Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Nuus oor belasting eers in 2021

Suid-Afrikaanse salaristrekkers en maatskappye sal nog tot Februarie 2021 moet wag om te hoor hoe die regering meer belasting uit hulle gaan tap.

belasting, mtbr2020
In 2021-’22 wil die regering R5 miljard se “nuwe” belasting invorder, ’n syfer wat ook in Junie se aanvullende begroting genoem is. Foto: Unsplash

Die tesourie verwys in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) steeds net na “ongespesifiseerde belastingbeleidsmaatreëls”. Dit gaan eers in die Februarie-begroting bekend gemaak word.

Met dié maatreëls wil die regering oor die volgende drie jaar R25 miljard meer invorder, wat dan R46,5 miljard méér in die staatskas sal laat beland (sien so hieronder).

Daar is nêrens enige skimp oor hoe dit behaal gaan word nie en amptenare van die tesourie kon ook nie daaroor uitgelok word nie. Christopher Axelson het aan Netwerk24 gesê “enige en alle moontlikhede” word oorweeg.

Verskeie ontleders reken nou al ’n paar jaar dat ’n welvaartbelasting Suid-Afrika se voorland is, en daar was selfs al voorstelle van ’n “solidariteitsheffing”. Ander voorstelle sluit in die wegval van subsidies of kortings.

Die “nuwe” belastings is bo en behalwe die verwagte groei in belastinginkomste danksy onder meer verhogings en groter wins (wat inkomstebelasting sal laat styg) of hoër besteding (dus onder meer ’n styging in belasting op toegevoegde waarde en aksyns).

Die som vir die “nuwe” belastings lyk só:

In 2021-’22 wil die regering R5 miljard se “nuwe” belasting invorder, ’n syfer wat ook in Junie se aanvullende begroting genoem is.

Dié R5 miljard, met groei, gaan dan die volgende jaar, 2022-’23, aangevul word met nog nagenoeg R10 miljard se nuwe belastings, vir ’n totaal van nagenoeg R15,3 miljard.

In die jaar daarna, 2022-’23, groei die R15,3 miljard en dit word deur R10 miljard se nuwe belastings aangevul, waardeur R26,2 miljard ingevorder word.

Belastinginkomste daal skerp

Die tesourie raam dat R312,8 miljard minder belasting vanjaar ingevorder gaan word as wat in Februarie begroot is. Dis onder meer omdat soveel mense hul werk verloor het of minder inkomste verdien en omdat ondernemings se wins onder druk gekom het.

Die tesourie raam dat belastinginkomste teen die einde van die driejaartydperk, waaroor die MTBR handel, tot baie na aan R1 500 miljard gaan styg, oftewel 24,9% van die verwagte bruto binnelandse produk (BBP).

Dis in pas met vorige jare – in 2017-’18 was dit 25,5%, in 2018-’19 25,9% en in 2019-’20 26,1%.

Die syfer gaan egter na verwagting in die lopende belastingjaar, van 2020-’21, tot 22,6% weens die ekonomiese inkrimping val. Die tesourie se verwagting vir ekonomiese groei vanjaar is nou -7,8%, teenoor -7,2% in Junie.

Rol van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens

Die tesourie sê ’n belangrike element om fiskale konsolidasie te bereik is deur beter belastinginvordering deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), wat ná jare se wanbestuur onder Tom Moyane, die vorige kommissaris, sy vermoë onder Edward Kieswetter, die nuwe kommissaris, herbou.

Enige styging in belastinginkomste danksy meer doeltreffende invordering is egter nie deel van die R25 miljard se “nuwe” belastings nie.

Die bevindings van ’n studie oor die “belastinggaping” – die verskil tussen hoeveel belasting ingevorder behoort te word en hoeveel wel ingevorder word – word teen Desember verwag.

Die tesourie noem weer dat aggressief gefokus gaan word op sogenaamde prysoordrag, die praktyk waardeur internasionale maatskappye deur ingewikkelde interafdeling-boekhouding wins wat plaaslik gemaak is na lande met laer belastingkoerse “verskuif”.

Die SAID se veldtog teen bedrog en nie-voldoening gaan ook voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.