Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Dalk geen verhogings vir onnies, polisie vir 3 j.

Staatsamptenare se salarisse kan vir die volgende drie jaar bevries word.

mtbr2020
Tito Mboweni Woensdag buite die parlement in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Dié voorstel van Tito Mboweni, minister van finansies, en die nasionale tesourie in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) wat Dinsdag in die parlement ter tafel gelê is, gaan waarskynlik tot nog ’n grootskaalse uitval met vakbonde lei.

Die vakbonde het reeds vroeër vanjaar “oorlog” verklaar teen die regering nadat die laaste been van ’n driejaar-salarisooreenkoms nie eerbiedig is nie en staatsamptenare dus nie vanjaar ’n salarisverhogings gekry het nie.

Mboweni het daaroor in sy rede gesê die regering kan nie die derde jaar van die 2018-salarisooreenkoms eerbiedig nie omdat daar nie geld daarvoor is nie.

Vakbonde wil egter niks daarvan weet nie en verskeie van hulle het reeds die howe genader om die staat te dwing om vanjaar se salarisverhogings in te stel.

Wat hulle nog meer rooi gaan laat sien, is dat die MTBR lui dat die begrotingsriglyne ook “ ’n bevriesing van salarisse vir die volgende drie jaar” voorstel om fiskale konsolidasie te ondersteun.

“Bykomende keuses om te oorweeg, sluit in om staatsamptenare se beskikbare toelaes en voordele in ooreenstemming met mekaar te bring, terwyl reëls vir bevorderings ook heroorweeg moet word.

“Die volgende ronde salarisonderhandelings moet binnekort begin en werk word reeds gedoen om die staat se posisie te formuleer,” lui die MTBR.

Mboweni sê die regering is ook besig om te werk aan ’n omvattende vergoedingstrategie vir die staatsektor vir die medium- tot lang termyn. “Dit sal openbare ampsdraers, staatsentiteite en munisipaliteite insluit. Die strategie streef daarna om mededingende belange op grond van regverdigheid, gelykheid en bekostigbaarheid te balanseer.”

Salarisse moet as deel van totale staatsbesteding op mediumtermyn van ’n geraamde 32,7% in die begrotingshersienings vir 2020 tot 31,3% afneem.

Net in die 2020-’21-boekjaar sal die staat se salarisbegroting met R36,5 miljard moet daal.

“Meer as 80% van die totale salarisvermindering sal in die sektore leer en kultuur, gesondheid en die strafregstelsel wees omdat die meeste staatsamptenare daar is."

Die MTBR lui verder omdat onderwys, wetstoepassing en gesondheidsorg arbeidsintensief is, maak die salarisse van onderwysers, polisiebeamptes, dokters en verpleegsters ’n groot deel van hierdie departemente se begrotings uit.

Daarom het personeelgetalle tussen 2006-’07 en 2019-’20 met 16% van 1,15 miljoen tot 1,33 miljoen gestyg.

“Daar is 1,3 miljoen werknemers in nasionale en provinsiale departemente wat gesamentlik salarisse van R567 miljard in 2019-’20 ontvang het.

“Die afgelope 15 jaar het die staatsdiens se besteding aan vergoeding teen ’n onvolhoubare koers gegroei – byna 1,5 persentasiepunt vinniger as die groei in die bruto binnelandse produk (BBP).”

Statistieke wys ook dat staatsamptenare se salarisse die afgelope dekade baie vinniger as dié in die private sektor gegroei het.

Meer oor:  Staatskuld  |  Salarisse  |  Mtbr2020  |  Staatsiens  |  Mtbr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.