dat dié verwikkeling lank reeds ingeprys was.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Noodbegroting  |  Begrotingsrede  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.