Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
OBK kry dalk Eskom-aandele: Winskopie of verlies?

As die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) van sy effekte in Eskom omskakel na ekwiteit, kan dit óf die beste winskopie tot nog toe wees, of die vinnigste verlies.

Eskom-aandele gaan bes moontlik op die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) se boeke kom.

So meen Ted Blom, ’n kragkonsultant wat vroeër by Eskom gewerk het, oor die opsies wat tussen die nasionale tesourie, Eskom en die OBK bespreek word om aan Eskom ’n strategiese aandelevennoot te gee.

Dit sal by implikasie staatsamptenare en afgetrede staatsamptenare wees wat dan ’n belang in Eskom besit, want meer as 80% van die OBK se bates bestuur hy namens die staatspensioenfonds (GEPF).

Die tesourie, Eskom en die OBK het nog nie op navrae gereageer oor wanneer ’n finale besluit oor ’n moontlike omskep van skuld in ekwiteit geneem sal word nie.

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies en voorsitter van die OBK, het Woensdag op ’n mediakonferensie voor die begrotingsrede genoem een van die opsies wat tussen Eskom en die OBK bespreek word, is dat sowat R10 miljard van die Eskom-effekte wat die OBK besit in ’n aandeelhouding omskep word.

Dit beteken die skuld kom dan van Eskom se boeke af, en die OBK word in effek ’n aandeelhouer saam met die staat in Eskom.

Adamus Stemmet van die Vereniging vir die Monitering en Voorspraak van Staatspensioene (AMAGP) sê die vereniging is sterk gekant deur dié “misbruik van geld deur die OBK en die regering wat aan werkers en pensioenarisse behoort”.

Albert van Driel, ondervoorsitter van AMAGP, het voor die Mpati-kommissie van ondersoek na die OBK vroeër gesê so ’n opsie is net nog ’n manier waarop die regering geld van die GEPF vir eie doeleindes misbruik. “Watter opbrengs kan aandele in ’n bankrot Eskom met sy skuld van meer as R420 miljard hê?” het Stemmet gevra.

Blom waarsku dat Eskom vir die volgende drie jaar en langer steeds yslike verliese verwag. Hy is nie oortuig die Eskom-direksie het ’n werkbare omdraaiplan nie.

As Eskom dus nie reggeruk kan word nie, sal dit nie vir die OBK en sy kliënte ’n goeie belegging wees nie.

Ted Blom, konsultant van Mining & Energy Advisors.

Dit kan egter ook ’n goeie ding wees dat Mboweni Eskom nou dwing om sekere herskikkings te doen, want die R69 miljard oor drie jaar wat aan Eskom beloof is, is gekoppel aan streng voorwaardes.

Dis nie duidelik wat die posbeskrywing van die nuwe herskikkingshoof (CRO) gaan wees wat by Eskom aangestel moet word wat toesig moet hou oor Eskom se verdeling in drie entiteite nie. Blom sê hy hoor die vakbonde noem dit ’n “Cyril Ramaphosa officer”, met verwysing na die vakbonde se skerp kritiek teen enige planne van pres. Cyril Ramaphosa om Eskom te verdeel as dit tot werkverliese en privatisering lei.

Die nuwe transmissiemaatskappy wat as filiaal met sy eie direksie binne Eskom gevorm moet word, sal saam met al Eskom se bestaande transmissienetwerke, beheersentrum en substasies ook al die spitstydkragsentrales oorneem.

Blom verduidelik dit is omdat dié transmissiemaatskappy die naaste gaan wees aan kragvraag, en die vinnigste moet kan optree om beurtkrag te vermy. Hy moet dus beheer hê oor die noodkragsentrales.

Meer oor:  Gepf  |  Obk  |  Eskom  |  Ted Blom  |  Tito Mboweni  |  Staatsamptenare  |  Begroting 2019  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.