Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Oorlog! Vakbonde eis Mchunu se kop

’n “Oorlog” tussen vakbonde en die regering is nou “onafwendbaar” reken vakbonde wat nou eis dat Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, moet uittree.

Die vakbond Nehawu is gereed vir ‘oorlog’ met die staat. Foto: Getty Images

Die vakbond Nehawu, ’n vennoot van die vakverbond Cosatu, sê hy is besig om te mobiliseer vir ’n massastaking wat die land gaan lamlê en die regering en dienslewering verwoes.

Nehawu is veral boos oor Mchunu se beroep op die land Maandag vir raad oor hoe om die twis tussen staatsamptenare en die staat op te los.

“Die minister se verklaring poog weer om die publiek teen vakbonde te draai deur te suggereer dat werkers onredelik is deur ’n leefbare loon te eis,” sê die vakbond Dinsdag in ’n verklaring.

“Weer doen ons ’n beroep op die minister om van hierdie lawwe foefie af te sien asof staatsamptenare nie lede van die publiek is wat hard werk om vir hul gesinne te sorg nie.”

Die staat en vakbonde is nou al geruime tyd verwikkel in ’n bitter stryd oor staatsamptenare se verhogings vir die jaar.

Die staat het ’n 0%-verhoging vir die tweede jaar in ’n ry aangebied, maar vakbonde eis 7,2%.

Amptelike onderhandelinge het Vrydag by die bedingingsraad PSCBC ’n dooiepunt bereik, en vakbonde reken die proses het nou misluk omdat die staat nie met ’n “respekvolle” aanbod na die tafel wil kom nie.

Mchunu was Maandag desperaat vir ’n oplossing toe hy die land as geheel genader het vir moontlike ingrypings aangesien hy self sit met die tesourie wat hom bevele gee dat verhogings nie bekostigbaar is nie, en die regering aan die ander kant wat sê ’n massastaking moet ten alle koste afgeweer word.

Daar is 1,2 miljoen staatsamptenare in die land. Met Cosatu wat Maandag aangedui het hy gaan al sy vennote mobiliseer vir ’n massastaking, kan dienslewering in die land werklik in die wiele gery word as die onderhandelinge nie hervat word nie.

Ons (is) steeds van mening dat ’n oorlog tussen die regering en staatsamptenare onvermydelik is en dat ons op die punt staan om koppe te stamp.
Nehawu

“Dit verbaas ons dat die minister nou onskuldige lede van die publiek wil betrek om die gemors wat deur die regering geskep is, op te ruim,” sê Nehawu.

“As die minister van mening is dat hy sy verantwoordelikhede aan die publiek moet uitkontrakteer, moet pres. Cyril Ramaphosa hom van sy pligte onthef.”

Die vakbond sê sy lede sal aan ’n lewe van “armoede” blootgestel word as hulle nie verhogings kry vanjaar nie.

Salarisse het die staat in die 2020-’21-boekjaar 47c gekos uit elke rand belasting wat hy ingevorder het. In die vorige boekjaar was dit nog 41c uit elke rand.

Suid-Afrika het een van die duurste staatsdienste ter wêreld – as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) bestee Suid-Afrika 14,8% aan sy loonrekening vir staatsamptenare, wat hom ’n eweknie van lande soos Denemarke en Noorweë maak.

Dit is bykans vyf persentasiepunte hoër as die gemiddelde vir lidlande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso).

Maar Nehawu verwys na die huidige aanbod van die staat as niks meer as lone vir “slawe” nie.

Nehawu sê ook dat die regering die een is wat geld mors en dat verkwistende besteding, wat deurgaans begrotings oorlaai, sou kon betaal vir salarisverhogings.

“Nehawu sal nie die departement van staatsdiens en administrasie en die nasionale tesourie toelaat om werkers as sondebokke te gebruik vir probleme in die fiskus nie.

“Werkers kan nie meer gestraf word vir sondes wat nie deur hulle gepleeg is nie. Die minister moet die publiek vertel hoeveel geld die regering verloor het deur verkwistende en vrugtelose uitgawes in alle regeringsvlakke. Hy moet die publiek toespreek oor die manier waarop die staatsondernemings geld gemors het wat bedoel is vir dienslewering en die verbetering van die lewe van alle Suid-Afrikaners.

“Soos verlede week aangedui, is ons steeds van mening dat ’n oorlog tussen die regering en staatsamptenare onvermydelik is en dat ons op die punt staan om koppe te stamp. Die regering het bo redelike twyfel bewys dat hy geen aptyt het om die huidige dooiepunt vriendelik op te los nie en as Nehawu glo ons dat ons oplossing vorentoe is om al ons lede te mobiliseer vir ’n volslae staking wat die regering onregeerbaar sal maak en ongelukkig alle dienslewering sal onderbreek.”

Meer oor:  Nehawu  |  Salaristwis  |  Dienslewering  |  Staking  |  Begroting  |  Loononderhandelinge  |  Staatsamptenare  |  Vakbonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.