Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Nulbegroting ‘sal nie eensklaps help spaar’

Die nasionale tesourie is nie onder enige illusie dat nulbegroting onmiddellike besparings sal meebring nie.

Dr. Mampho Modise, adjujnkdirekteur-generaal van die nasionale tesourie. Foto: Twitter

Dr. Mampho Modise, adjunkdirekteur-generaal van die tesourie, het Dinsdag verduidelik die eerste besparings sal eers teen die tweede of derde jaar behaal word.

Sy het op ’n werksessie met die media oor nulbegroting verduidelik hoekom daar besluit is om van vanjaar af eers net die proses by die nasionale tesourie en by die departement van openbare ondernemings toe te pas.

Dit is omdat dit twee relatief klein staatsdepartemente is waar die tandekry-probleme van nulbegroting eers opgelos kan word voordat dit regdeur die staatsdiens toegepas word.

Dit sal vinniger by dié twee departemente ingestel kan word. Hoewel daar wel klein besparings kan wees, sal dit steeds wesenlik wees, want alle staatsdepartemente se begrotings moet gesny word proporsioneel tot hul aandeel in die totale begroting.

Lidlande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) – die groep van 37 meestal demokratiese vryemarkekonomieë – is geraadpleeg vir gevallestudies oor hoe nulbegrotings werk, het Mampo gesê.

Van die voordele van nulbegroting wat hieruit geblyk het, sluit in:

  • Daar is groter betrokkenheid by bestuurders deur al die fases van die begrotingsproses;
  • Inligting word doeltreffender versprei;
  • Vermorsing word aangepak;
  • Hulpbronne word op ’n meer rasionele grondslag toegeken; en
  • Daar is meer buigsaamheid.

Van die probleme wat uitgewys is, sluit in:

  • Dit kan te veel tyd en papierwerk verg;
  • Die oorbrugging van die gaping tussen teorie en praktyk is nie maklik nie;
  • Sommige individue in die stelsel bied weerstand teen verandering;
  • Daar is min bewyse dat nulbegroting die begrotingsproses verbeter het; en
  • Daar is min bewyse dat nulbegroting tot groot kostebesparings of bestedingsnoeiings gelei het.

Oor vrae dat nulbegroting dan nie tot groot besparings gelei het waar dit toegepas is nie, het Modise gesê dit is waar suiwer nulbegroting toegepas is, terwyl die advies aan die tesourie is om dit vir plaaslike omstandighede aan te pas.

Die tesourie probeer al sedert 1997 die begrotingsproses hervorm. Dit het begin met die instel van die mediumtermynbegrotingsraamwerk, en met pogings om die begroting aan prestasie te koppel. Die nulbegroting is deel van die tesourie se volgehoue proses om te hervorm.

Maar sedert die internasionale geldkrisis van 2008-’09 het die regering nooit meer inkomste as uitgawes gehad nie, en tesame met die pandemie moet die tesourie oor die volgende drie jaar besteding met R300 miljard sny.

In die verlede is besnoeiings bloot deur die bank oor alle departemente en programme versprei, maar met nulbegroting is die idee om besteding slimmer te sny sodat dienslewering nie negatief geraak word nie, het Modise verduidelik.

Wat is nulbegroting?

Nulbegroting is ’n metode van begroting waarin alle uitgawes van nuuts af vir elke nuwe bestedingstydperk gemotiveer en geregverdig word. Die proses begin dus van ’n nulgrondslag af en elke funksie binne ’n organisasie word vir behoeftes en koste ontleed. Die begroting word dan daarop gebou, ongeag of dit hoër of laer as die vorige jaar se begroting is. – Investopedia

Die tesourie het die politieke steun van die kabinet om met nulbegroting voort te gaan, het sy bevestig.

Volgens Modise was die Oeso-lande se advies dat die tesourie duidelik moet wees oor hoekom hy nulbegroting wil gebruik. Is dit as reaksie op ’n fiskale krisis, ’n periodieke hersiening van bedrywighede en begrotings of ’n ontleding van die hele regering? Is daar ’n volgehoue verbintenis van leiers? Is daar genoeg tyd om almal betrokke te kry?

Sy het toegegee dit sal ’n uitgebreide en tydrowende proses wees om nulbegroting toe te pas, en dit kan die huidige begrotingsproses nog ingewikkelder maak as wat dit reeds is. Die huidige bestedingshersienings wat in alle departemente gedoen word, moet deur die beginsels van nulbegroting gevorm word, is voorgestel.

Die riglyn sal wees om eers na groot programme te kyk. Die samestelling van besteding moet hersien word, byvoorbeeld salarisse moenie die meeste van ’n program se begroting opvreet nie.

Plekke waar gesny kan word, sluit in waar daar oor die afgelope drie boekjare volgehoue onderbesteding of ’n oorskot was of waar ’n program nie meer by die mandaat van die betrokke departement inpas nie.

Volgens Modise sal die proses op politieke vlak begin by die kabinet, waar beleidsprioriteite gerangskik moet word volgens die mediumtermyn- strategiese raamwerk, asook volgens die regerende politieke party (die ANC) se beleid. Die parlement en Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) sal ook betrek word, met die tesourie wat die kampvegter vir die proses sal wees en wat bestedingsplafonne aan die kabinet sal aanbeveel.

Meer oor:  Staatskas  |  Begroting  |  Besteding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.