Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Moody’s maan oor staatskuld as vergoeding nie daal

Die graderingsagentskap Moody’s meen die onsekerheid oor die onderhandelinge wat die staat met vakbonde oor die salarisse van staatsamptenare moet voer, verhoog die gevaar dat die begrotingsvooruitsigte nie bereik kan word nie.

Lucie Villa, senior kredietbeampte van Moody’s, sê in ’n verklaring die begroting wat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag aangekondig het, is min of meer dieselfde as wat in die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober gesê is.

Moody’s verwys na die feit dat geen groot belastingmaatstawwe ingestel is nie.

“Gevolglik gaan die begrotingstekort in die komende paar jaar groot bly rondom 6% tot 7% van die BBP wat die regering se skuldlas gaan verhoog oor die begrotingstydperk.

“Boonop verhoog die onsekerheid oor die onderhandelinge met vakbonde oor staatsamptenare se salarisse en potensiële aanspreeklikhede van die staat vir staatsondernemings se lenings die risiko’s vir die begrotingsvooruitsig.

Boonop verhoog die onsekerheid oor die onderhandelinge met vakbonde oor staatsamptenare se salarisse en potensiële aanspreeklikhede van die staat vir staatsondernemings se lenings die risiko’s vir die begrotingsvooruitsig.

“Die regering het gefokus op die aanpassing aan die primêre besteding om vir die daling in inkomste te kompenseer. Die fokus gaan wees op die salarisrekening van die staat, en beraamde besparings van R36 miljard word verwag vergeleke met wat in Oktober vir die 2020-boekjaar verwag is.

“Dit sal die verhogings in die ondersteuning aan staatsondernemings meer as teenwerk vergeleke met wat in Oktober gesê is, veral die ondersteuning aan die SAL.

“Maar die staat moet nog die matiger verhoging in salarisse onderhandel en dit gaan waarskynlik moeilik wees gegewe die maatskaplik-ekonomiese werklikheid van die land en gaan ’n wesenlike verskil wees van die vorige onderhandelinge se uitslag.”

Moody’s maan as die regering misluk daarin om die stygende salarisrekening in toom te hou en besteding bly styg soos in Oktober verwag is, gaan die begrotingstekort 7,5% van die BBP in 2020 bereik. Dit gaan in 2021 tot 7,1% styg.

Die staatsondernemings “wat die groot bron van onverwagse besteding die afgelope jare is”, verhoog die gevaar van die wyer as verwagte begrotingstekort.

“Selfs as die regering sy beplande beheer oor besteding bereik, gaan die regering se geskatte primêre begrotingstekort as 1,1% van die BBP teen 2022 heeltemal te groot wees om die skuldlas te stabiliseer gegewe die swak groeivooruitsigte en die verwagte verdere styging in die rentekoste.”

Die begroting toon die staatskuld gaan einde Maart 2023 71,6% van die BBP bereik.

Dit is tien persentasiepunte hoër as die vlak wat vir einde Maart 2020 beraam is.

“Die risiko bly hoër vir ’n groter skuldlas gegewe die probleme om bestedingsgroei in toom te hou en voortgesette risiko’s vir groei.”

Moody’s se die koste van rente gaan ’n ál groter deel van die inkomste opvreet en word nou op 14,5% van die boekjaar geskat van 13,5% vir verlede jaar se boekjaar.

Die risiko bly hoër vir ’n groter skuldlas gegewe die probleme om bestedingsgroei in toom te hou en voortgesette risiko’s vir groei.

Totale besteding in verhouding tot BBP is ook hoër as die mediumtermynbegrotingsraamwerk (36% teenoor 35,8%). Dit is ook meer as in die 2019-boekjaar weens die stadiger ekonomiese groei as wat voorheen verwag is en omdat rentekoste gestyg het.

Moody’s glo die inkomste van 29,2% van die BBP wat die regering verwag in die daaropvolgende twee jaar kom, is bereikbaar.

Die agentskap verwys na die detail oor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se pogings om belastingnakoming te verbeter, maar dat die impak nie gekwantifiseer word nie.

Die regering het sy vooruitsig vir inkomste van 29,2% van die BBP vir die boekjaar tot einde Maart 2020 van 29,3% van Oktober af verlaag. Dit is ook laer as 2019 se 29,4%.

Moody’s glo die verwagte inkomste uit koolstofbelasting gaan die verlies aan inkomste teenwerk wat meegebring gaan word deur die bo-inflasie-verhoging in die belastingkerwe vir persoonlike inkomste.

Meer oor:  Moody's  |  Belasting  |  Begrotingstekort  |  Vakbonde  |  Staatskuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.