Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
MTBR: ‘SA, ek waarsku julle’

Die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR)-toespraak het hom Dinsdag uit alle oorde ongewild gemaak, maar Tito Mboweni, minister van finansies, meen dit was nodig om kaalvuis Suid-Afrika se benarde ekonomiese toestand uit te stippel.

“Ek waarsku julle: As ons voortgaan met hierdie rigting, stuur ons af op ’n fiskale krisis. Ek waarsku julle,” het Mboweni gesê.

Hy het veral onder skoot gekom oor die besluit om staatsamptenare se salarisse vir die volgende drie jaar te bevries en om nóg R10,5 miljard aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) beskikbaar te stel.

“Die afgelope 15 jaar het die staatsdiens se besteding aan vergoeding teen ’n onvolhoubare koers gegroei,” het Mboweni gesê.

“Daar is 1,3 miljoen werknemers in nasionale en provinsiale departemente wat gesamentlike salarisse van R567 miljard in 2019-’20 ontvang het.”

Die staat as aandeelhouer van die SAL het verpligtinge om na te kom. Jy kan nie van jou verpligtinge weghardloop nie.

Vakbonde is egter reeds op die oorlogspad omdat die regering weier om ’n vroeëre salarisooreenkoms te implementeer en Mboweni se jongste aankondiging is verdere olie op die vuur.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, het gesê: “Die regering moet ophou om staatsamptenare te boelie. Een minuut is hierdie werkers ’n noodsaaklike diens en helde aan die voorgrond, maar as dit by vergoeding kom, word hulle soos verheerlikte slawe behandel.” Palma sê “enige praatjies van die bevriesing van laagbetaalde staatsamptenare se salarisse sal beskou word as ’n direkte aanval op kollektiewe bedinging”.

“Die regering moet die 2020-salarisooreenkoms eerbiedig en te goeder trou met werkers onderhandel oor die volgende drie jaar lange salarisooreenkoms,” het hy gesê.

mbtr 2020

Mboweni het egter gesê die salarisse wat politieke en openbare verteenwoordigers ontvang, is “pre-Covid-vergoeding”. “Die situasie het verander en daarom moet hul (salaris-) situasie ook verander. As hul salarisse verlaag word, kan hulle in Eastgate in plaas van Sandton gaan inkopies doen en só kan die ekonomie van uitbalansering in die prentjie kom. Ons moet dit debatteer en bespreek om tot ’n ooreenkoms daaroor te kom,” het Mboweni gesê.

Volgens hom sal Senzo Mchunu, minister vir die staatsdiens en administrasie, die bevriesing van salarisse met vakbonde bespreek en hy is “optimisties” daar sal ’n positiewe uitslag wees.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, is dit eens dat die regering se salarisrekening “ ’n yslike probleem” is en hy meen Mboweni is met sy rug teen die muur. “Dit is duidelik die minister en die regering is in ’n skaakmatposisie en dit sal nie verander solank daar nie duidelike beleidsverandering aangebring word nie.”

Oor die DA se aantyging dat hy gekapituleer het op sy beginselbesluit om nie meer belastinggeld op die SAL te mors nie, het Mboweni gesê die geld is nie ’n reddingsboei nie.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, het ná Mboweni se toespraak gesê die ANC het ’n immorele keuse gemaak. “Hulle kies die SAL bo die bekamping van misdaad. Die SAL bo onderwys. Die SAL bo Suid-Afrika.”

Mboweni het dwarsoor die begroting besnoei om die geld vir die SAL bymekaar te skraap, maar die meeste daarvan is by die polisie, howe, die nasionale vervolgingsgesag, skole en provinsies se begrotings afgeknyp.

Hill-Lewis sê Mboweni het sy belofte verbreek om nie enige verdere ondersteuning aan die SAL te bied nie, in ’n “verontagsaming van die armes”.

Mboweni het egter sy stem dik gemaak en van sy geskrewe toespraak afgewyk toe hy oor die SAL gepraat het. “Die staat as aandeelhouer van die SAL het verpligtinge om na te kom. Jy kan nie van jou verpligtinge weghardloop nie,” het hy twee keer gesê.

Mboweni het ook onder kritiek van die vakbonde Solidariteit en Uasa en die Sakeliga deurgeloop.

Ek waarsku julle: As ons voortgaan met hierdie rigting, stuur ons af op ’n fiskale krisis. Ek waarsku julle.

Morné Malan, ’n strategiese spesialis by Solidariteit, meen Mboweni is onrealisties in sy vooruitskouing van die land se skuldlas wat na verwagting oor die volgende ses jaar sal toeneem tot 95,3% van die BBP.

”Ons moet maar net glo dat dit teen 2026 magies gaan begin gebeur waar dit oor die afgelope dekade bykans jaarliks selfs bo pessimistiese verwagtinge verswak het.”

Ten spyte van die somber vooruitsigte meen Mboweni nie die land staar nog ’n kredietafgradering in die gesig nie.

“Ons is al genoeg gestraf en ek verwag nie verdere afgraderings nie,” het hy op ’n nuuskonferensie ná sy toespraak gesê. “Maar moet my nie op die brandstapel plaas hieroor nie. Ons praat met die agentskappe. Ons kan nie die syfers vir hulle wegsteek nie. Die syfers is wat dit is.” Llewellyn Prince, William Horne en Francois Williams


Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Mtbr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.