Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Nulbegroting: Pyn om vet uit te sny

Die regering se veldtog om besteding te hersien as deel van sy skuif na ’n stelsel van nulbegroting, kan pynlik wees, want dit kan beteken dat sekere bestedingsprogramme gesluit word.

Minibustaxi’s doen omtrent 75% van alle openbare vervoer in Suid-Afrika en verdien byna die helfte van die inkomste, maar kry niks van die subsidies vir openbare vervoer wat die staat aan groot metropolitaanse owerhede gee nie.

Talle lande doen tans dieselfde, en Suid-Afrika is baie gelukkig om toegang te hê tot baie tegniese data om hom hiermee te help, sê Ronette Engela, hoof van staatsbesteding en beleidsontleding by die staat se tegniese adviessentrum (GTAC), ’n afdeling binne die nasionale tesourie.

Beleid word dikwels ontwerp sonder dat gedink word aan die koste of hoe bekostigbaar dit is, het Engela vandeesweek op ’n media-slypskool oor nulbegroting gesê.

Nulbegroting is waar elke bestedingsitem van nuuts af gemotiveer moet word, ongeag wat in die vorige jaar daaraan bestee is. Die tesourie wil dié benadering vanjaar by die tesourie self asook by die departement van openbare ondernemings begin toepas as toetsprojek om dit later regdeur die staat in te bring.

Dikwels is daar onrealistiese verwagtings oor die beskikbare finansiering vir programme wat staatsamptenare wil aanpak, waarsku Engela.

Behuising

’n Voorbeeld is die behuisingsbegroting, waar ’n tipiese basiese Hop-huis (genoem na die aanvanklike heropbou- en ontwikkelingsprogram) R153 000 kos om te bou, maar die staat gee ’n subsidie van net R90 000. Waar dit R60 miljard per jaar gaan kos om die behuisingsagterstand oor 30 jaar uit te wis, begroot die staat tans egter net R15 miljard per jaar daarvoor.

“Iemand in Pretoria besluit op iets en gee dit dan aan die provinsies om in werking te stel, sonder om behoorlik te verstaan hoeveel dit gaan kos,” het Engela gesê oor byvoorbeeld ’n program om onderwysers op te lei.

Openbare vervoer

Nog ’n voorbeeld van besteding waar die volle lewensiklus-koste nie ten volle verstaan word nie, is met openbare vervoer, sê Engela. Die staat gee subsidies van R10,2 miljard per jaar vir openbare vervoer aan die vyf groot metro’s, maar die informele taxibedryf wat byna die helfte van alle winste uit openbare vervoer genereer, kry niks van dié geld nie.

As die taxibedryf geformaliseer word, het dit egter enorme koste-implikasies.

Kantoorhuur

Engela het ook die reeds bekende geval genoem waar die staat in meer as 60% van sy huurkontrakte vir kantoorruimte om een of ander rede 45% meer huurgeld as die heersende markkoerse betaal. Teen 2014 is sowat R1,9 miljard bestee aan kantoorhuur, maar dit is nou nog nie duidelik hoekom die staat nie iets kan doen om markverwante kantoorhuur te betaal nie.

Oor hoe om met behulp van hersienings en nulbegroting koste te sny, meen Engela die vet om te sny uit die huidige begroting is nie een groot stuk nie, “dis soos Japanse vet, dis klomp stukke fyner vet, en ’n mens wil nie aan die spiere sny nie, net die vet”.

Soortgelyk aan buitensporige kantoorhuur, betaal die staat ook meer as marktariewe vir inligtings- en kommunikasietegnologie, volgens Engela.

Dan het staatsdienssalarisse tussen 2006 en 2019 meer as verdriedubbel. As inflasie uitgesny word, was die verhogings 70% oor dié tydperk.

Skryfbehoeftes

As nog ’n voorbeeld van vet wat gesny kan word, kla Engela intussen sy word deur staatsreëls gedwing om slegs sekere verskaffers te gebruik as sy skryfbehoeftes moet koop, terwyl sy dieselfde skryfbehoeftes veel goedkoper by Makro kan koop. Die verskaffers vra egter tussen 30% en 80% meer as markverwante koerse.

Meer oor:  Staatskas  |  Begroting  |  Besteding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.