Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
MTBR: Eskom kan tussen krake deurval

Die skuldkrisis van Eskom kan dalk nou tussen die krake deurval – tussen die nasionale tesourie wat wag vir Eskom om sy omdraaiplan en ontbondeling in werking te stel en die departement van openbare ondernemings wat vir die nasionale tesourie wag om Eskom se skuldlas te help verlig sodat hy kan herstel.

James McKay, woordvoerder van Energy Partners.

Só waarsku Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, nadat Tito Mboweni, minister van finansies, nie Woensdag soos verwag aangekondig het dat die staat ’n deel van Eskom se skuld gaan oorneem op sy eie balansstaat nie.

Talle waarnemers het verwag dit sal een van die aankondigings wees, aangesien Eskom dié versoek al herhaaldelik gerig het.

Eskom het vroeër verduidelik hy kan net R200 miljard se skuld op sy boeke dra op grond van sy verdienste, en hy wou sowat R250 miljard aan die staat oordra.

Pleks daarvan het Mboweni gesê enige toekomstige hulp aan Eskom sal in die vorm van “lenings” wees wat hy weer sal moet terugbetaal.

Montalto meen die gebrek aan ’n skuld-oplossing vir Eskom tas in ’n mate die geloofwaardigheid van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) aan.

Die energieoplossingverskaffer Energy Partners glo ook nie die omdraaiplan vir Eskom en die regering se besluit om voortaan eerder “lenings” aan Eskom te gee gaan die land se dringende energieprobleme oplos nie.

James McKay, woordvoerder van Energy Partners, sê hulle steun die omdraaiplan vervat in die mediumtermynbegrotingsraamwerk, maar dit sal baie lank vat om enige wesenlike verskil te maak, terwyl Suid-Afrika dit nie kan bekostig om voortdurend vir Eskom uit die moeilikheid te red nie.

Om Eskom se uitdagings op te los is kompleks en verg ’n lang pad van pynlike besluite. Dit het genoeg tyd nodig om positiewe resultate te wys, sê McKay.

Intussen het Suid-Afrika ’n dringende energiekrisis. Die voorgestelde tydraamwerk vir Eskom se herstrukturering pas dus nie in by die behoefte nie. Die reeks moontlike oplossings moet dus wyer gemaak word, en meer hulpbronne uit die private sektor behoort ingesluit te word, meen McKay.

Montalto is in die algemeen skepties oor die sukses van Mboweni se planne. Hy meen daar is nie genoeg sterk leierskap nie, en hy meen die vakbonde is nie altyd eerlike onderhandelaars nie. Hulle is ingegrawe in hul standpunte en sal nie maklik bes gee in byvoorbeeld onderhandelings oor die besnoeiing van die staat se salarisrekening nie.

Meer oor:  Eskom  |  Tesourie  |  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Krag  |  Departement Van Openbare Ondernemings  |  Elektrisiteit  |  Mtbr2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.