Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Net groei sal nou staatskuld stabiliseer

Suid-Afrika sal vir die volgende vier jaar minstens teen 3,5% per jaar moet groei om sy huidige skuld te stabiliseer en ’n begrotingsurplus te hê, sê ontleders van Futuregrowth, ’n batebestuursgroep.

Vir elke R100 wat die regering inkry, word R50 aan salarisse bestee.

Die regering het voor die finansiële krisis in 2008 ’n stewige greep op sy geldsake gehad. Van 1996 tot 2008 het die skuld-tot-BBP-verhouding verklein van net oor die 50% tot 26% en daar was ’n surplus op die begroting.

Maar sedert die finansiële krisis in 2008 het lande wêreldwyd meer geld begin uitgee om ’n resessie te probeer keer en skuld het begin toeneem – ook in Suid-Afrika.

Die tekort op die begroting het so versleg dat dit in 2020-’21 ná die uitbreking van Covid-19 op 14% van BBP te staan gekom het. “Dit is die hoogste ooit,” het Yunus January, rentekoersontleder by Futuregrowth, gesê.

Die batebestuursgroep het Donderdag ’n webinaar gehou oor Suid-Afrika se vermoë om hom uit ’n skuldstrik te wikkel.

“As ’n huishouding meer geld uitgee as wat hy inkry, moet hy geld gaan leen. So is dit ook met ’n regering se geldsake,” sê January.

Die hoofrede vir Suid-Afrika se oorbesteding die afgelope 13 jaar is die toename in die salarisrekening van staatsamptenare – tot ongeveer 50% van die begroting.

“Basies beteken dit vir elke R100 wat die regering inkry, word R50 aan salarisse bestee,” sê January.

Die salarisse het sesvoudig toegeneem, terwyl inflasie 2,8 keer toegeneem het.

k

Suid-Afrika betaal sy staatsamptenare baie meer as ander ontluikende lande, soos Mexiko, Colombia en Pole. “Ons salarisrekening is byna op die vlak van dié van Skandinawiese lande. Maar hierdie lande betaal baie hoër belasting,” aldus January.

Futuregrowth het die nasionale tesourie geprys vir sy pogings in die begroting om staatsbesteding in bedwang te bring.

Die regering het in Desember verlede jaar geslaag in sy hofaansoek om ’n loonooreenkoms vir 2020-’21 tersyde te stel. Vakbonde wil die appèlhofuitspraak in die konstitusionele hof betwis.

Refilwe Rakale, navorser en ontleder by Futuregrowth, sê studente se eise vir gratis hoër onderrig vir almal – en dat studenteskuld geskrap moet word – sal die land se skuldlas verswaar met tot twee persentasiepunte van BBP. Studenteskuld beloop tans byna R14 miljard.

“Gratis hoër onderrig sal ’n ekstra R100 miljard-uitgawe op mediumtermyn beteken. En dit is nie eenmalig nie, maar ’n herhalende, ewigdurende uitgawe.”

Rakale sê daar is tans baie min fiskale beweegruimte om gratis onderrig aan hulpbehoewende studente te voorsien. So ’n uitgawe sal meer besteding aan die maatskaplike sy van die begroting beteken en minder vir kapitaalprojekte soos infrastruktuur.

Wat die inkomstekant van Suid-Afrika se begroting betref, sê January die beter as verwagte belastinginvordering vir die 2020-’21-begrotingsjaar was bes moontlik “eenmalig”.

Die tesourie het in sy begrotingsoorsig verlede maand gesê daar was R100 miljard meer belastinginkomste as wat in die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober 2020 geraam is.

“Ons meen dit was net eenmalig. Die inkomste uit maatskappybelasting was meer vanweë die winste van mynboumaatskappye danksy hoër kommoditeitspryse.”

Futuregrowth sê Suid-Afrika se belastingbasis word al sedert 2012 weggekalwe. Die getal geregistreerde belastingbetalers het toegeneem, maar minder mense betaal persoonlike inkomstebelasting.

Dis hoofsaaklik omdat werkloosheid so skerp toegeneem het tot die huidige 32,5%.

Futuregrowth meen dat Suid-Afrika nog nie in ’n skuldstrik vasgevang is nie, is omdat die meerderheid van sy skuld binnelands is.

“Maar ons is baie naby aan ’n skuldstrik. Ons sal dit net kan vermy as ons in die volgende drie tot vier jaar terugkeer na ’n primêre surplus op die begroting. En dit sal net gebeur as BBP groei en daardie magiese syfer is 3,5%.”

Maar selfs al groei die ekonomie teen 4% per jaar, sal Suid-Afrika se skuldlas steeds hoog bly en op mediumtermyn 82% van BBP beloop.

Die tesourie het in sy Februarie-begroting geraam die verhouding van skuld tot BBP sal vir die 2021-’22-boekjaar 81,9% wees en toeneem tot 87,3% in 2023-’24.

Meer oor:  Staatskuld  |  Begroting2021  |  Begrotingsrede  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.