Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
‘Net groei kan SA nou red’
finance ,finance minister ,tito mboweni,mid-term b
Tito Mboweni, minister van finansies, buite die parlement. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika is nou in beseringstyd. As die regering nie daadwerklik iets doen om ekonomiese groei te stimuleer en sy uitgawes te besnoei nie, gaan die land ongetwyfeld binne ses maande tot volslae rommelstatus afgegradeer word.

Só sê Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, wat meen Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag vir niemand ’n rat voor die oë probeer draai in sy toespraak met die indiening van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) nie.

“Hy het ’n realistiese prentjie geskets van wat kan gebeur as ons nie nou ons sake agtermekaar kry nie.”

Ackerman vermoed dat Moody’s Investors Service staatskuld Vrydagaand op beleggingsgraad gaan hou, maar waarskynlik wel die vooruitsig vir die gradering van stabiel na negatief gaan verander.

Ackerman sê die kern van die saak is dat net ekonomiese groei Suid-Afrika kan “red”. Die staat se inkomste is onder reusagtige druk omdat die ekonomie nie groei nie.

Aan die uitgawekant is die syfers skeefgetrek deur Eskom se probleme. Maar die groot krisis is die staat se enorme salarisrekening, ’n politieke tameletjie. Die staat se salarisrekening styg ver bo die inflasiekoers en net 4 000 staatsamptenare het die kans benut om vroeg af te tree wat aan hulle gebied is.

Mboweni het ’n realistiese prentjie geskets van wat kan gebeur as ons nie nou ons sake agtermekaar kry nie.
Maarten Ackerman

Ackerman sê dis bemoedigend dat Mboweni praktiese, uitvoerbare besparings aangekondig het – onder meer dat alle staatsamptenare binnelands slegs in ekonomiese klas mag vlieg en strenger perke op die koste van ampsmotors en selfoontoelae. Dis egter te min om veel van ’n duik in die staat se begrotingstekort te maak.

Nazmeera Moola, hoof van SA beleggings by Investec, en Sisamkele Kobus, ontleder oor vaste inkomste, stem saam dat die MTBR ’n droewige prentjie skets, maar sê die staat moet self die skuld daarvoor aanvaar.

“Die gekonsolideerde begrotingstekort vir volgende jaar (2020-’21-boekjaar), het van die voorsiene 4,3% in Februarie tot 6,5% nou gestyg. Die massiewe styging weerspieël die onvermoë van die regering om moeilike besluite te neem.

“Hoewel Mboweni se toespraak vol retoriek was oor verbintenisse om uitgawes te besnoei en die begrotingstekort teen Februarie 2020 te verminder, was daar geen besonderhede hoor hoe die regering van plan is om besteding te besnoei nie.”

Hulle voel, soos Ackerman, dat besteding baie meer drasties besnoei moes word as die maatreëls wat Mboweni aangekondig het. Spesifiek moet die salarisrekening van onderpresterende en niekritieke staatsdepartemente besnoei word. “As die salarisrekening nie verbeter word nie, kan baie min oor staatsbesteding gedoen word.”

Investec verwag ook dat Moody’s die vooruitsig vir staatskuld in negatief sal verander, maar nie nou sal afgradeer nie. Moody’s kan die gradering egter ook op hersiening neem, wat ’n slegter uitkoms sal wees omdat dit die risiko van ’n afgradering binne drie maande daarstel.

Nedbank se ekonomiese eenheid sê die MTBR wys die land se geldsake het “dramaties agteruitgegaan” sedert Februarie se begrotingsrede. Die eenheid bestaan uit Dennis Dykes, Nicky Weimar, Isaac Mashego en Johannes Khosa.

“Die belangrikste probleem is weer die gebrek aan ekonomiese groei.”

Nedbank sê as die tesourie se ekonomiese plan met die nodige dringendheid in werking gestel kan word om belangrike struikelblokke vir groei uit die weg te ruim, “en as alle wetgewing nagegaan kan word vir hul impak op werkskepping en groei, dan is daar hoop dat die land na ’n beter pad kan loop.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.