Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Minder as 30 dae voordat staatsdiens dalk staak

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) het hom onttrek aan die fasiliteringsproses wat die staat gehoop het ’n oplossing vir die vurige onderhandelinge oor staatsamptenare se verhogings sou vind.

Senzo Mchunu, minister van die staatsdiens en administrasie, wat namens die staat met die vakbonde onderhandel. Foto: News24

Die VSA, wat 235 000 staatsamptenare verteenwoordig, sê Maandag in ’n verklaring dat hy nie meer deel is van die fasiliteringsproses met die staatsdiens se koördinerende bedingingsraad (PSCBC) nie.

Hy het hom amptelik op 11 Mei onttrek, slegs twee dae nadat die proses begin is.

Die VSA het ’n dispuut verklaar wat die weg baan vir ’n staking wat dienslewering kan verlam.

Die VSA sê hy het gou agtergekom dat die staat glad nie ’n beter aanbod op die tafel gaan sit nie en het dus ’n dispuut verklaar.

Ander vakbonde, soos die Cosatu-geaffilieerde Nehawu, is nog deel van die fasiliteringsproses.

Die proses sal na verwagting Woensdag eindig, waarna dit duidelik sal word of die ander vakbonde ook so ontevrede soos die VSA met die staat is.

Ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge moet ’n dispuut eers verklaar word, waarna versoening onder die vaandel van die PSCBC beding moet word. Indien ’n vergelyk dan ook nie bereik kan word nie, reik die PSCBC ’n stakingsertifikaat uit, waarna vakbonde op hul beurt 48 uur mag kennis gee dat hulle gaan staak.

Reuben Maleka, woordvoerder van die VSA, sê die versoeningsproses met die PSCBC sal na verwagting 30 dae duur.

Al het hulle reeds op 11 Mei ’n dispuut verklaar, het die PSCBC nog nie ’n amptenaar aangewys om die proses te begin nie.

“Die versoeningsproses duur 30 dae, en sewe dae is nou amper verby. Die gebrek aan dringendheid om die saak vir versoening te reël om die dispuut te probeer oplos, sal uiteindelik tot ’n staking lei.”

Intussen het die oorblywende vakbonde wat nog deel van die fasiliteringsproses is, wel ’n nuwe aanbod van die staat ontvang.

Luidens die VSA het die staat nou aangebied om ’n verhoging van minstens 1,5% op amptenare se nie-pensioendraende salaris toe te staan. Dit beteken dit is ’n verhoging in byvoorbeeld bonusse, oortyd of kommissie, maar nie hul basiese salaris – wat die oorgrote meerderheid van salarisse verteenwoordig – nie.

Daar is ook ’n aanbod vir ’n ex gratia-betaling van R978 per maand vir 12 maande wat ook nie deel van die salaris voor bonusse, oortyd, kommissie of niebelasbare aftrekkings is nie.

Dit sal dus nie bydra tot pensioenaftrekkings nie.

Afhangend van die amptenaar se belastingkerf sal die ex gratia-betaling per maand op sowat R625,92 neerkom.

Die VSA sê die “verhoging” is eintlik iets waarop die amptenare in elk geval ingevolge hul prestasiebeoordeling geregtig is.

Al wat dus eintlik vir die VSA op die tafel is, is die ex gratia-betaling van R978 per maand vir ’n jaar.

“Die aanbod is ver van die eise wat die VSA stel. Werknemers sukkel om die stygende koste in basiese behoeftes en die gevolge van die pandemie te hanteer.

“Daar word steeds verwag dat werkers op die voorste linie van die pandemie hul pligte onder gevaarlike omstandighede uitvoer, hoewel hulle nog nie ’n salarisverhoging vir verlede jaar ontvang het nie.”

Die vakbond eis verder dat die staat sy posisie heroorweeg en met ’n “ernstige” aanbod na die tafel kom “voordat dit te laat is”.

Meer oor:  Staatsamptenare  |  Salarisse  |  Begroting2021  |  Begrotingsrede  |  Begroting  |  Tesourie  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.