Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting 2018
Maatskaplike toelae kos SA nie veel meer

Maatskaplike toelae het wel vanjaar met meer as inflasie gestyg, maar as ’n persentasie van die begroting word nie veel meer daaraan bestee as in die verlede nie. Dit is vanjaar sowat 11,66% van die totale begroting, teenoor 11,56% verlede jaar, volgens Rapport se berekeninge (sien ook grafika heelonder).

Volgens prof. Murray Leibbrandt, ’n kenner van armoede en ongelykheid by die Universiteit van Kaapstad, het die begroting vir maatskaplike toelae die afgelope dekade “ten beste” in reële terme jaarliks dieselfde gebly as die vorige jaar.

Malusi Gigaba, minister van finansies, het in sy begrotingstoespraak Woensdag aangekondig maatskaplike toelae word vanjaar met meer as inflasie aangepas om “minstens gedeeltelik” op te maak vir die styging in BTW.

Inflasiekoers

Die inflasiekoers vir Januarie is 4,4% – die laagste in drie jaar.

Dié vlak is ook amptelik onder die middelpunt van 4,5% van die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6%. Die Reserwebank het die afgelope ruk beklemtoon dat hy die inflasiekoers in die middel wil hê voordat laer rentekoerse oorweeg sal word.

Die jongste syfers van Statistieke Suid-Afrika (SSA) wys pryse het tussen Desember en Januarie met gemiddeld 0,3% gestyg. Desember se inflasiekoers was 4,7%.

Die verlangsaming op ’n maandgrondslag is grootliks te danke aan die stadiger styging in die prys van voedsel en nie-alkoholiese drankies (1,3% op ’n maandgrondslag), en pryse van diverse goedere en dienste soos persoonlike sorg, versekering en finansiële dienste (0,7% hoër op ’n maandgrondslag). – Netwerk24

Ouderdomspensioen, die ongeskiktheidstoelaag en versorgingsafhanklikheidstoelaag styg vanaf 1 April van R1 600 tot R1 690, en vanaf 1 Oktober met nog R10.

Die kindertoelaag styg van R380 tot R400 op 1 April en tot R410 op 1 Oktober.

Volgens Gigaba is die totale begroting vir maatskaplike beskerming 7,9% meer as verlede jaar, wat bo inflasie is.

Leibbrandt sê die begroting vir maatskaplike toelae het in die 1990’s aansienlik gestyg, omdat dit toe ’n nuwe program was. Nou maak dit egter sin dat stygings net inflasieverwant sal wees en as ’n persentasie van die begroting redelik konstant sal bly.

Hy sê die maatskaplike program is een van die “grootste prestasies” van die regering ná die einde van apartheid.

“Dit word internasionaal as pionierswerk beskou,” sê hy.

Leibbrandt sê die gehalte van die implementering van die toelae het egter in die onlangse verlede gedaal.

“Dit is een van die maklikste dinge wat (pres. Cyril) Ramaphosa weer kan regstel.”

Terwyl die land nog nie ’n manier kon vind om mense te help om uit armoede te ontsnap nie, is dié “maatskaplike vangnet” noodsaaklik, sê hy.

Toerisme:

In Desember is 4,7 miljoen reisigers deur Suid-Afrikaanse doeanepunte. Daarvan was 1,39 miljoen Suid-Afrikaners en 3,24 miljoen buitelanders wat aangekom, vertrek of onderweg was.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het 2,7% meer toeriste (mense wat oornag het) in Desember die land besoek as ’n jaar tevore.

Die grootste styging was onder toeriste uit Brasilië (25% op ’n jaargrondslag), gevolg deur Indië (22,2%).

Toeriste uit lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het met 3,7% gestyg teenoor Desember 2016.

Meer as 98% van die toeriste was hier vir vakansie, 1,3% het die land besoek vir sake en die res vir studiedoeleindes. 
– Riana de Lange

“Gegewe die hoë werkloosheidsyfer sal mense absoluut verraai word as jy daardie vangnet wegvat,” sê hy.

Een van die afdelings van die begroting wat as ’n persentasie van die begroting die meeste gestyg het, is wat dit ons kos om ons skuld te delg.

Dit het van 7,64% in 2009 tot 10,87% vanjaar gestyg.

Die ekonoom Mike Schüssler sê skuld is nie altyd sleg nie, maar daar moet gekyk word na hoe doeltreffend die geld bestee word. Die skuld wat gemaak is om die land in 2009 uit die resessie te help, was byvoorbeeld ’n goeie besluit, reken hy.

Maar hy bevraagteken die vergroting van die skuldlas te midde van ’n stygende salarisrekening vir staatsamptenare.

Die onderwysbegroting het van 19,03% van die begroting in 2009 tot 21,19% van die begroting gestyg vanjaar.

Schüssler sê dis goed en wel ’n mens bestee meer, maar as die uitkoms nie danksy die besteding verbeter nie, beteken dit nie veel nie.

Nog ’n afdeling wat as persentasie van die begroting minder geword het, is verdediging, openbare orde en veiligheid. Dit sluit in die polisie, die weermag, staatsveiligheid, die howe, tronke en binnelandse sake.

Onder plaaslike ontwikkeling en infrastruktuur, wat ook gedaal het, val onder meer paaie, water en elektrisiteit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.