Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Oop hande, maar hulle is leeg, sê staat oor lone

“Ons kom met oop hande, maar dis ongelukkig leë hande,” het adv. Jeremy Gauntlett, namens die minister van finansies, Woensdag die staat se saak in die arbeidsappèlhof opgesom.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Gallo Images

Hy meen die nasionale tesourie kan nie toekyk hoe 60% van die staat se inkomste aan net 2% van die land se bevolking bestee word nie. Dis met verwysing na vakbonde se aandrang dat die regering hom hou by vanjaar se verhoging van staatsdienssalarisse in die laaste jaar van ’n driejarige loonooreenkoms.

Gauntlett het ontken dat die staat nie gepoog het om wel ’n skikking met vakbonde te bereik nie.

Dit blyk ’n bedrag van R13,5 miljard is aangebied om vanjaar se verhogings gedeeltelik toe te staan, maar die vakbonde het dit verwerp.

Adv. Tim Bruinders, namens die minister van staatsdiens en administrasie, het verduidelik die driejarige loonooreenkoms is in 2018 goedgekeur op voorwaarde dat die bestedingsplafon van R110 miljard oor die drie jaar nie oorskry word nie. Om by die R110 miljard te kon hou, moes die staat kostebesnoeiings instel, en die vakbonde het daarteen geskop.

Vanjaar se verhogings sou die staat R37,8 miljard ekstra gekos het, maar dan sou die perk van R110 miljard oorskry word.

Volgens Bruinders het Malusi Gigaba, destyds minister van finansies, al in Februarie 2018 gewaarsku dat die loonooreenkoms nie bekostigbaar is as die nodige kostebesnoeiings, wat vrywillige uittreepakkette en die sny van tot 19?000 poste insluit, nie deurgevoer word nie.

Nhlanhla Nene, wat Gigaba daardie jaar opgevolg het, het in Julie 2018 gewaarsku die staat sou 20 000 poste moes sny tussen dan en die afgelope boekjaar as hy die loonooreenkoms wou bekostig.

Maar die twee huidige ministers se advokate weerspreek mekaar oor die geldigheid van die loonooreenkoms, het die regsverteenwoordigers van die vakbonde aangevoer. Volgens hulle voer Gauntlett namens die tesourie aan dat die ooreenkoms uit die staanspoor nie voldoen het aan regulasies van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies nie, terwyl Bruinders aanvoer dit is eers vanjaar, toe dit tyd geword het om die derde jaarverhoging in werking te stel, dat ontdek is dat die bestedingsperk oorskry sal word.

Die saak het gedien voor regters Violet Phatshoane, Dennis Davis en Phillip Coppin.

Coppin wou by Bruinders weet hoekom die staat nie die nodige kostebesnoeiings as voorwaardes in die loonooreenkoms ingesluit het nie. Volgens Bruinders het die staat probeer om dit te doen, maar die vakbonde was nie daarvoor te vinde nie.

Adv. Chris Orr het namens die Vereniging vir Staatsamptenare (PSA) en ’n paar onderwysersvakbonde aangevoer ’n kenner van die tesourie het self toegegee die staat kan wel vanjaar se verhoging bekostig, maar net as 60 000 staatsdiensposte gesny word.

Adv. Ngwako Maenetje, namens die vakbonde Popcru, Denosa en Sapu, wat verpleegpersoneel, polisiebeamptes en werkers van die departement van korrektiewe dienste verteenwoordig, het gesê die hof moenie toelaat dat die staat bloot wegloop van sy ooreenkoms met vakbonde nie.

Adv. William Mokhare, namens die gesondheidswerkersvakbond Nehawu, het gesê die staat moet oop kaarte speel. Hy moet sê of hy glo die loonooreenkoms is onwettig en of hy bloot nie geld het nie.

Volgens Mokhare het die departement van staatsdiens en administrasie tot so onlangs as 20 April vanjaar nog aan vakbonde belowe die staat as werkgewer is ten volle verbind tot die ooreenkoms van 2018, maar dat hy wel probleme ondervind om dit toe te pas. Hy meen dis ’n skielike verandering in aanslag van die staat om nou te meen die ooreenkoms was onwettig.

As daar nie geld is nie, moet die staat met die vakbonde onderhandel oor hoe die ooreenkoms in byvoorbeeld drie fases oor drie tot vyf jaar in werking gestel kan word. “Almal weet die Covid-19-pandemie het die hele wêreld geraak. Almal weet korrupsie het die staatskas weggekalwe. Almal weet die ekonomie en die fiskus presteer nie.

“Dis nie net Covid-19 nie, Covid-19 was net die laaste spyker in die doodskis,” het Mokhare gesê.

Adv. Boyce Mkhize, namens die staatsdienswerkersvakbond Nupsaw, het aangevoer die staat was veronderstel om via die kabinet te sorg dat die ooreenkoms aan die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies voldoen.

“Die staat kan nie nou onwettigheid aanvoer as ontsnappingsklousule uit die ooreenkoms as hy self die oorsaak van die onwettigheid was nie.”

Volgens Gauntlett is die minister van finansies in ’n ander posisie as sy kollegas; hy moet die staatskas beskerm. “Hy is die een wat kug en sy rojaal bestedende kollegas op die skouers moet tik.”

Phatshoane het as voorsittende regter gesê uitspraak word voorbehou.

Meer oor:  Vakbonde  |  Salarisse  |  Staatsdienslone  |  Loonooreenkoms  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.