Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
MTBR 2019: Waaroor gaan Tito praat?
Tito Mboweni, South Africas finance minister, spea
Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Getty Images

Tito Mboweni sal die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gebruik om meer oor sy ekonomiese stimulusplan uit te wei, voorspel Mike Teuchert, belastinghoof van die ouditgroep Mazars.

Hopelik sal Mboweni ’n duidelike en praktiese strategie uitstippel oor hoe om ekonomiese groei oor die volgende maande moontlik te maak.

Hy mag dalk selfs van die moontlike besluite vooruitloop wat die ANC se nasionale uitvoerende komitee later vanjaar sal neem, verwag Teuchert.

Skuldvlakke

Mboweni sal ook die jongste syfers gee oor die staat se skuldvlakke.

“Mense sal gretig wees om te weet waar ons staan wat betref ons skuld-tot-BBP-verhouding, hoe dit kan verander en die waarskynlike impak van laer as begrote belastinginvordering – sal dit lei tot verdere lenings of sal dit op ’n ander manier gefinansier word?”

Dit word reeds wyd geglo dat die nasionale tesourie nie sy teikens met belastinginvordering sal haal nie, sê Teuchert.

“Die vraag is dan, as die teikens misgeloop word, wat gaan meegee – gaan ons minder besteding sien of meer lenings?”

Teuchert verwag die komende veranderings aan hoe Suid-Afrikaanse werkers in die buiteland belas gaan word, kan ’n negatiewe omgewing skep en tot groter emigrasie van veral rykes lei.

Hy is egter positief oor wat Edward Kieswetter, nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), beplan, soos ’n opdatering van e-Filing wat dit vir belastingbetalers makliker maak om hul verpligtinge na te kom.

Dit kan help om belastinginvordering in die toekoms te verbeter.

Mike Teuchert, nasionale hoof van belasting by die ouditgroep Mazars.Foto: MAZARS

Staatsondernemings

Die tesourie sal ook die beroerde toestand van staatsondernemings moet aanpak. Teuchert verwag dit sal aansluit by Mboweni se ekonomiese groeiplan, waarin gegis word dat van die staatsondernemings wat nie presteer nie of wat nie meer in die groter strategie van die land inpas nie, verkoop kan word.

“Dis dalk meer ’n politieke gesprek as ’n finansiële een, maar ons hoop om ’n beter prentjie te kry van wat ons kan verwag.”

Nasionale gesondheidsversekering

Teuchert hoop ook daar kom nuwe nuus oor nasionale gesondheidsversekering.

“Ons wil spesifiek meer besonderhede kry oor hoe die tesourie beplan om so ’n ambisieuse projek te finansier. ’n Volledige opdatering hieroor kom dalk eers met die hoofbegroting in Februarie volgende jaar, maar ons hoop om ten minste ’n aanduiding te kry van die rigting wat dié finansiering sal inslaan.”

Meer oor:  Mazars  |  Tito Mboweni  |  Mike Teuchert  |  Mediumtermynbegrotingsraamwerk  |  Ekonomie  |  Begroting  |  Mtbr2019  |  Mtbr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.