Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
‘Moody’s gáán SA tot rommel afgradeer oor Eskom’

Daar is ’n baie groot kans dat Moody’s Investors Service Suid-Afrika binnekort tot rommelstatus gaan afgradeer.

Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC, reken dis nie óf nie, maar wanneer en met hoeveel vlakke Moody’s Investors Service Suid-Afrika gaan afgradeer weens Eskom se bedryfs- en finansiële probleme.

Dit sal hoofsaaklik aan die probleme by Eskom toegeskryf kan word.

So voorspel Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC.

“Hoe hulle dit gaan doen, weet ek nie. Ek kan nie voorspel of hulle ons twee vlakke op een slag sal afgradeer nie, maar ek is heel seker dat hulle ons voor die einde van die jaar tot rommelstatus gaan afgradeer.”

Moody’s is tans die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat Suid-Afrika se kredietgradering nog nie tot onder beleggingsgraad afgegradeer het nie. Die eerste graderingsbesluit vir 2019 is vir 29 Maart geskeduleer, maar Moody’s kan in ’n uitsonderlike situasie – soos slegte nuus in volgende week se begrotingsrede – selfs vóór dit ’n afgradering doen. Die tweede geskeduleerde besluit is op 1 November.

Krugel het dit baie duidelik gestel sy verwag die gradeerder gaan nie net sy vooruitsig van stabiel tot negatief verander nie, maar gaan “ongetwyfeld” die kredietgradering self verlaag.

Krugel het Woensdag PwC se verwagtinge vir Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede in Rosebank, Johannesburg, met die media bespreek. Mboweni dien sy begroting vir die staat se nuwe boekjaar op 20 Februarie in die parlement in.

Eskom, sy skuld en die invloed wat staatswaarborge op die land se kredietstatus het, is een van die punte wat PwC verwag heelwat aandag in dié rede gaan kry.

Dit help nie jy ontbondel net om te ontbondel en skep drie kleiner probleme in stede van een grote nie.
Lullu Krugel van PwC

“As die staat verdere reddingsboeie aan Eskom gee, is daar ’n groot kans dat die land se begrotingstekort in 2019 tot 5% kan styg.

“Ons berekening wys reeds dat dié tekort in die 2018-’19-boekjaar waarskynlik tot 4,3% gaan styg en ’n jaar later tot 4,6%.”

Sy sê egter dit sluit nie in sou die staat R100 miljard van Eskom se skuld oorneem, soos wat reeds sedert einde 2018 voorspel word ’n moontlike stap kan wees nie.

Wat die druk op die staat se finansies gaan vererger, is die PwC-voorspelling dat die staat sowat R37 miljard minder belasting in die 2018-’19-boekjaar gaan insamel.

PwC verwag dat die staat se skuldlas tot 56% van die land se bruto binnelandse produk gaan styg.

Krugel sê sy kan verstaan hoekom Moody’s steeds uiters skepties is oor die toekoms van Eskom, ongeag pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging op 7 Februarie in sy staatsrede dat die kragreus in drie afsonderlike afdelings opgebreek gaan word.

“Daar was net te min besonderhede oor dié plan. Dit help nie jy ontbondel net om te ontbondel en skep drie kleiner probleme in stede van een grote nie,” sê sy.

Krugel reken egter nie dis die geval nie en dat daar wel spesifieke planne in plek is.

Ramaphosa het gesê Eskom sal in kragopwekking, transmissie en verspreiding verdeel word, met Eskom Holdings as moedermaatskappy.

Meer oor:  Moody's  |  Eskom  |  Pwc  |  Kredietgradering  |  Begroting 2019  |  Beurtkrag  |  Staatskuld  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.