Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Middelklas dra swaar aan nuwe taks-las

Die middelklas gaan die spit afbyt weens die manier waarop belastings in vanjaar se begroting onregstreeks verhoog is.

Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag op pad na die nasionale vergadering om sy begrotingsrede te lewer. Foto: GCIS

Die staat het egter nie ’n ander opsie gehad nie, meen Dawie Roodt, ekonoom van Efficient Group.

Roodt sê die staat het ’n kritieke behoefte aan hoër inkomste, maar min maniere om dit in te vorder.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag in sy begrotingsrede onder meer aangekondig dat geen aanpassings vir inflasie vanjaar aan inkomstebelastingkerwe gemaak word nie.

Daardeur wil die tesourie ’n bykomende R12,8 miljard se inkomstebelasting invorder. Deur die belastingkrediete op mediesefondspremies onveranderd te laat, raam die staat dat hy nóg R1 miljard gaan invorder.

Volgens Rob Cooper, ’n belastingkenner by Sage en voorsitter van die Payroll Authors Group of South Africa, moes Mboweni doen wat hy kon om broodnodige inkomste in te vorder sonder om belastingbetalers te vervreem.

Suid-Afrikaanse belastingbetalers is op die punt van tou opgooi.
Rob Cooper

“Mboweni het besef dit is tyd dat die staat sy visier van maklike teikens haal om meer belasting in te vorder,” sê Cooper.

“Suid-Afrikaanse belastingbetalers is op die punt van tou opgooi. Al hoe meer mense vra hulself af of dit die moeite werd is om belasting te betaal as hulle reeds so swaar kry.”

In die lig hiervan is dit nie verbasend nie dat Mboweni op ’n subtiele manier meer inkomste probeer genereer sonder die belastinglas op verbruikers regstreeks te verhoog, sê Cooper.

As die las te hoog was, sou die risiko baie groot geword het dat mense onwettige maniere sou soek om belasting te ontduik.

Die onveranderde belastingkerwe beteken nie dat jy nou in rand en sent meer belasting gaan betaal nie. Dit beteken wel as jy ’n verhoging kry, kan jy moontlik oorskuif na ’n hoër kerf waar die staat jou meer kan belas op elke bykomende rand wat jy daar verdien.

inkomstebelasting

In 2018 het die begroting die onderste drie kerwe aangepas vir inflasie, en die laermiddelklas dus so beskerm teen in­flasionêre druk.

Maar ná 2019 se begroting is daar dus nou vir twee opeenvolgende jare geen inflasie-verwante aanpassing vir die boonste vier kerwe nie.

Al hoe meer salaristrekkers wie se salaris naastenby met inflasie tred gehou het, gaan dus nou kerwe begin oorsteek.

“Die laermiddelklas word die swaarste hierdeur geslaan,” sê Roodt.

Hy meen dié benadering word doodeenvoudig gebruik omdat die grootste deel van die belastingbasis in dié laer kerwe val, en dat dit dus hier is waar die staat die meeste inkomste kan genereer uit klein veranderinge.

Super­rykes kan daar en dan besluit om op ’n vliegtuig te klim Mauritius toe as die las groter word.
Rob Cooper

Die begroting het wel beskerming gebied vir die armste salaristrekkers deur die belastingkortings met 1,1% te laat styg en deur die belastingdrempel ook met 1,1% opwaarts aan te pas.

Die belastingdrempel is die bedrag waaronder mense geen persoonlike-inkomstebelasting betaal nie, en die kortings is wat mense op alle inkomstevlakke van hul inkomstebelasting mag aftrek.

Belastingdrempel so aangepas:

  • Jonger as 65: Styg van R78 150 tot R79 000
  • Van 65 jaar tot 75: Styg van R121 000 tot R122 300
  • Ouer as 75 jaar: Styg van R135 300 tot R136 750

Op die vraag hoekom die staat nie eerder die superrykes teiken nie, verduidelik Cooper daar is gewoon nie meer ruimte om enige deel van die belastingbasis regstreeks te teiken nie.

“Superrykes is die mobielste deel van die bevolking.

“Die belastingbasis in sy geheel is reeds op die punt waar hulle nie nog ’n hoër las sommer sal aanvaar nie, maar die super­rykes kan daar en dan besluit om op ’n vliegtuig te klim Mauritius toe as die las groter word.

“En hulle staan klaar naby aan daardie punt.”

 begroting 2019

Belastingkerwe is hoofsaaklik gekonsentreer aan die onderste helfte van die inkomsteverdelingspektrum.

Aangesien die staat grootliks sy beoogde R12,8 miljard méér inkomstebelasting kan invorder as individue van kerf verskuif, is die superrykes, wat reeds in die boonste kerf lê, taamlik beskerm teen dié spesifieke meganisme.

Cooper wys ook daarop dat die hoogste belastingkerf, en dus die rykste individue, reeds ’n enorme hoeveelheid belasting betaal.

Volgens die tesourie betaal dié 120 751 mense wat R1,5 miljoen per jaar en meer verdien – net 1,6% van belastingbetalers – reeds 28,9% van alle persoonlike-inkomstebelasting.

Om die ekonomie weer behoorlik te laat groei, moet verbruikersvertroue verbeter. Sonder enige belastingverligting is die kans daarvoor skraal.
Craig Pheiffer

Die onderste vier kerwe, wat saam bestaan uit sowat 6,48 miljoen mense, betaal bykans net soveel belasting in die tesourie se beraming vir 2019-’20 as die 120 751 mense in die boonste kerf.

Mboweni se benadering tot inkomstebelasting in die begrotingsrede is dus ’n manier om die middelklas in te span sonder om dit regstreeks of te ongerieflik te doen, altans ten minste op kort termyn.

“Op mediumtermyn gaan verbruikers die werklike impak van fiskale sleuring begin voel,” waarsku Cooper.

Impak kan groot weesBenay Sager, bedryfshoof van DebtBusters, waarsku belastingbetalers wat weens salarisverhogings na ’n hoër kerf opskuif, kan ’n groot impak op hul persoonlike finansies ervaar.

Maar Marc Sevitz, medestigter van die belastingkonsultantefirma TaxTim, verseker verbruikers dat hulle nooit slegter daaraan toe sal wees as hulle meer verdien nie.

’n Verhoging is altyd goeie nuus, selfs indien dit jou ná Woensdag se begrotingsrede in ’n hoër belastingkerf plaas.

“Jy gaan in sekere gevalle, as jy na ’n hoër kerf toe skuif, wel net ’n baie, baie klein bietjie meer verdien, maar dit gaan steeds meer wees. Jy sal nooit minder verdien deur so ’n skuif nie.”

Die uitwerking van inflasie beteken egter wel dat verbruikers se koopkrag gaan taan.

“Met inflasie wat na raming sowat 5% teen die einde van vanjaar gaan wees, gaan die verbruiker beslis armer wees teen dié tyd volgende jaar,” sê Kwaku Koranteng, hoof van Absa Multi-Management.

Craig Pheiffer, hoof van beleggingstrategie by Absa, sê boonop gaan die afwesigheid van belastingverligting waarskynlik verbruikersvertroue benadeel.

“Om die ekonomie weer behoorlik te laat groei, moet verbruikersvertroue verbeter. Sonder enige belastingverligting is die kans daarvoor skraal.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.