Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
Politiek kan Tito se planne kelder – Fitch, Moody’s

Dit lyk goed en wel op papier, maar in die praktyk gaan dit nie so maklik wees om Tito Mboweni, minister van finansies, se planne vir die vermindering van staatskuld en staatsbesteding uit te voer nie.

Fitch Ratings het Suid-Afrika in November 2020 afgegradeer en nog ’n afgradering dreig.

So reken sowel Fitch Ratings as Moody’s Investors Service, twee van die wêreld se drie grootste kredietgradeerders, na aanleiding van die begroting wat Mboweni Woensdag ter tafel gelê het.

Albei skryf in hul ontleding daarvan dat hulle twyfel of skuldkonsolidasie so vinnig behaal gaan word as wat die tesourie nou voorspel.

Mahmoud Harb, Fitch se direkteur van soewereine graderings vir die Midde-Ooste en Afrika, skryf dat die begroting ’n verbetering in die fiskale trajek relatief tot Fitch se voorspellings weerspieël, maar “ernstige uitdagings” kan die staat se vermoë om konsolidasie deur te voer in die wiele ry.

Staatskuld word by al drie die kredietgradeerders, ook Standard & Poor’s Global Ratings, op twee tot drie vlakke onder beleggingsgraad gegradeer, met ’n negatiewe vooruitsig by Fitch en Moody’s. Suid-Afrika loop dus vanjaar die risiko van verdere afgraderings, met die eerste graderingsbesluite reeds in April.

Fitch wys daarop dat die regering skuld teen 2026 op 89% van die bruto binnelandse produk (BBP) wil stabiliseer, teenoor die 95% wat in Oktober geraam is en teen 2025 ’n primêre begrotingsoorskot (dus voordat rente op skuld betaal moet word) wil behaal. Dit wentel egter om die uitfasering van pandemieverwante besteding en die verlaging van die staat se salarisrekening.

Die besnoeiings moet nagenoeg 2% van die BBP voor die pandemie beloop.

“Ons glo besnoeiings op dié skaal sal moeilik wees om te bereik en ons handhaaf daarom meer konserwatiewe aannames oor die pas van fiskale konsolidasie as die regering.”

Fitch beskou die salarisvraagstuk as “polities uitdagend”. “Die kleiner as verwagte begrotingstekort in die lopende boekjaar gee die vakbonde dalk stukrag om druk op die regering te plaas oor sy posisie oor salarisse,” sê Harb.

Die politieke kalender sal ook die regering se onderhandelingsposisie verswak. Plaaslike verkiesings word later in 2021 gehou en spanning met sy vakbonde kan die regerende party se prestasie by die stembus beïnvloed.
Fitch Ratings

“Die politieke kalender sal ook die regering se onderhandelingsposisie verswak. Plaaslike verkiesings word later in 2021 gehou en spanning met sy vakbonde kan die regerende party se prestasie by die stembus beïnvloed. Voortslepende konflik in die ANC, veral oor bestuursprobleme, is nou op ’n kritieke punt en kan ook die regering se onderhandelingsposisie verswak.”

Dis bes moontlik ’n verwysing na die stryd binne die ANC se nasionale uitvoerende komitee oor Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en sekretaris-generaal van die party, wat in Bloemfontein van bedrog aangekla is.

Ander probleme met fiskale konsolidasie wat Fitch identifiseer, is “strukturele bottelnekke” wat ekonomiese groei kan kniehalter. Fitch is wel meer optimisties oor groei as die tesourie, met ’n verwagting van 3,6% vir 2021 teenoor die tesourie se 3,3%.

soos begin 2021
Suid-Afrika se kredietgraderings soos dit tans daar uitsien.

“Swak groei sal owerhede se pogings bemoeilik om die begrotingstekort te verminder en om terselfdertyd buitengewoon hoë maatskaplike ongelykheid en werkloosheid aan te pak.”

Fitch en Moody’s is albei bekommerd dat staatsondernemings soos Eskom nog reddingsboeie van die staat gaan benodig, hoewel geen nuwe hulp in die begroting toegeken is nie.

Lucie Villa, visepresident van Moody’s en hoofontleder oor Suid-Afrika, beaam dat sy bekommerd is oor die pas van ekonomiese herstel, die verwagte koste van rente op skuld en steun aan staatsondernemings.

“Hoewel ons ook ons voorspellings oor die begrotingstekort aangepas het, verwag ons steeds ’n traer pas van fiskale konsolidasie en wyer tekorte as die regering.”

Moody’s verwag dat die regering meer aan salarisse en rente gaan bestee as wat hy in sy begroting raam. Hy verwag ook dat staatskuld in 2024 tot 100% van die BBP sal styg.

Villa waarsku dat die pandemie groot onsekerheid skep. Nuwe variante en trae inentings kan boonop verdere probleme veroorsaak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.