Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Moody’s waarsku oor staatskuld voor begroting

Suid-Afrika se staatskas is vasgevang in ’n bose kringloop.

A monitor displays Moodys Corp. signage on the flo
Moody's besluit op 7 Mei of Suid-Afrika weer afgegradeer gaan word. Foto: Getty Images

Die waarborge wat die land vir staatsondernemings soos Eskom bied, verhoog die risiko dat sy skuldlas gaan verswak, maar enige oplossing vir Eskom gaan die land óók meer kos.

Dis onder die probleme wat Lucie Villa, die internasionale kredietgradeerder Moody’s Investors Service se hoofontleder oor Suid-Afrika, uitlig in ’n nuwe verslag oor die land se kredietprofiel.

Moody’s is baie pessimisties oor die stand van die land se geldsake – wat slegte nuus is net twee weke voordat Tito Mboweni, minister van finansies, op 24 Februarie sy begrotingsrede lewer.

Die 2021-begroting is bepalend vir die land se kredietgradering, waarop Moody’s ’n negatiewe vooruitsig het. Moody’s besluit weer op 7 Mei of hy Suid-Afrika afgradeer.

Moody’s het staatseffekte in Maart 2020 tot onder beleggingsgraad afgegradeer en dit toe weer in November afgegradeer. Dis nou Ba2, dus twee vlakke onder beleggingsgraad, op Moody’s se skaal.

Die ander twee groot kredietgradeerders het nog nie vanjaar ’n kredietverslag oor Suid-Afrika uitgereik nie. Fitch Ratings gradeer staatskuld drie vlakke onder beleggingsgraad, met ’n negatiewe vooruitsig.

Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) gradeer staatskuld in rand twee vlakke onder beleggingsgraad en in buitelandse geldeenhede drie vlakke onder beleggingsgraad, albei met ’n stabiele vooruitsig.

Dit maak S&P eintlik die mees optimistiese kredietgradeerder, ’n posisie wat jare lank gevul is deur Moody’s, wat Suid-Afrika eers drie jaar ná die ander twee tot rommelstatus afgegradeer het.

Moody’s se verslag bevat geen groot verrassings nie. Nes Eskom keer op keer as risiko uitgelig word, word ook weer verwys na die land se trae ekonomiese groei en gebrek aan vordering met strukturele hervorming.

Villa beskou Suid-Afrika se probleme as selfgemaak, insluitend die “politieke spanning en hervormingstraagheid”. Dit word egter deur eksterne faktore – die Covid-19-pandemie – vererger.

Moody’s verwag dat die staat se skuld as verhouding van die bruto binnelandse produk (BBP) teen 2024 met tot 40 persentasiepunte gaan styg, wat dit ver bo 100% gaan maak. Dit was in 2019 70,8% en kan teen 2023 reeds 100,7% wees.

“Daarmee saam gaan rentebetalings ’n al hoe groter deel van die begroting absorbeer, wat fiskale ruimte verminder.”

Aan die positiewe kant skryf Villa dat beleggers steeds diep sakke het vir staatseffekte in rand. Die Reserwebank, regstelsel en plaaslike banke bly instellings waarin Moody’s vertroue het.

Moody’s sê gegewe die negatiewe vooruitsig is ’n opgradering hoogs onwaarskynlik. ’n Afgradering sal plaasvind as staatskuld vinniger en vir langer styg as wat tans verwag word.

Moody’s sou verslappings in die arbeidsmark wou sien, sowel as vaardigheidsontwikkeling. Dis ietwat ironies nadat die nuwe nasionale minimum loon pas aangekondig is, met ’n algehele verhoging van 4,5%, maar ’n verhoging van meer as 16% vir plaaswerkers en van 22% vir huiswerkers.

Moody’s sê te midde van die impak van die pandemie op die staat se inkomste en ook die groter las wat dit op uitgawes meebring, is al oplossing vir die staat steeds om die staatsdiens se salarisrekening te probeer inperk en om administratiewe koste te sny.

Dit sal teenstand kry van vakbonde.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.