Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
MTBR: Geld vir SAL en gat in Jan Taks se sak

Die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan waarskynlik ’n reddingsboei kry, terwyl Jan Taks miljarde te min belasting gaan insamel.

Ekonome verwag dat die staat weer eens ’n enorme reddingsboei vir die SAL gaan gee. Foto: Bloomberg

Dit is waarskynlik die storie wat Suid-Afrikaners Woensdag gaan hoor wanneer Tito Mboweni, minister van finansies, sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement ter tafel sal lê.

Uit die 14 ekonome wat aan Netwerk24 se blitspeiling oor die MTBR deelgeneem het, meen agt dat ’n aankondiging gemaak sal word oor geld wat vir die SAL gegee word.

Die SAL het dringend nagenoeg R10,4 miljard nodig om hom weer in bedryf te stel.

Die lugdiens is tans in sakeredding en bedryf geen vlugte nie.

Hoewel Mboweni voorheen gesê het dat daar nie geld vir die SAL is nie, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, al male sonder tal onderneem om wél die geld in die hande te kry.

Die SAL is nie die enigste staatsonderneming wat ekonome dink nou reddingsboeie gaan kry nie. Die meeste ekonome verwag dat Eskom ook ’n reddingsboei gaan kry. Dié nutsmaatskappy se skuldlas beloop tans R448 miljard.

Ekonome meen dat Denel, die Poskantoor, die Landbank, die SAUK en Transnet ook dalk reddingsboeie kan ontvang.

k

  

Belasting

Ekonome is dit eens dat Mboweni die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gaan loof vir die werk wat vanjaar gedoen is.

Die harde werk deur die amptenare van die SAID gaan egter nie keer dat die diens vanjaar miljarde rande te min belasting gaan insamel nie.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het in Mei voorspel dat die SAID vanjaar sowat R250 miljard minder belasting gaan insamel as wat hy moet.

Annabel Bishop, hoofekonoom by Investec, en Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group, meen albei dié syfers gaan nader aan R300 miljard wees.

k

Dit is ook dieselfde bedrag as waarmee die staat sy aanvullende begroting aangepas het wat in Junie ter tafel gelê is.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het in Augustus in ’n onderhoud met Bloomberg gesê dat die diens teen 15 Julie reeds R82 miljard minder ingevorder het in die huidige fiskale jaar teenoor ’n jaar gelede.

Op die vraag oor of Mboweni nou reeds die aap uit die mou sal laat oor sy planne vir belasting in 2021, is ekonome verdeeld oor wat gesê gaan word.

Die helfte meen dat hy wel ten minste ’n aanduiding gaan gee oor of belasting verhoog gaan word of nie, terwyl die ander helfte daarop wys dat die MTBR nie die geleentheid is wanneer dié tipe aankondigings gewoonlik gemaak word nie.

  

Staatslone

’n Groot kwessie waaroor ekonome ook verdeeld is oor hoeveel die minister Woensdag gaan uitbrei, is wat met staatslone gaan gebeur.

Dit is alombekend dat staatslone ’n enorme uitgawe is, en dat daar ’n plan daarmee gemaak moet word.

Johann Els, hoofekonoom by Old Mutual, meen “daar is ’n baie sterk kans dat daar uitgewei gaan word oor die R160 miljard se voorgenome besparings op die staat se salarisrekening wat in Februarie aangekondig is.

k

“Ek reken dat – in plaas van grootskaalse afleggings van werknemers in die staatsdiens – die minister eerder gaan fokus op groei in salarisse. Daarom is die kans baie groot dat staatsdienssalarisse gevries kan word vir die volgende twee of selfs drie jaar.

“Vir die topamptenare, miskien die wat meer as R1 miljoen per jaar verdien, kan daar selfs salarisverminderings wees,” meen hy.

Bishop meen weer dat Mboweni nie nou al baie spesifiek gaan wees oor wat gedoen gaan word nie. Sy wys ook daarop dat hy nie self salarisse sal besnoei nie, maar dat hy bloot die begrotings van die departemente gaan snoei. Dit gaan departemente noop om aanpassings te maak, wat volgens haar waarskynlik ’n invloed op salarisse gaan hê.

Bishop maan egter dat of die staat nou die geld het om salarisse aan te pas of nie, vakbonde hulle nie daaraan gaan steur nie.

“Vakbonde wat aandring op hoër lone toon geen respek vir die toenemende armoede waardeur baie Suid-Afrikaners in die gesig gestaar word nie.

“Die vakbonde fokus op hul eie belange en ignoreer die behoefte om te fokus op die welsyn van Suid-Afrika as land en die meerderheid van sy burgers,” sê sy.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Staatsamptenare  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings  |  Mtbr2020  |  Begroting  |  Tesourie  |  Mtbr  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.