Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
MTBR ‘los landbou hoog en droog’ – Agri SA

Agri SA is “diep teleurgesteld” dat Tito Mboweni, minister van finansies, geen erkenning gegee het vir die moeilike struikelblokke wat die landbousektor in die gesig staar nie.

Droogtes wat nou al verskeie jare lank Suid-Afrika se damvlakke laat agteruit boer het, het veral landbouproduksie gekniehalter. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die landbou-organisasie het Woensdag in ’n verklaring gesê die sleutelrol wat landbou in die land se ekonomie speel, is bloot geïgnoreer in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) wat Mboweni in die parlement ter tafel gelê het.

“Al is dit so dat die MTBR nie gedetailleerde bestedingsplanne of belastingvoorstelle bevat nie, kon die minister werklik meer erkenning gegee het vir die rol wat landbou speel en sy veerkragtigheid midde-in verskeie struikelblokke, soos die impak van langtermyndroogtes,” sê dr. Requier Wait, hoof van Agri SA se Ekonomie- en Handelsentrum vir Uitnemendheid.

Droogtes wat nou al verskeie jare lank Suid-Afrika se damvlakke laat agteruit boer het, het veral landbouproduksie gekniehalter.

Sakevertroue in die landbou het in die derde kwartaal steeds onder die neutrale vlak van 50 punte op 46 te staan gekom.

Dit beteken dat landbou-ondernemings negatief bly oor heersende saketoestande.

Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se indeks het teenoor die tweede kwartaal se punt van 44 ietwat verbeter, maar bly baie naby aan einde 2018 se 42 – die laagste punt wat die indeks in 10 jaar behaal het.

Faktore wat tot die agteruitgang van sakevertroue in die landbousektor bydra, volgens Agbiz, sluit in omset, inkomste, kapitaalinvestering, ekonomiese groei en die koste van finansiering vir landbou-ondernemings.

Agri SA sê hy sal as kampvegter sy werk voortsit om die regering te kry om die landbou behoorlik te ondersteun, veral in die streke wat die swaarste deur droogte getref word.

Volgens die landbou-organisasie is dit nie net belangrik om indiensneming te bevorder en armoede te bestry nie, maar ook om voedselsekerheid te verseker.

Agri SA het reeds gewaarsku dat die herinstelling van beurtkrag verdere druk op voedselsekerheid plaas.

Meer as 25% van alle kos wat in die land verbou word, kom van bedrywe wat energie-intensief is of op ’n ander manier kwesbaar is vir kragonderbrekings.

Verdere risiko’s vir voedselsekerheid maak die organisasie dus “baie bekommerd”.

Meer oor:  Agri Sa  |  Mtbr2019  |  Droogte  |  Voedselsekerheid  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.