Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Philip Morris bly sy produk minder belas as sigarette

Philip Morris sê Donderdag in ’n verklaring hy is verheug dat die staat besluit het om verhitte tabakprodukte met minder as gewone sigarette te belas.

Die iQos tabakverhittingsproduk is ’n alternatief tot gewone sigarette wat deur die vervaardiger van Marlboro-sigarette, Philip Morris, bekendgestel is. Foto: Getty Images

Sy iQos-produk bevat minder tabak as gewone sigarette. Die tabak word ook verhit eerder as verbrand. ’n Tipe rook word in die proses vrygestel, maar verskil van gewone sigaretrook, beweer die maatskappy.

Philip Morris beskou dit is ’n gesonder alternatief vir gewone sigarette en hy beoog om op mediumtermyn meer op die vervaardiging van sulke tipe produkte te fokus namate verkope van tradisionele sigarette afneem.

Anders as gewone sigarette was verhitte tabakprodukte tot nou toe nie onderhewig aan belasting nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag in sy begrotingsrede ’n stokkie daarvoor gesteek en aangekondig dat hierdie tipe produkte voortaan ook belas gaan word, maar teen ’n koers van 75% van gewone sigarette.

Die totale aksyns op ’n pakkie van 20 verhitte tabakprodukte is R13,05 teenoor die aksyns van R17,40 op ’n pakkie gewone sigarette.

Dié belasting op verhitte tabakprodukte geld onmiddellik.

Die tesourie maak ook daarvoor voorsiening om e-sigarette teen 2021 te belas. Hierdie produkte, wat nie tabak nie maar wel nikotien bevat, is tans nie onderhewig aan enige aksyns nie.

Philip Morris sê hy is verheug dat Mboweni en sy span ’n onderskeid tref tussen verhitte tabakprodukte en tradisionele sigarette.

“Deur die onderskeid te tref, erken Mboweni en sy span die rol wat belasting kan speel om volwasse rokers aan te moedig om oor te skakel na minder skadelike tabakprodukte,” sê Marcelo Nico, besturende direkteur van Philip Morris in Suid-Afrika.

Die maatskappy voer dus aan dat die nuwe aksynsstruktuur die gesondheid van die bevolking sal bevorder. Dit ondersteun wel ook sy beleggingsplan, want Philip Morris beplan om vanjaar R650 miljoen te belê in sy verhitte tabakprodukte namate hy toenemend wegbeweeg van gewone sigarette.

Meer oor:  Sondebelasting  |  Begroting2020  |  Rook  |  Sigarette  |  Tabak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.