Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
NGV kry nekslag van tesourie

Die hantering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in Woensdag se mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) wys dat dit in alle waarskynlikheid nie gaan realiseer nie.

In dokumente wat as deel van die MTBR gepubliseer word, sê die tesourie hy gaan volgende jaar ’n hersiening van die NGV se finansieringsmodel doen in die lig van ekonomiese en beleidsverwikkelinge.

Só sê prof. Alex van den Heever, gesondheidsekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy sê die bedrae wat oënskynlik toegeken is aan die NGV is eintlik maar net besteding aan hospitale en nodige dienste in staatshospitale.

“Dít is waar die geld hoort om die openbare gesondheidstelsel te verbeter,” sê hy.

Van den Heever sê dit is ’n pragmatiese besluit en as dit so voortgaan, is dit onwaarskynlik dat iets soos die NGV groot bedrae sal kry om voort te gaan.

“Die NGV is nie ’n pragmatiese plan nie. Hulle wil ’n semi-staatsinstelling stig en geld hê om aan iets te begin bestee. Dit is baie moeilik vir die tesourie om sommer so ’n blanko tjek te gee.”

Van den Heever sê die aanvanklike toewysing van sowat R2 miljard aan die NGV in die nasionale begroting was onvanpas, want daar is geen duidelike bestedingsprogram nie. Dit neem net geld weg van hoëvoorkeur-gesondheidsbehoeftes en skuif dit na gesondheidsbehoeftes met ’n veel laer voorkeur. “Dalk het die idee nou (met die MTBR) deurgesyfer na die tesourie.”

Boonop het Tito Mboweni, minister van finansies, ’n brutaal eerlike opmerking teenoor joernaliste gemaak toe hy gevra is oor die NGV. Hy het gesê dit is in teorie slegs bekostigbaar as die BTW-koers met “so twee persentasiepunte” styg.

Lees ook: Tito sal NGV anders benader

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het met die bekendstelling van die NGV-wetsontwerp in Junie gesê sy departement gaan voort en dit is die tesourie se probleem waar die geld vandaan kom.

Uit die begrotingsraamwerk-dokumente blyk dit of Motsoaledi nog lank kan wag vir finansieringsplanne.

Kleiner bedrae geld vir die praktiese bestuur en implementering is trouens weggevat by die NGV binne die departement van gesondheid se begroting.

Dit is baie moeilik vir die tesourie om sommer so ’n blanko tjek te gee.
Prof. Alex van den Heever

Mboweni het in sy toespraak byna uitsluitlik gefokus op projekte in die openbare gesondheidstelsel wat nie direk met die NGV verband hou nie. Dit sluit in:

  • R166 miljoen van die NGV se indirekte toelae is nou toegewys aan die opknapping van gesondheidsorggeriewe, mediese toerusting en ’n nuwe akademiese hospitaal met 488 beddens in Limpopo;
  • R546 miljoen vir die kritieke tekort aan gesondheidsorgwerkers (R350 miljoen), en om hospitaalbeddens en -linne  te koop.

Al dié bedrae was reeds vir die NGV beplan, maar is nou toegewys.

Te min geld

Russell Rensburg van die Rural Health Advocacy Programme sê die MTBR het belangrike kwessies oor die NGV vermy. Hy meen ook nie die hertoewysings is genoeg om die probleme van die openbare gesondheidstelsel te takel nie.

Al is geld gevind om 2 000 meer gesondheidsorgwerkers te werf, is dit nie naastenby genoeg om die dringende nood in al nege provinsies die hoof te bied nie, sê hy.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid.

Hersiening van finansieringsmodel

In dokumente wat as deel van die MTBR gepubliseer word, sê die tesourie hy gaan volgende jaar ’n hersiening van die NGV se finansieringsmodel doen in die lig van ekonomiese en beleidsverwikkelinge.

Die laaste geraamde koste van R250 miljard teen 2025 word algemeen gekritiseer omdat dit gegrond is op 2010-syfers en op die aanname van ekonomiese groei van sowat 2% per jaar.

Suid-Afrika het baie lank laas teen dié koers gegroei.

Selfs Motsoaledi sê die raming is net ’n raaiskoot omdat niemand weet wat dit gaan kos nie, want Suid-Afrika se NGV-model is nog nêrens ter wêreld gevolg nie.

Die NGV-wetsontwerp maak ook nie voorsiening vir enige aspekte oor finansiering nie.

Kommentaar oor dié wetsontwerp het pas gesluit en byna al die rolspelers wie se kommentaar Rapport onder oë gehad het, spreek kommer oor die finansiering uit.

Dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van die siekefondsadministrateur Discovery Health, sê die finansiering van die NGV sal in die huidige swak ekonomie en met ander fiskale druk op die staatskas in die afsienbare toekoms ’n tameletjie bly.

Kenneth Marion, bedryfshoof van die mediese fonds Bonitas, sê hoewel niemand stry dat ’n omvattende en lewensvatbare gesondheidsorgstelsel nodig is nie, is daar kommer oor hoe die stelsel gesondheidsorg van gehalte gaan verskaf, en hoe dit geadministreer en gefinansier sal word.

Dr. Chris Archer, uitvoerende hoof van die bedryfsliggaam South African Private Practitioners Forum (SAPPF), sê die konsepwet stel net die “kritieke aspek van finansiering” tot ’n later, onbepaalde stadium uit.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ngv  |  Mtbr2018  |  Gesondheidsorg  |  Staatshospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.